Susan Coetzer – “Vat vlam oppad na jou heelword proses”
Daar heers ‘n feestelike atmosfeer in die binnehof van die teater.
Groepies dames geklee in ‘n verskeidenheid van vrolike & smaaklvolle uitrustings, geniet die vars springmielies wat hulle verwelkom.
Op die tafels, wag die watertand voorgereg reeds: Salm Mousse Terrine met Zucchini strikke, afgerond met ‘n skeut sitrus. Die ligte middagete sluit in: Gemarineerde, geroosterde Hoenderfillet met ‘n geurige Couscous slaai, geroosterde soetpeper, tamaties met ‘n suurlemoen & sprietui sous. Nagereg is gesoute Karamel Moussse met ‘n bessiesous.
Die sjarmante Henrico Coetzer verwelkom almal & noem terloops dat hy nie familie van Susan is nie. Nadat al die formaliteite afgehandel is, vertel hy dat hy van kleins af ‘n sanger wou wees. Hierdie droom het later jare waar geword toe hy saam met Bobby van Jaarsveld getoer het. Henrico is ‘n groot aanhanger van Josh Groban, daarom is dit geen verrassing dat hy pragtige weergawes van “Remember”, “To where you are” & “You raise me up” in sy program insluit nie.
Susan Coetzer is reeds sedert 2007 ‘n gewilde spreker. Dis nie ‘n pad wat sy ooit vermoed het sy sou volg nie. Terwyl Henrico die immergewilde “The Story” sing, loop Susan deur gehoor & strooi vars roosblare oor almal. Daar is vandag weer heelwat pitkos vir elkeen se lewenspad.
“Word die beste weergawe van jouself. Skyn jou liggie soos & waar jy kan.” “Almal van ons het hartseer & verlies beleef, werk daardeur & vind jou doel in die lewe. Jou verwonding is jou eie & jy moet self daardeur werk, maar ons kan mekaar in die proses help & ondersteun. Met al jou letsels & seer, probeer om ‘n beter weergawe van jouself te word.” Uiterlik is ons elkeen uniek: “Maar wat in jou hart aangaan, is wat saakmaak & hoe jy mense laat voel. Daar is Genade vir ons almal. Leef die Boodskap uit sonder om te praat. ” “Jy is goed genoeg om liefde te verdien. Lewe met ‘n bietjie meer genade teenoor jouself & ook ander mense. Hê genade vir mense wat anders is as jy. Leef met liefde. Gee vir ander mense van dit, waarvan jy self meer wil hê.”
Dan moedig Susan die gehoor aan om mekaar ‘n drukkie te gee, al ken jy nie die ander persoon nie. “Om drukkies te gee, breek grense af, maak ons almal gelyk & laat ons aanvaar voel.” Ten slotte laat Susan die gehoor opstaan & hardop verklaar: “Ek vat vlam & ek steek jou aan”. Die gevoel waarmee ek (en hopelik vele ander) hier weggaan vandag, is dat mens moet probeer om sag te wees met jouself sowel as ander mense.
Marné de Kock – Copyright
Photos – Ezetna Photography