Innibos 2021 – Teater op die markplein – Gaan Bos inniMall!
Sandra Prinsloo lewer ’n kragtoer op die verhoog
Elke nou en dan is daar ʼn teaterstuk wat ʼn mens nie durf misloop nie. Oskar en die pienk tannie, met teater-doyenne Sandra Prinsloo op die verhoog, is só ’n magiese teaterbelewenis. Een wat ’n mens totaal ontredder en oorrompel met ’n verpletterende besef van die broosheid en vlugtigheid van die lewe.
Oskar en die pienk tannie is op Saterdag, 25 September, te sien tydens die i’langa Mall se Gaan Bos inniMall in samewerkeing met Innibos Kunstefees. Dit begin om 11:00 en kaartjies kos R100.
Die drama deur Eric-Emmanuel Schmitt is deur Naòmi Morgan in Afrikaans vertaal. Die teks is verruklik: dis hartseer en dis snaaks. Sandra Prinsloo vertolk die rol van ’n tienjarige seuntjie wat terminaal siek is, maar sy is ook die ouma en ’n paar ander karakters in die kindersaal. Sy vervel naatloos en gee lyf aan ’n reeks karakters wat bybly.
Nadat dit vir die eerste keer in 2013 op die planke was, het die toekennings ingestroom. By die KKNK het dit drie Kannas verower en dit het skoonskip by die Fiësta-toekennings gemaak deur as die beste teaterproduksie bekroon te word. Sandra Prinsloo is as die beste aktrise en Lara Bye is as die beste regisseur aangewys.
Oskar het kanker en sy reddingsboei is Ouma Rosa, ‘n bejaarde vrou wat elke dag die kinderhospitaal besoek. Sy is wys, pittig en goddeloos. Om hom te vermaak versin sy staaltjies oor haar dae as rofstoeier, die wildewoeste Weskus-wonder. Maar sy beskik ook oor morele dapperheid om nie vir die kind te lieg nie. Hierdie is ʼn kragtoer wat jy nie mag misloop nie!
i’langa Mall het een van die Ster-Kinekor teaters spesiaal ingerig vir hierdie vertonings. Daar gaan streng by die inperkingsmaatreëls gehou word en sleg ʼn beperkte aantal kaartjies is beskikbaar.
Alle kaartjies vir Gaan Bos inniMall is te koop by i’langa Mall se bestuurskantoor naby die Mugg & Bean-ingang.
Die volledige program is by www.ilangamall.co.za en www.innibos.co.za