Karakters uit toeka se Pretoria boei lesers
2015-09-23
Die mark vir Afrikaanse boeke is springlewendig en gesond. Dit is bewys deur die feit dat ‘n nuwe Afrikaanse non-fiksie boek voor sy bekendstelling al amper uitverkoop is.
‘Toeka se Dae – Die Karakters’ word dié naweek bekendgestel en voorafverkope maak dat ‘n tweede drukoplaag kort op die hakke van die eerste druk sal moet volg.
Die boekbekendstellingsgeleentheid vir dié koffietafel-boek is op Saterdag 26 September; 10.30 vm vir 11 vm by Cullinan se geskiedkundige stasie-terrein, Cullinan Junction. Meer as 120 mense het hulle plek by dié bekendstelling bespreek en daar is van die gaste wat meer as 10 boeke elk bestel het.
‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is ‘n samestelling uit die artikelreeks, ‘Toeka se dae’, wat deurlopend in die tydskrif, ‘Die Bronberger’, wat in September sy 13e bestaansjaar vier, verskyn. Die reeks word deur Angie Kleijn geskryf. Die boek is dan ook die eerste koffietafelboek wat deur Bronberg Uitgewers gepubliseer word.
Die boek bied lekkerlees stories wat enige iemand, met of sonder ‘n belangstelling in die geskiedenis van Pretoria, sal boei. Jy kan meer lees oor waaghalse, grootpraters, mynmagnate en luister na spookstories, gruverhale en skinderstories oor ou Pretoria se eerste inwoners, soos Ou Moes, die legendariese boemelaar; die diep spore wat Lang Piet in dié dorp getrap het; en die kleurvolle karakters wat in die dorp se eerste kuierplek te siene was.
Oor bekende karakters is minder bekende feite opgediep, soos die staaltjies oor ongekunstelde ouma Isie; die lief en leed van oom Paul se kleindogters; die Pretoriase graf van Rider Haggard se liefdeskind; geheime oor Vincent Van Gogh se broer se selfmoord; die beeldhouer wie se verlore dekade aspris duister gehou is; en die feit dat Oerder eers moes spoorwegpaaltjies verf.
Dan is daar ook die verhale van siener, skrywer en baas-spioen, Johanna Brandt; die Boere ‘James Bond’ wat die Russe gevra het om die Britte te verdryf; vreeslose Drienie; die Cowboy-kolonel wat die Iere teen die Engelse gelei het; die sjarmante spioen wat Kitchener gesink het; en van dapper vroue se heldedade in veldslae.
‘Toeka se Dae – Die Karakters’ is vanaf 26 September beskikbaar teen R295, koerier- en poskostes uitgesluit. Vir meer inligting, stuur ‘n e-pos na info@bronberger.co.za of skakel 012-734-0522.