Innibos Kunstefees het ’n wenresep vir 2024
Innibos Kunstefees het ’n wenresep vir 2024
Innibos Kunstefees bied vanjaar opnuut ’n wenresep aan van uitstaande toneelstukke, musiek, boekgesprekke, beeldende kuns én hope feesvermaak om enige nagevolge van verkiesingstres goed teë te werk. Die kunstefees word van Donderdag, 27 Junie, tot Sondag, 30 Junie, gehou in Mbombela (Nelspruit).
Kaartjies vir die feesterrein by Hoërskool Bergvlam sowel as vir alle produksies is van Maandag, 8 April, te koop by TicketPro.
“Wat ook al jou voorkeur is wat die kunste betref daar is werklik iets vir elke smaak op die program. Elke feesganger is inderwaarheid die geheime bestanddeel van sy of haar eie feesspyskaart en ons is vol vertroue dit sal telkens ’n wenresep wees,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.
Mathews Phosa, voorsitter van die Innibos-direksie sê: “Ek is reeds sedert die begin by Innibos betrokke en dit bly ’n voorreg om in my hartstaal, Afrikaans, te kan feesvier. Ek is besonder trots op wat die fees vermag het. Oor die afgelope 20 jaar het Innibos ʼn platform geskep vir duisende kunstenaars, meer as ’n miljard rand bygedra tot die ekonomie van die Laeveld en is sowat 20 000 tydelike werksgeleenthede geskep wat in sommige gevalle gelei het tot permanente werk. Met sy heerlike winterklimaat bied die Laeveld die perfekte tuiste vir ʼn kunstefees.”
Phosa stel sy derde Afrikaanse digbundel tydens vanjaar se fees bekend.
Feesdigter
Johan Myburgh, Hertzogpryswenner vir poësie, is vanjaar die feesdigter by Innibos. Sy nuutgeskepte gedig Feesmaal sal ook uitgebeeld word in musiek, dans en visuele kuns tydens ’n geleentheid by die ATKV-Boeke-oase.
Feeskunstenaar
In die Kaapstadse kunstenaar Luan Nel se uitstalling as feeskunstenaar by die ATKV-Boeke-oase, Son of a Shopfitter, ondersoek hy die nalatenskap van sy pa en dié se ambag. Nostalgie en verlies, sowel as ’n soeke na klaarheid, word onder meer in die kunswerke uitgebeeld. Nel stel ook sy boek, Malta Bella, tydens die fees bekend. Aanvullend tot die foto’s van sy kunswerke, is daar ook ’n versameling aangrypende essays deur verskeie medewerkers.
Lig die gordyn
’n Stewige aanbod toneelstukke, van drama tot ligte komedie en skerpskerts, is op die verhoogprogram. Sandra Prinsloo, doyenne van Afrikaanse teater, is saam met David Ralph Viviers te sien in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Dié stuk het pas sy debuut gemaak by die KKNK. Rika Sennett en Adriaan Havenga deel die verhoog in Forte, terwyl Je-ani Swiegelaar in die eenvroustuk Die vrou op die dak beïndruk.
Die ander produksies is 1 (Een) met Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz, Ballade van ’n blikbrein met Ruan Jacobs, Hospitale, kateters en familielede met Wynand van Vollenstee, Stephanie Baartman, Tiart Li en Marissa Claasen, A street taxi named Desiree met Pule Buys, Lucky Mqoboli en Sibusiso Mkhize, ’n verwerking van ’n Anton Tsjechov-kortverhaal Ou Wyntoon en die weerlose kreatuur deur Nico Luwes met Esther von Waltsleben, Johann Nel en Jan-Hendrik Opperman en die bekende Schalk Bezuidenhout in Mamma se groot seun.
Musiekteater
Musiekteater bring Jana Cilliers, Mathys Roets, Anna Davel, Johny Klein, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp as die ensemble in Mixtape van die liefde. Op hul beurt deel die twee veterane van die langpad, Koos Kombuis en Valiant Swart, die verhoog met Illimar Neitz op kitaar. ’n Terugblik op die era van boy bands is die Boys R Back met Germandt Geldenhuys, Lee Scott, Reynardt Hugo, Ruan Josh and Willem Botha.
Die uitsonderlike Sudwala-grotte naby Nelspruit is die teater vir Nataniël se konsert, asook vir die Musikale Meander met onder andere Amira Willighagen (sopraan), Charl du Plessis (pianis), Stefan Louw (tenoor), Zanta Hofmeyr (violis), Susan Mouton (tjellis), Jeanne Louise Moolman (alt-violis) en die Nocoré Ensemble. Beslis ’n hoogtepunt.
ATKV-Boeke- en kunsoase
Die ATKV-Boeke-oase bied gratis boekgesprekke met Mathews Phosa, Etienne van Heerden, Amoré Bekker, Leon van Nierop, Danie Marais en Riaan Grobler aan. Die baie gewilde ATKV-Boeke-crawl vind ook weer plaas op Kaapsche Hoop.
Op die hoofverhoog
In die hoofkonserte wat elke aand om 18:00 op die feesterrein aangebied word, sal meer as dertig topkunstenaars onderskeidelik deelneem, ingesluit Juanita du Plessis, Droomsindroom, Dr. Victor & the Rasta Rebels, Spoegwolf, die groep Swing City, Elvis Blue, Francois van Coke, Karlien van Jaarsveld en die Mzansi Youth Choir. Juanita du Plessis, wat vanjaar haar 26ste jaar in die plaaslike musiekwêreld vier en onder meer bekroon is met ’n Ghoema Diamant-toekenning vir beste Afrikaanse verkoper in die geskiedenis van Suid-Afrika, word deur die kunstefees vereer.
Feesterrein
Die tafel is gedek vir vermaak van vroeg tot laat op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam … vir dieselfde prys as wat jy dalk vir ’n enkele vertoning van een topkunstenaar sou betaal. Daar is drie kuierverhoë waar gesoute en opkomende kunstenaars daagliks sal optree, die Boma-teater met gesprekke en kort teaterstukke, Woelwaters vir jong kinders waar hulle sinvol en kreatief besig gehou word, die Bosmôl met gekeurde produkte en die Wingerd Kuiertuin in die geselskap van Groot FM.
Die volledige program is op innibos.co.za Alle kaartjies is te koop by TicketPro (ticketpros.co.za), volg bloot die skakel op die Innibos-webwerf.
Feesterreinkaartjies sluit in die hoofkonsert en alle vermaak op die feesterrein.
Hektoegang
Donderdag, 27 Junie R210
Vrydag, 28 Junie R260
Saterdag, 29 Junie R300
Senior burgers R160 (slegs te koop by die hek of Innibos-kantoor)
Weekkaartjies R660
Kleuters en laerskoolkinders se toegang is gratis.
Pleks van ’n goue sirkel, is daar vanjaar eksklusiewe kuiertafels (vir ses mense) met ’n goeie uitsig op die hoofverhoog (en toegewysde kelners en afsonderlike badkamergeriewe) wat bespreek kan word. Dié koste is addisioneel tot die hektoegang:
Donderdag R660
Vrydag R960
Saterdag R1 260
Sien julle binnekort in die Laeveld om ’n ware wenresep saam met Innibos te vier