Babette Labuschagne is terug met Oorwinning
Die vrystelling van 35-Jarige sanger van Pretoria, Babette Labuschagne, se nuwe Engelse album Unbreasted is vir haar ’n viering van haar oorwinning oor borskanker.
Haar tweede snit vanaf die album “Falling” is onlangs op YouTube en alle digitale platforms vrygestel. Die vrystelling volg kort op die hakke van haar eerste suksesvolle enkelsnit “Invincible”.
“Ek lewe met ’n nuwe doel en roeping nadat ek kanker oorkom het. Ek wil lirieke skryf en inligting aangee wat vroue uitdaag om hul ideale uit te leef.”
Haar ateljee-opnames was vir Labuschagne deel van haar oorwinning asook die Potgooi-reeks oor vroue se gesondheid wat sy saam met ’n ginekoloog op radiostasie OFM aanbied en aanlyn uitgesaai word.
Sy sing reeds vanaf tienjarige ouderdom. Tydens haar skoolloopbaan op Hoërskool Centurion was sy ook bekend vir haar sielvolle vertolking van liedjies.
Sy het veral naam gemaak vir die musiek wat sy in die Afrikaanse betaaltelevisie-musiekkanaal, MK, se era tydens 2005 en 2013 vrygestel het. Haar liedjie “Misverstaan” uit hierdie tydvak is vandag steeds onder veral tieners, gewild.
Labuschagne sê sy het nie skuins na haar 30e verjaarsdag gedink sy is ’n kandidaat vir kanker nie. Sy het egter wel ’n knop in haar bors tydens ’n self-ondersoek gevind.
Tydens ’n kliniekbesoek vir ’n griepinspuiting het sy die suster aan diens hiervan vertel.
Sy is onmiddellik vir ’n sonar verwys en ’n biopsie is gedoen. Sy met drievoudige negatiewe borskanker gediagnoseer.
“Ek het vir die een of ander rede nie gedink ek sal doodgaan nie, maar het geweet ek sal sin uit my ervaring moet maak.”
Die diagnose is aan haar gegee met aanvang van die Covid-19-grendeltydperk. Labuschagne sou haar siekte in afsondering moes hanteer en het by haar ouers, Nitzie en Wilem, ingetrek.
Babette – Falling (The Sad Girl Version) – Teaser Video
“Die afsondering was dalk ’n bedekte seën.”
Sy het haar liefde vir musiek en liedjieskryf as toevlug gebruik. Labuschagne erken graag sy is ’n aanhanger van musiek uit die tagtigerjare.
“Ek het besluit bo en behalwe my behandeling, is die beste medisyne om te doen waarvoor ek lief is. Ek het besef ek kan my hartseer in kuns verander.”
Een so ’n projek was die skryf en opname van “Invincible”, in samewerking met ’n musikant van Pretoria, Pedro Barbosa.
Labuschagne vertel die liedjie se titel vergestalt hoe sy voel na haar dubbele mastektomie, rekonstruktiewe chirurgie en hersteltydperk. Sy het baie in dié tyd geleer.
“As jou lewe deur ’n siekte bedreig word, besef jy eers presies hoé intens jy lief is vir jou geliefdes en hoe bereid jy is om ook vir hulle onthalwe kanker te veg.”
Vir Labuschagne was daar in haar drie jaar lange stryd altyd hoop asook vele lesse om te leer.
“Ek kan nou veel makliker ‘nee’ sê. Die stel van beter grense het al hoe moontliker vir my geword. Ek weet nou wat is goed en wat is sleg vir my.”
Die verlies van haar harekroon was van die aantreklike rooikop se grootste uitdagings.
“Met kanker is dit asof jy jou hele identiteit verloor en jouself sowel as jou liggaam, van vooraf moet leer ken.”
Sy het hierdie nuwe kennis ingespan om ’n potgooi-reeks met 16 episodes oor vroue en hul gesondheid saam met ginekoloog, dr. Karen Minnaar, op te neem. Die reeks kan op die webwerf van die Vrystaatse radiostasie, OFM, gehoor word.
“Vrouens het nie altyd die regte inligting oor hul liggame nie en ek wou ’n verskil hieraan maak. Ek dink dis belangrik om jou lyf te leer ken sodat jy juis weet as iets daarmee verkeerd loop.”
Facebook Blad: Babette Labuschagne