Gian Groen
Gideon Hanekom het van landboukundige en plaasbestuurder ontwikkel tot die briljante liedjieskrywer en rockkunstenaar Gian Groen.
Dié Stellenbosch-boorling het as lid van die rockgroep Spinnekop en met sy treffer Vier seisoene kind van sy album Groen Kitaar en met sy solo-albums Met die maan gepla, Lied van die engele, Welkom in Somersburg en in 2013 met Dekade van Ballades homself as ‘n musikant met integriteit gevestig.
Die nuwe album heet #Als Is Net Lekker, die leuse van Gian se baie goeie vriend, Willie Wentzel. Willie het so geglo daarin om die positiewe dinge in die lewe na te streef, dat hy vir homself T-hemde gedruk het met hierdie woorde daarop. Hy dit elke dag gedra. Willie het in 2015 in ‘n motorfietsongeluk gesterf in die Tankwa Karoo, waarna Gian die titelsnit van sy nuutste album geskryf het.
Dié CD is nie net ‘n viering van ‘n vriend se lewe nie; dis ook ‘n viering van ‘n volle sirkel wat bereik is deur weer met medemusikante van die eertydse Spinnekop saam te werk.
Die onmiskenbare kitaarklanke van Guy Feldman (Gys Hoendervleis) vat Gian Groen sonder twyfel terug na sy “roots”. Die musikale mentorskap van Gian se jarelange vriend en baskitaarspeler, Alex Power, dra by tot die klankrykheid. Die nuutste toevoeging tot Gian se band is Simon Sloane op dromme, terwyl die klawers steeds deur die virtuoos, John Mitchell, getokkel word.
Die opnames, onder leiding van die vervaardiger en regisseur Alex Power, het oor ‘n jaar gestrek. Verskeie genooide kunstenaars werk hierop mee: Anton Goosen, Herman Kleinhans, Maria Rademann-Viviers en Pietman Geldenhuys (Peter Mitchell) word op ‘n aantal van die snitte gehoor.
Die album word gekenmerk aan uiteenlopende genres: rock, pop, folk en blues, met ‘n kontemporêre alternatiewe poetsing. Die akoestiese aanslag komplementeer die puik lirieke, onopgesmukte vertolking en die nostalgiese stemming van die album.
Luister met oorgawe na Hoe lekker kry ek nou – Die afstand – Als is net lekker (Karoo-meng) – Outydse liefde – Landpadskoffel – Suikerbossie Sunset – Nuwe maan – Smile vir my – Banneling – Roekeloos in Dorpstraat – Als is net lekker.
Gian Groen bied puik, eerlike, luisterryke musiek wat boei en bevredig!
Gian Groen @ Die Blou Hond at Casa Toscana Lodge |