Afrikaans aan die Praat in die Paarl
“Kamme niet verstaan … bayang van mai vriende … soo met lagen en praaten … Heita … alles oraait? Hoop so :-) Jy! Praat Afrikaans of hou jou bek!” Só verskil Afrikaans van toeka tot vandag – ’n verhaal wat vertel word deur die uitstalling Afrikaans aan die Praat, wat tot Julie 2014 in die nuwe Besoekersentrum by die Afrikaanse Taalmonument in die Paarl vertoon word.
In ’n reeks drietalige panele (Afrikaans, Engels en isiXhosa) spoor dié uitstalling breedweg die geskiedenis van Afrikaans na, beginnende by sy Nederlandse/Europese wortels en die Khoekhoe- en slawe-invloede daarop – ’n geskiedenis wat daartoe gelei het dat verskeie taalkundiges Afrikaans as ’n semi-kreooltaal bestempel. Die uitstalling reflekteer die Britse koloniale owerhede se verwerping van Nederlands en Afrikaans, Afrikaans as sendingtaal, die opkoms van Afrikaans as ’n instrument van Afrikanernasionalisme in die vroeë 20ste eeu, en die opbloei van die taal in die veranderde sosiale en kulturele landskap van Suid-Afrika ná 1994.
Die uitstalling het ’n moderne, kleurryke benadering en is toeganklik vir leerders, opvoeders, studente en die publiek. Ses temas word uitgebeeld, naamlik Ontmoet Afrikaans, Vroeë ontwikkelinge, Die sendingstasies, Regte Afrikaans?,1910 tot vandag, en Nuwe geleenthede.
Dié reisende uitstalling is gesamentlik ontwikkel deur drie museums: Iziko Museums van Suid-Afrika, Genadendal Sendingmuseum en die Afrikaanse Taalmuseum, met hulp van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Die uitstalling is in September 2009 tydens die ‘Roots’-fees by die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) bekendgestel en vorm deel van die Afrikaanse Taalprojek, ’n inisiatief van die Departement van Kuns en Kultuur in samewerking met UWK en die Koninklike Nederlandse en Belgiese ambassades.
’n Boekie waarin elk van die inligtingspanele gereproduseer word,’n nuttige verwysingsbron vir veral leerders en opvoeders, word te koop aangebied.
Die Besoekersentrum is daagliks oop vanaf 08:00 tot 16:45. Vir meer inligting oor die uitstalling in die Taalmonument Besoekersentrum skakel 021 863 4809/0543/2 of e-pos admin@taalmuseum.co.za.