Pretoria-Gospelsanger wil mense se harte na die Here toe dra
Arnold se pa, Jan de Wet, was ook ‘n gospelsanger en die familie het saam ‘n album opgeneem.
Pretoria-gospelsanger Arnold de Wet het ’n passie vir musiek en het ’n belangrike boodskap om met sy luisteraars te deel.
De Wet het van jongs af al sy passie en talent vir musiek skryf en maak ontdek.
“My eerste herinnering van musiek maak was toe ek 16-jaar-oud was.
“Ek was smoorverlief op ’n meisie van Faerie Glen en ek het spontaan sommer net vir haar ’n liedjie gespeel op my kitaar, en dit was die begin van musiek maak vir my,” het hy aan Rekord vertel.
De Wet het in ’n huis van musiekliefhebbers grootgeword.
Sy pa, Jan de Wet, was ook ’n gospelsanger, en die familie het saam ’n album opgeneem.
“My pa het besluit om ’n familie-album op te neem, en die album se naam was Ek en My Huis.
“In daai proses het ’n maatskappy my genader om twee van my eie liedjies op te neem, en dit was basies die eerste opnames wat ek gedoen het.
“Ek het later ’n CD saam met hulle opgeneem.”
De Wet het egter daarna teen ’n loopbaan in musiek besluit, maar nou, 15 jaar later, het hy besluit dat musiekmaak sy ware passie is.
De Wet luister al sy hele lewe lank na verskillende musiekgenres, en dus is daar baie verskillende invloede op sy musiek.
“Daar is al baie invloede deur die jare.
“Ek het na baie rockgroepe geluister in die vroeë 2000s soos Goo Goo Dolls en Coldplay.
“Maar dan is daar ok ouens wat spesifiek ‘worship music’ maak soos Bethel Music en Leeland.”
De Wet se primêre doelwit is om aanbiddingsmusiek te skryf, en hy wil graag musiek skryf wat die kerk dien en mense se harte na die Here toe draai.
Die gospelsanger sê om ’n loopbaan in musiek te volg is nie maklik nie, en moedig jong aspirantmusikante aan om hard te werk om hul drome ’n realiteit te maak.
“Sit die ure in en kry jou vaardighede agter mekaar.
“Partykeer is ek spyt dat ek nie musiek gaan swot het nie, want die fondasiejare is baie waardevol later in jou lewe as ’n musikant.”
De Wet se musiek is beskikbaar op Spotify en Apple Music.
Bron: Rekord Pretoria