Die manne van Adam is terug in die kollig
Adam stel nuwe enkelsnit vry
‘Huurvry’ sal die groep se tweede enkelsnit in samewerking met Vonk musiek wees.
Die manne van Adam is terug in die kollig en dié keer gaan aanhangers wil saamsing.
Hul nuutste enkelsnit “Huurvry” stuur die groep se klank in ’n totale nuwe rigting wat dié groep se musikale vernuf beklemtoon.
“‘Huurvry’ gaan oor daardie persoon wat die volle omvang van jou gedagtes opneem.
“Hy/sy neem jou, soms sonder opset, op ’n emosionele pretrit,” verduidelik Christoff de Beer, skrywer van die lied.
Die publiek het reeds in 2010 met Adam kennis gemaak.
Sewe albums en vier enkelsnitte later het die groep al talle treffers tot die Afrikaanse musiekgenre gevoeg.
Van hul grootste treffers is “Sal Oorlog Vir Jou Maak”, “Hoogtevrees” en “Liefde Soldaat”.
Die groep bestaan uit drie lede: Kyle Grant, Christoff de Beer en Hugo Ludik.
Hulle het reeds op verskeie geleenthede duisende mense regoor Suid-Afrika met hul indrukwekkende, drieledige harmonieë vermaak.
Saam spog die groep met nege Ghoemas en ’n SAMA-toekenning vir “Beste pop-album in Afrikaans”.
“Oorspronklik” is die beste woord waarmee Adam se musiek opgesom kan word.
Elke lied en album wat deur die groep uitgereik word, is vars, relevant en blywend.
Min kunstenaars kry dit reg om staande te bly soos Adam.
“Huurvry” is weereens ’n bewys dat hierdie drie manne deur en deur musikante is. Eg aan hulle aanpasbare aard, wyk hierdie lied nie van hul norm af nie.
“Huurvry” sal die groep se tweede enkelsnit in samewerking met Vonk musiek wees.
Die eerste was die treffer “Rooi Lippe” wat geskitter het op talle radiostasies en stromingsplatforms se trefferparades en speellyste.
Die lede verduidelik dat die arbeider sy loon werd moet wees.
Daarom spandeer hulle vier ure of meer per dag om hul musiek te bemeester.
“Soos met enige bedryf is dit die een wat die hardste werk wat die wa deur die drif trek,” verduidelik hulle.
Meer oor die Groep: Adam