Afrikaanse skole in Pretoria-Noord is reeds oorvol
Meer as 223 van die 1 394 leerders wat teen die eerste skooldag nog nie geplaas was nie, is in Pretoria-Noord.
Solidariteit se Skole Ondersteuningsentrum (SOS) is bekommerd oor die beskikbaarheid van Afrikaanse skole in Pretoria-Noord.
“Die huidige krisis oor beskikbare skole in Pretoria-Noord word nou voor die hekke van die reeds oorvol Afrikaanse skole in die area gelê,” sê die organisasie.
“Dit, ondanks die feit dat die enkele Afrikaanse skool in die area, meestal reeds Engelse leerders óók akkommodeer.
“Meer as 223 van die 1 394 leerders wat teen die eerste skooldag nog nie geplaas was nie, is in Pretoria-Noord.”
Om die verantwoordelikheid op die Afrikaanse skole in die area se skouers te plaas, is uiters onbillik, verduidelik SOS.
“Ondanks die buitengewone groei in leerdergetalle, het die vorige LUR, Panyana Lesufi, in die agt jaar wat hy LUR van onderwys in Gauteng was, nie aan sy woord gestand gedoen om genoeg openbare skole te voorsien nie,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by SOS
Volgens SOS, is slegs een van nege skole wat voorheen Afrikaans was, steeds Afrikaans, drie is parallelmedium en vyf skole het volledig verengels.
“Die parallelmedium Afrikaanse skole, soos Laerskool Danie Malan, is reeds oorvol.”
Laerskool Danie Malan se 2018 kapasiteitsverslag maak voorsiening vir 1 116 leerders, maar daar word tans 1 426 leerders geakkommodeer.
Gauteng se onderwyskapasiteit is lankal onder enorme druk met Afrikaanse skole wat aan die kortste end trek.
Die afgelope ses jaar het leerdergetalle in Gauteng met meer as 50 000 per jaar gegroei.
Leerdergetalle het in 2022 met yslike 103 000 leerders toegeneem.
Volledige Artikel: Rekord Pretoria