Boeke-crawl by Innibos 2019
Artikel en fotos deur: Lizette van der Merwe
Boeke in oorvloed op Kaapsehoop!
Kaapsehoop – 2019 se Innibos boekecrawl was weereens ‘n reuse sukses.
Die rustige omgewing van Kaapsche Hoop was die perfekte doek vir ‘n middag gevul met die mooiste Afrikaanse musiek, prosa en poësie.
Ons het afgeskop met ‘n heerlike ligte middagete en blikbeker vol wyn by Bohemian Groove Kafee en Elsabé Daneel het van die mooiste Afrikaanse gedigte gelees, terwyl die briljante Wilken Calitz op ‘n baie kreatiewe wyse gepaste agtergrondsmusiek met sy ghitaar en viool geskep het, om vir die poësie die perfekte atmosfeer te skep. Gepantser teen die koue met lieflike wolserpe wat uitgedeel is, het ons by Long Creek lodge opgedaag, waar ons met heerlike tipsy-tert bederf is.
Veelbekroonde Riana Scheepers het self voorlesings uit haar nuutse boek, ‘Stormkind’ gedoen en Eugene Marais se digkuns, asook Helena Hettema se eie musiek en toonsettings in haar ryk, diep stem het ons betower.
Onder andere kon ons haar ‘Sprokie vir ‘n stormkind’ – haar eie toonsetting van Riana se gedig – geniet. By die Silver Mist gastehuis het Waldi Schultz en Ira Blankenberg ons meegevoer met hul voordrag van die mooiste liefdesgedigte, wat tot ‘n pragtige storie verweef is.
Vandag se boekecrawl was voorwaar spys en drank vir die siel ook.