Uit my hart – Roan Ash
13 February 2019
By Linda Holland
Op die wat nog nie bekend is met Dawie de Jager (vanaand se voorvertoning kunstenaar) nie, wag daar ‘n yslike verrassing! Hier is nou ‘n man met ‘n allemintige groot talent. Nie net skryf hy die mooiste liedjies nie, maar ook musiek vir die klankbane van bekende films soos “Stroomop” en “Ds Tienie Benadie”. As deelnemer aan The Voice het hy almal aan die praat gehad met sy cover van U2 se liedjie “One”. Met ‘n pa wat klavier en ‘n ma wat kitaar speel, kan dit ook nie anders as dat Dawie reeds op jong ouderdom die kitaar opgeneem en besef het dit is waar sy passie lê nie. Kort voor lank het hy en van sy vriende ‘n orkes gevorm, wat bekend staan as Klopjag, Met kleur en geur vertel Dawie vanaand vir die gehoor hoe dit gekom het dat hulle vir die eerste keer die eer te beurt geval is om by KKNK op te tree. Sedertdien het Klopjag en ook die Tuindwergies waarvan Dawie lid is baie gewilde deelnemers aan van ons land se grootste feeste geword. Ongelukkig vir al hul aanhangers het “die lewe” met sy vreugdes soos babas en alledaagse verpligtinge ook vir die orkeslede gebeur en kan hulle nie meer so gereeld saam optree nie. Maar ons is baie bly om darem vir Dawie vanaand by ons te hê, wat ons vermaak met musiek uit die boonste rakke met van sy skeppinge soos “Stroomop”, “Weightless” (wat hy net na sy deelname aan The Voice geskryf het), “Stof”, die musiek uit Ds Tienie Benadie en die baie pragtige “Beyond Infinity” wat hy spesiaal vir sy vrou geskryf het. Baie geluk ook aan Klopjag – ons verneem dat dit vandag die groep se verjaarsdag is!
Dawie en vanaand se hoof vertoning kunstenaar, Roan Ash is groot vriende en kom al ‘n lang, kleurvolle en baie produktiewe pad saam met die skep en maak van musiek. Dit is juis Dawie wat vir Roan ingeskryf het vir The Voice, waarna Roan op sy beurt vir Dawie vir die volgende seisoen ingeskryf het. Dis ook onder groot gelag dat Roan vir ons vertel van die dae van RAD Entertainment – afgelei van hul albei se name en tot groot vreugde van die gehoor kry ons vanaand weer die geleentheid om bietjie van RAD Entertainment te geniet met Dawie wat vir dele van die vertoning saam met Roan optree.
Roan het natuurlik geen bekendstelling nodig nie en verkoop vertonings uit sover as wat hy gaan. Sukses gebeur nie sommer oornag nie en hy het ‘n lang en harde pad geloop sedert die dae toe hy plakkate van die vertonings van sy “heroes” in die musiekbedryf soos Valiant Swart opgesit het tot waar hy vanaand is. Sukses het hom egter glad nie verander nie en nederig, opreg en beskeie is maar net ‘n paar van die vele goeie karaktertrekke wat jy aan Roan kan toeken. Die opregte dankbaarheid teenoor sy aanhangers vir hul ondersteuning wat hom gedra het tot waar hy nou is, is volop. Vanaand wys Roan vir die gehoor sy “hart” met liedjies wat verwys na spesiale geleenthede en oomblikke in sy lewe soos “The Open Road” (gekryf nadat hy van ‘n vakansie in die pragtige George/Knysna moes terugkeer na die “rat race” in Gauteng); “Poets & Silhouettes” (geinspireer deur Bruce Springsteen en wat gaan oor ‘n meisie wat nie bang is om haar hart op haar mou te dra nie), “Traveler” (geinspireer deur Valiant Swart, “Goliath” (wat hy saam met Appel geskryf het, wat ‘n baie groot eer vir hom was). Met “if you come back for love” herinner hy ons aan die groot waarheid om nooit die liefde as vanselfsprekend te aanvaar nie. “Darlin” is ‘n pragtige gryp-jou-aan-die-hart liedjie geinspireer deur ‘n gesig gestremde dogtertjie in hul familie waarmee hy ons herinner hoe belangrik dit is dat ons tot stilstand moet kom in die “rat race” en die klein dingetjies waardeer vir wat dit is. “Built my life” se inspirererende booskap is dat ons nooit moet opgee nie en altyd daarna moet streef om ons lewens so “hoog” te bou dat ons met die engele kan praat. Roan se effe “rugged” stem gekombineer met sielvolle lirieke en gepaste melodieë streel jou oor en gemoed en ons geniet elke oomblik van sy vertoning terdeë, maar dis veral met die gehoor se reaksie op “Whiskey to my soul” en “If I ever saw heaven” dat jy kan sien dit bly almal se groot gunstelinge. Maar gaan luister gerus ook weer na “Darlin” – vir my was dit ook net so spesiaal. Eerskomende Sondag vertrek Roan na Amerika om daar musiek te gaan maak en ons wens hom alles van die beste!
Pssst! Ek het ‘n voëltjie ietsie hoor fluit oor ‘n debuut vertoning by die Blou Hond deur ‘n baie bekende “powerhouse” kunstenaar iewers in Maart. Kaartjies gaan vinnig uitverkoop so maak seker dat jy ons webwerf dophou en jou plek betyds bespreek.
https://www.casatoscana.co.za/events-shows/events/blou-hond-events
Photographer for the night – Deon van Wyk Photographer