Taalmuseum en -monument maak vriende
As jy ‘n taalliefhebber is – of dit geniet om in die buitelug te kuier en piekniek te hou – is die pasgestigde Vriende van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vir jou!
Dié organisasie is in November op die been gebring om as ondersteuningsraamwerk te dien vir die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in die Paarl en so te help met algemene aktiwiteite en bemarking.
Die Vriende wil plaaslike inwoners aanmoedig om die rol van toergids te speel, en die museum en monument as ‘n “moet-sien” bestemming aan familie en vriende voor te stel.
Om ‘n Vriend te wees hou verskeie voordele in, afhangende van watter tipe vriendskap jy kies: Huisvriende is hoofsaaklik gemik op die plaaslike mark, omdat hul jaarlikse lidmaatskap hul toegang gee tot gratis, onbeperkte dag-toegang tot die museum en monument, asook gratis toegang tot die gewilde Volmaanpieknieks by die monument. Mense wat verder woon, kan as Potloodvriende aansluit en nuusbriewe ontvang. Beste Vriende is diegene wat nou betrokke wil wees by die Vriende se aktiwiteite.
Die eerste van hierdie aktiwiteite is ‘n piekniekmark by die maandelikse Volmaakpieknieks, wat van Oktober tot Maart by die monument gehou word. Die mark het ‘n unieke piekniekstyl en sluit ook kindervermaak in. Die volgende Volmaanpiekniek vind plaas op 17 Desember. Stalletjies kan bespreek word by atmvriende@gmail.com.
Belangstellendes kan die Vriende se aansluitingsvorm by www.taalmuseum.co.za aflaai of dit by die Taalmuseum in Pastorielaan of by die Taalmonument op Paarlberg voltooi.
Vir meer inligting, skakel tel. 021 863 4809/0543 of kontak Xania van der Merwe by atmvriende@gmail.com.