Innibos 2023 is weer pure fees, bring die gees!
Innibos 2023 is weer pure fees, bring die gees
Innibos Kunstefees is verlig en opgewonde om eindelik weer ’n volwaardige kunstefees in Mbombela aan te bied vanjaar nadat Covid-regulasies die vorige twee se feestelikhede gekortwiek het.
Die feesdatum is 29 Junie tot 2 Julie en oudergewoonte is die feesterrein by Hoërskool Bergvlam in die stad.
“Dit is twee uitdagende jare wat agter die rug is, maar ons het steeds bly woeker deur talle kort projekte aan te pak soos onder meer huiskonserte, boekbekendstellings en ’n buitelugfees,” sê Sandra Jacobs, media- en bemarkingsbestuurder van Innibos. “Die tema vir vanjaar se kunstefees is ‘Vars’ wat ons opgewondenheid weerspieël om opnuut vermaak en die kunste na die Laeveld te bring.”
Musiek is steeds een van die grootste trekpleisters, en die baie gewilde hoofverhoogkonserte is reeds gefinaliseer. Die room van Afrikaanse musiekkunstenaars sal al drie die toon aangee, waaronder Appel, Bok van Blerk, Francois van Coke, Spoegwolf, Bernice West, Droomsindroom, Sunset Sweatshop en Elvis Blue.
Andy Lubbe, feesdirekteur, sê dié konserte bied uitstekende waarde vir geld. “Die feesterreintoegang sluit in ’n vol dag se vermaak op die terrein, plus ’n drie uur lange konsert van topgehalte in die aand. Ons weet almal moet die rieme dun sny, maar net so moet die gemoedere gelig word. Innibos wil dít bied.”
Aansoeke vir optredes op die sogenaamde kuierverhoë kan nog tot 31 Januarie ingedien word. Dit is uitsluitlik vir opkomende kunstenaars. Daarby word aansoeke vir stalletjies in die Bosmôl ook steeds aanvaar. Eiesoortige en handgemaakte produkte sal voorkeur geniet. Aansoekvorms in beide gevalle kan afgelaai op die webwerf by innibos.co.za/aansoeke.
Splinternuut op die feesterrein is die Wingerd in die kunspark. Feesgangers sal wyn van verskillende landgoedere kan proe (en koop). Gemaklike kuiertafels, kunsstalletjies en van kos-demonstrasies tot rustige musiek op die verhoog sal dit ’n ware oase vir asemskep maak.
Aan die toneelfront sluit in akteurs Sandra Prinsloo (Kamphoer), Margitte Meyer-Rödenbeck en Marion Holm (Laerskool Noord), en Desiree Gardner in Magda Louw in ’n verhoogverwerking van die huidige televisiereeks. Rudi van Rensburg se onnutsige Hans (Charlie Bouguegon) sal weer vir ligte oomblikke sorg in Hans gee Herklaas horings.
Feesterreinkaartjies sal vroeg reeds te koop wees sodat Innibos-feesgangers genoeg tyd het om hul vermaakbegroting te laat klop. Om op hoogte te bly van feesnuus, teken in op die Tjirp-nuusbrief deur ’n e-pos te stuur aan annemarie@innibos.co.za.