SA for Hope reik uit na Droogtegeteisterde Boere

Tot die Wild kry swaar…
SA for Hope reik uit na droogtegeteisterde boere in ‘n noodoproep vir hulp. Op Saterdag 17 Junie sal hulle hul volgende uitreik na die Oos-Kaap doen, net suidoos van Jansenville.
Die langdurige droogte het hierdie boere swaar getref, en selfs sporadiese reën bied min verligting. Daar is dringende nood en swaarkry in die gebied. Pieter du Plessis, ‘n direkteur van SA for Hope, sê ongeveer 100 gesinne – boere en hul plaaswerkers – moet gehelp word.
Een van die boodskappe wat SA for Hope ontvang het, is aangrypend: “Ons vra vir hulp vir ‘n paar families wat redelik wyd verspreid lê in die omgewings van Jansenville, Klipplaat, Steytlerville en Wolwefontein. Hierdie mense is op breekpunt. Baie vee is verloor.
“‘n Jong boer se bakkie het ingegee en hy ry met ‘n onpadwaardige voertuig. Februarie/Maart het dit lekker gereën, maar te min en die veld is al weer dood. Enigiets is welkom om hierdie mense net ‘n bietjie verligting te gee.”
‘n Ander hartseer boodskap lui, “Sonder krag, sonder kos, generator kan net so lank hardloop, petrol te duur. Geen yskas of vrieskas werk sonder krag nie. Dink vir net een oomblik hoe jy gaan cope, ek lê al van half 4 af wakker. Het jy kos gehad gisteraand? My magie het iets ingehad, het jy dalk op ‘n koppie tee gaan slaap? Hoe bly jy positief? Ek dink aan jou en ek bid vir jou, hoe kan ek jou help? Ek kan nie sit en kyk hoe jy wegkwyn nie.
“Hoe kan ek maak om blikkieskos, wat sy net kan oopmaak, in te samel? Gasstofie brand net tot gas opgee. Ons aanvaar baie dinge as vanselfsprekend, maar hierdie tannie van in die 70 het gister haar twee laaste snytjies brood vir haar seun gegee, sonder peanut butter, want dis ook op.
Ek is moeg gevra, ek is moeg gebedel, maar alleen kan ek nie hierdie tannie help nie. Ek moet na julle draai vir hulp.”
Du Plessis erken dat sulke boodskappe ‘n gevoel van magteloosheid by mense veroorsaak, maar hy glo dat elke individu deur ‘n klein bydrae te lewer ‘n verskil kan maak.
Lees Meer… Knysnaplettherald