Christelle van Tonder
Christelle van Tonder, radio aanbieder by RSG is onder andere bekend vir haar Kinderhoekie program van Maandae to Saterdae op die stasie, asook die musiekprogram OPPIRADIO.
Met haar graad in drama en rolprentwese wat sy aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) in Pretoria verwerf het en haar graad in onderwys by Tukkies, het sy het haar staal in ‘n paar verskillende dissiplines gewys.
ShowMe Pretoria het met Christelle gesels oor haar veelsydige belangstellings en talente, sowel die diep spore wat Pretoria in haar hart gelos het.
Watter 3 woorde sou jy gebruik om Pretoria te beskryf?
Kultuur ryk, geheime skatte, beeldskoon!
Wat mis jy die meeste van jou studente dae in Pretoria?
My studente dae was deurmekaar as ek nou daaraan terug kyk, maar in die oomblik het alles sin gemaak soos vir elke student. Niks wat jy doen maak sin nie, veral nie die besluite wat jy maak nie, en dit was so aanvaar. Ek sien studente as ‘n spesie wat niemand behalwe hulle self verstaan nie en jy kan ook nie eintlik verantwoordelik gehou word vir enige besluite wat jy in daardie 4-5 jaar maak nie. Dit is wat ek die meeste mis. Die vryheid en sorgvrye lewe. Niks het saak gemaak nie, net jou middagslapie.
Vertel ons meer van jou betrokkenheid by RSG?
Ek is baie bevoreg om ‘n klomp verskillende verantwoordelikhede te hê by RSG. Ek stel die een kinderprogram saam genaamd Kinderhoekie wat Maandae tot Saterdae aande uitgaan. Ek voer algemene onderhoude met enige iemand wat ‘n storie het: van vryval tot ‘n meneer wat ‘n miljoen bome wil plant.
Elke Vrydagaand van 18:00 – 00:00 is ek die stasie anker, waar ek ‘n muisiek program het genaamd OPPIRADIO, waar ek met plaaslike kunstenaars gesels oor kwessies in die bedryf en plaaslike musiek speel van kommersieël tot folk musiek. Die skof is lank en het verskillende aspekte soos ‘n uur se DJ tot ‘n uur se inbel program waar luisteraars kan inbel en hulle geliefdes soek met wie hulle kontak verloor het. Die program se naam is SOEKHOEK. Ek doen ook elke 2de Sondag die 10:00 tot 14:00 kontinuiteit skof.
Dan is ek bitter bevoreg om een van die omroepers by die stasie te wees wat dokumentêre maak. Dit is vir my een van die lekkerste en bevreedigende uitdagings om ‘n klank dokkie aanmekaar te sit. Dit is teater vir die blindes. Die moontlikhede is eindeloos. Ek het al reeds 5 gemaak en is besig met nog 2 vir die komende jaar.
Wie is jou gunsteling plaaslike kunstenaar?
Daar is soveel ongelooflike plaaslike talent, dit is vir my baie moeilik om te kies. Bittereinder, The Black Cat Bones, Anna Davel, Dan Platlansky en Goldfish is op die stadium die kunstenaars wat ek gereeld na luister.
Jy het ook ‘n sterk drama-agtergrond, is jy tans besig met enige produksies?
Ek mis die teater ongelooflik baie, maar gelukkig met radio is enige iets moontlik. Ek is betrokke by ons “Op die Lug” kunstefees en ek speel so dan en wan in ‘n radio drama of kinder produksie. Radio is my teater.
As jy nie op die lug is nie, waarmee hou jy jouself besig?
Ek oefen baie graag. So wanneer ek nie op kantoor is of in die ateljee is nie, is ek by die crossfit boks. Ek het ook ‘n ongelooflike groep vriende saam met wie ek graag om die kombuis tafel sit en klets tot die oggend son op kom en dan skilder ek ook portrette.
Wat dink jy is “a must-see” toeriste attraksie in Pretoria?
Pretoria het ongelooflike toeriste attraksies en ek het baie besoek as student. Dalk nie jou algemene attraksies nie maar ek het dit vreeslik geniet. Die Paul Kruger huis en sy graf was ‘n hoogtepunt, die Voortrekker Monument natuurlik, en ‘n sjokolade melkskommel terwyl die son sak by die Pretoria Uniegeboue. Ek het vir baie lank in Arcadia gewoon so ek dink regtig die middestad is ook ‘n belewenis.
As jy ‘n radio persoonlikheid kon wees enige plek in die werêld, waar sou jy dit wou doen en hoekom?
Ek wil baie graag eendag wanneer ek groot is in New York bly. Dit is op my “to-do” lysie. So om daar te bly en daar te werk as radio omroeper sal ‘n ongelooflike ervaring wees.
Watter boek lê tans op jou bedkassie?
“Goeie more, meneer Mandela” deur Zelda Le Grange.
Het jy enige advies vir jongmense wat belangstel in die radio werk as ‘n beroep?
Daar is altyd ‘n geleentheid om te leer en iewers te begin. Wees bereid om onder te begin, vir min tot geen betaling te werk nie, nederig te bly en te weet dat elke liewe dag in die bedryf is ‘n avontuur. Radio het oneindige geleenthede, sien hulle raak en gryp hulle aan.