Christiaan Baartman sing oor die liefde in nuwe enkelsnit
“Liewe Lawwe Lettie” gaan oor ’n man wat sy lewensmaat ontmoet het, en hoe die lewe net beter is saam met haar.
Nadat hy die vrou van sy drome ontmoet het, was die sanger en liedjieskrywer Christiaan Baartman geïnspireer om ’n splinternuwe liedjie te skryf oor hoe mooi en lekker die liefde kan wees.
Hy het die pop-folk-snit self vervaardig, met klankversorging deur Sean Manley.
“Ek het self ’n baie oulike dame ontmoet, wat my lewe net soveel beter maak en dit het aanleiding gegee tot die liedjie. ’n Man is nou maar net een maal beter met ’n vrou aan sy sy.”
Volgens die musikant kry sy nuwe enkelsnit baie goeie terugvoer tydens vertonings en glo hy dat die boodskap en wysie aanklank vind by oud en jonk.
Die musiekvideo is ook baie uniek en bestaan grotendeels uit foto’s wat jou as’t ware laat voel asof jy deur Lettie se plakboek, vol spesiale herinneringe, blaai.
Jannes de Villiers van Moving North Media het dié besonderse konsep op kamera vasgevang, terwyl Leon Gropp opgetree het as regisseur en redigeerder en Natassja Ras (wenner van Houvrou of Trouvrou op VIA) die rol van Lettie vertolk het.
“Ons het ’n ‘stop motion video’ gedoen met ’n klomp foto’s en animasie in die agtergrond. Die eindproduk is soos niks wat ek nog ooit vantevore gesien het nie,” verduidelik hy.
“Daar het regtig baie tyd, moeite en beplanning ingegaan en dis iets wat jy moet kyk om te weet waarvan ek praat.”
“Ek hou daarvan om te skryf wat ek sien en oral is daar mans wat trou en net beter raak. Daar is iets te sê oor twee mense wat een word. Ons mans het die gewoonte om onsself te verloor wanneer ons enkellopend is en ’n spesiale dame gee vir ons daardie balans wat ons nodig het,” sluit hy af.
Die video sal binnekort beskikbaar wees.
“Liewe Lawwe Lettie” is die kunstenaar se 15e enkelsnit in vier jaar en volg in die voetspore van suksesvolle treffers soos “Dis Jy”, “As Hy Vir Jou Nog Lief Was”, “Net ’n Bietjie”, “Stof”, “’n Vriend Soos Jy” (’n lekkerluister-duet saam met Mack Rapapali), “My Vrou” en “Die Beste Deel”.
Christiaan is al byna vir twee dekades in die musiekbedryf doenig en het sy eerste album in 2008 uitgereik. Oor die jare, het hy baie hoogtepunte bereik waaronder verskeie musiektoekennings, ’n kinderalbum saam met Leon Jonkman, om die finale ronde te bereik op Idols SA in 2006, om vir Smokie te open in 2012, sy optrede by Huisgenoot Skouspel in 2007 en vele meer.
Tans neem sy musiek en studies al sy tyd in beslag en is hy vasbeslote om vanjaar nog ten minste drie enkelsnitte en twee videos met bewonderaars te deel.
“Daar is so baie vertonings beplan, dat ek nie tyd het om enigiets anders aan te vang nie. 2023 is ’n jaar van lekker kuier en ek wil elke kuier bywoon,” skerts hy.
“Liewe Lawwe Lettie” is ’n lighartige liedjie, wat jou sal laat glimlag wanneer jy dit hoor en jou weer sal laat glo in die betowering wat ware liefde inhou.