Debuut vertoning by die Blou Hond – Demi Lee Moore
Debuut vertoning by die Blou Hond – Demi Lee Moore
Lanklaas was daar soveel opwinding in die Blou Hond oor ‘n debuut vertoning soos die een deur Demi Lee Moore Dinsdag aand, 5 February. Die teater was stampvol en dit het behoorlik gegons in afwagting op die verskyning van die musiekbedryf se nuutste vonds en skitterblink ster van die Afrikaanse musiekbedryf. Ook glad nie sonder rede nie, want na afloop van die baie gewilde “Die Kontrak” (Via DSTV Kanaal 147), waarvan Demi Lee die eerste wenner was, het sy oornag ‘n opskudding in die musiekbedryf veroorsaak en is sy nou die onbetwiste “liefling” van Suid Afrikaanse gehore.
Eerste op die verhoog was Barthlo Visagie, die liefde van haar lewe, wat haar ook begelei op kitaar. Onder luide applous word Demi, geklee in swart op die verhoog “gedra” deur haar bewonderaars, wat nie kon wag vir daardie eerste noot nie! Sy het haar vertoning afgeskop met Spore en gevolg met Lei my na die water. Tussendeur haar eie liedjies: Ek is hier, Mis eet slaap herhaal en Vulkaan lig sy bietjie die sluier oor haarself, ‘n toeganklike, nederige, plat-op-die-aarde mens, met ‘n diepe dankbaarheid teenoor haar Skepper vir haar uitsonderlike talent en erkentlikheid teenoor haar bewonderaars sonder wie se ondersteuning sy nie sou kon kom tot waar sy vanaand is nie. Sy is lief vir mense, gesels graag met hulle en gee nie om om so bietjie met haarself te spot nie. Op die verhoog is sy baie energiek en gee spontaan haar alles met elke liedjie wat sy sing. Dis veral haar unieke weergawes van musieklegendes se liedjies soos Sproetjies, Blou en Stuur groete aan Mannetjies Roux, wat diep in die hart tref.
Wanneer Demi lostrek met ‘n paar Country nommertjies het sy die gehoor behoorlik gaande. Met ritmiese hande klap hou hulle saam tyd en kan nie genoeg kry nie. Die gehoor was ook getrakteer op haar en Monique Steyn (haar mentor in Die Kontrak) se weergawe van Diane, wat selfs internasionaal opslae gemaak het, asook haar en Steve Hofmeyer se weergawe van Amanda. Hier is nou ‘n Suid-Afrikaanse girl wat haar man sal kan staan tussen die beste country sangers op die internasionale toneel en ‘n hele paar van hulle sal oortref!
Te gou was haar debuut vertoning by die Blou Hond verby, maar nie sonder dat sy teruggeroep was vir ‘n encore nie en met die baie gewilde Shallow uit ‘n Star is Born het sy die Blou Hond gegroet tot ‘n volgende keer.
Die Blou Hond sê dankie aan Henrico Coetzer, wat nooit teleur stel nie, maar telkens ‘n skitter voorvertoning lewe. Henrico Coetzer se solo liedjies en die duet – I’ll always remember us this way (A star is born) saam met Onike van Vuuren, was uit die boeke!
Hierdie jaar is propvol ster vertonings by die Blou Hond. Besoek gerus die webwerf vir meer inligting en kom kuier gesellig saam.
https://www.casatoscana.co.za/events-shows/events/blou-hond-events