Pretoria Spooktoer-op-wiele
Wie onthou nog daardie goeie ou dae voor TV-verslawing? Toe families en vriende saans voor die kaggelvuur bymekaar gekom en die heerlikste spookstories, asook staaltjies en legendes uit die verlede, opgediep en aan mekaar vertel het?
Tydens ‘n produksie van die Pretoria Spookbus is dit presies wat jy weer kan herleef. Wel met ‘n effense verskil, want die Spookbus neem jou terug in tyd – terug deur die donker strate van die Jakarandastad – verby die ou geboue waar van dié verhale en legendes afgespeel het.
Beleef ‘n kultuur-historiese aand van geskiedenis en insig in die bonatuurlike. ‘n Aand propvol vertellings van ware spookverhale, legendes en aangrypende ondervindings.
Spoke en geeste het die gewoonte om te dwaal agter die gordyne en op die verhoë van teaters wêreldwyd. So ook in Pretoria, daarom is dit te verstane dat vreemde dinge in van die bekendste teaters in die stad afspeel. Dink maar net aan die Breytenbach-, Staats-, Opera- en Capitalteaters. Daarom moet van dié stories vertel word.
Maar dit is ook ander ou geboue wat hul eie nostalgiese geskiedenis en onopgeloste vraagstukke bied: soos byvoorbeeld die Schubartparkwoonstelle, die ou Tronk en die Erasmushuis. En wie sal dan ooit die klassieke verhaal van Suid-Afrika se wreedaardige gifmoordenares, Daisy de Melker, vergeet? Of die spookmeisie van Uniondale, wat vir lank na haar tragiese motorongeluk meer as 40 jaar gelede, steeds oor Paasnaweke gesien is waar sy duimgooi opsoek na ‘n saamry-geleentheid?
Tydens ‘n aandtoer op die Spookbus word daar nie net diep in die storiekas van die verre verlede rond gekrap vir die herleef van al hierdie klassieke Suid-Afrikaanse verhale nie, want talle onverklaarbare dinge gebeur steeds tot vandag toe nog om ons – daarom word dié stories ook nader gehark. Ware verhale van mense wat deur iets bo-natuurliks, of goddelik, van ‘n gewisse dood of ongeluk gered is; selfs verhale van mense wat vertel hoe hulle ‘n vreemde plek – wat hulle as die hemel beskryf – besoek het.
En is dit moontlik dat dit die sangeres Irene van Wyk se gees is wat in 2009, drie maande na haar dood, meer as een keer in haar huis hier in Pretoria verskyn het? Of die verhaal wat in 2006 in die Hartbeespoort-omgewing afgespeel het: kan dit Elryn se broer wees wat kort na sy dood ‘n vertroostende boodskap aan haar gebring het? Ook word die heel nuutste Suid-Afrikaanse spookstories vertel: soos die Steytlerville-monster wat van gedaante verander en die geeste wat amok in ‘n Oos-Kaapse hospitaal saai.
Die Pretoria Spookbus Produksie is ‘n multi-media teater-op-wiele aanbieding waar gaste tussen al die stories deur meer leer oor die bonatuurlike, die verskillende tipe verskynsels wat ‘n mens kry, die geesteswêreld en die manifestasies van geeste.
Daar word egter nie van die kultuur-historiese agtergrond wat diep in die geskiedenis van Pretoria se ou geboue gesetel is, vergeet nie. Van dié interessante geskiedenis word ook met die gaste gedeel terwyl daar verby gery word.
Vir meer inligting of aanlyn besprekings, kontak Die Pretoria Spookbustoer by:
Telefoon: 082 404 7229
Faks: 086 590 3029
Webwerf: www.spookbus.co.za