Duisende geniet tien top kunstenaars by Jacaranda Day
Die Monument Amfiteater in Pretoria was die toneel van ‘n fees van more music you love vir die 7de jaarlikse Jacaranda Day, met duisende mense wat na dié hoogs gewilde geleentheid gestroom het.
MiCasa, Freshlyground, Jo Black, Bobby van Jaarsveld, Refentse, Martin Bester, The Parlotones, Juanita du Plessis, Brendan Peyper en DJ Jazzy D het almal deel gevorm van die eersteklas program, met die openingsoptrede wat uitgevoer is deur ‘n opwindende nuwe jong talent, Lillia Lessev, wat deur Jacaranda FM luisteraars aangewys is as die wenner van ‘n kompetisie wat honderde inskrywings van aspirantkunstenaars gelok het.
Jacaranda FM se aanbieders het ook op die verhoog by hulle aangesluit, met die stasie wat regstreeks vanaf die geleentheid uitgesaai het en talle mense het van regoor Gauteng en naburige provinsies gereis om die uitvoerings by te woon en ‘n heerlike dag van gesinspret te geniet.
Die geleentheid is ook bygewoon deur die Adjunkminister van Kommunikasie, die Eerbare P. Kekana.
Jacaranda FM se Algemene Bestuurder, Kevin Fine, sê: “Jacaranda Day bly ‘n immergewilde gunsteling en een van die grootste hoogtepunte op die Gauteng vermaaklikheidskalender. Dis omtrent iets om te aanskou wanneer duisende mense, die hele dag lank, die liedjies waaroor hulle mal is saamsing. Soos altyd was die atmosfeer absoluut elektries en ons sien uit na ‘n selfs groter en beter Jacaranda Day in 2019!”