Nuwe asem in Legendariese Musiek – Steve Hofmeyr
Geskryf deur: Vasti Lourens
Blou Hond is behoorlik in rep en roer met Steve Hofmeyr wat die verhoog kom besoek en die gehoor kom betower met sy nuuste album “The Country collection”.
Die reuk van Blou Hond se lip-lek-lekker buffet ete hang swaar in die lug terwyl die gehoor staaltjies deel van hul week sover, verjaarsdae en-herdenkings vier.
Eerste op die verhoog is Philip Moolman. Hy heet die gehoor welkom en skop die musiek af met weergawes van nostalgiese treffers uit sy en Steve se draadloos luister dae. Sy aansteeklike sin vir humor warm so ook die gehoor se lagspiere behoorlik op voodat hy die man van die uur, Steve Hofmeyr aankondig.
Die glasies word gevul en die bene gestrek voor al die “reuntjies en tefies” terug beweeg in die erf vir die hoof vertoning.
Steve betree die verhoog en jy kan onmiddellik die liefde wat sy gehoor het vir hom aanvoel. Hy streel die gehoor se ore met liedere vanaf die nuwe album soos “Lucille” & “The Ballet Of The Green Berets”, wat ware nostalgie in die gehoor aanwakker. So ook herinner hy almal aan van sy vorige musiek vanaf die begin van sy loopbaan tot en met verlede jaar se onvergeetlike Afrikaanse album “Skree”.
Hy vul die aand met musiek wat jou lei van hoendervleis oomblike tot hartroerende gevoelens met ‘n tikkie humor soos net Steve kan. Hy “connect” nog net so sterk met sy gehoor soos 30 jaar gelede toe hy die bedryf betree het.
Sy vertoning neem jou op ‘n musikale reistog deur van die mees gewilde “country“ liede in ware Steve styl terwyl hy nuwe lewe blaas in alreeds vergete musiek.
Sy vertoning is voorwaar onvergeetlik en sy passie vir musiek straal met elke noot uit.
Philip Moolman & Steve Hofmeyr is waarlik kunstenaars waarop ons land trots kan wees en verdien ‘n klipharde Blou Hond blaf en tjank.
Foto krediet: Deon van Wyk Photography