Innibos 2025: Vier alles Lekker in die Hart van die Laeveld!
Toyota Innibos 2025: Vier alles Lekker in die Hart van die Laeveld
Mbombela, Nelspruit – Dis weer tyd om álles lekker by die Toyota Innibos te vier vanaf 3 tot 6 Julie 2025 – ons 100-jarige taalviering, Innibos se 21ste bestaansjaar, musiek, teater, boeke, kuns en alles wat ons eg gekultiveerd maak.
Volgens Sandra Jacobs, memarkingsdirekteur van die fees is die tema vanjaar “Lekker”. “Toyota Innibos is nie net ‘n fees op die kalender nie – dit is ’n instelling waar jou sintuie en ervarings op alle vlakke LEKKER bederf word. Ons vereer vir Kurt Darren dié jaar vir sy jarelange bydrae tot die Afrikaanse musiekwêreld. Sy stem en liedjies is verweef met soveel van ons herinneringe – van sokkiesale tot stadionkonserte.”
Die hoofverhoog gaan elke aand uitsonderlik wees. Woensdagaand se Huisgenoot Afskopkonsert begin op ‘n hoogtepunt, waar groot name soos Appel, Droomsindroom, Eloff en Francois van Coke die atmosfeer aan die brand gaan sing. Op Vrydag neem Jacaranda FM die leisels oor met ‘n aand wat beloof om net so onvergeetlik te wees, met kunstenaars soos Bernice West, Bok van Blerk, Die Heuwels Fantasties en Robbie Wessels wat die verhoog deel. Saterdag se kykNET-konsert gaan ‘n spogvertoning wees, en jy kan jou skoene maar gereed hou, want jy gaan nie stil sit wanneer Corlea Botha, Early B, Justin Vega, Elvis Blue, Demi-Lee Moore en die immer gewilde Piesangskille die verhoog oorneem nie.
Volgens Adelene Niehaus, programkoördineerder, stel ons ’n fees saam vir almal, van klassieke musiekliefhebbers tot gesinne wat net saam wil kuier en ontspan.
Die kuierverhoë gaan vanjaar vier unieke kuierplekke wees waar gehore op ‘n meer intieme manier na sangers kan luister. Nog ‘n venue op die feesterrein om te besoek is die Laevelder Boma-kuierteater, waar vertonings wag met persoonlikhede soos Wynand van Vollenstee, Mel die Storieverteller, Matie van Graan en Hannon wat stories, vertellings en grappe in ware Innibos-styl deel. RSG gaan ook regstreeks van die feesterrein af uitsaai. Feesgangers kan uitsien na uitstaande kos- en ander stalletjies in die Bosmôl met daaglikse spesiale aanbiedinge vir 21 minute om 11:00 en 16:00 ter viering van ons 21ste verjaarsdag.
Die keuse van produksies is vanjaar besonders en belowend. Volgens Philna Scholtz, programbestuurder, kan teaterliefhebbers uitsien na verskeie debuut-produksies: Seun, met Wilhelm van der Walt, Kry vir jou ’n tux, Thomas, met Dean-John Smith en Marion Holm in die rolverdeling en Geagte Kampeerder, met Wynand van Vollenstee en Thiart Li. Produksies soos Speelgoed van Glas met die ikoniese Anna-Mart van der Merwe, asook Moord met ’n T, gespeel deur die legendariese Tobie Cronje, ‘n meesterlike mengsel van spanning en humor, is ook ’n moet-sien. Op die musiekfront is daar produksies soos Opera – Tango met Zanne Stapelberg, Gé Sing: Hoor my Lied met André Schwartz, Louis Loock, Stephanie Baartman en Arina de Witt, Die Beste Band in die Wêreld Ooit, Ek Sweer, met Rikus de Beer, Ryno Velvet en Regardt Scheepers wat verder bydra tot ’n indrukwekkende musiekaanbod.
Een van die grootste gunstelinge onder feesgangers is sonder twyfel die ATKV-Boekecrawl, en 2025 gaan nie teleurstel nie. Hierdie unieke literêre reis bied ‘n ervaring wat jy nie mag mis nie. Susan Coetzer, die akoestiese duo Jack & June, die gewilde Elvis Blue, Anna-Mart van der Merwe, Frazer en Deniel Barry, en Johny Klein, is almal meesters in hul veld wat letterkunde en musiek tot lewe bring.
Die leefstyl-aanbod van Toyota Innibos 2025 weerspieël die lekkerness van die Laeveld op sy beste. By die Meesters-aanbieding word 100 jaar van Pinotage en Afrikaans gevier, terwyl Skilder en wyn met Hannelie Swart ‘n kreatiewe en smaaklike ervaring bied. Die Komati Fruit plaasbesoek by Crocodile River Estates gee besoekers ‘n blik op die plaaslewe, en ‘n unieke Langtafel-ervaring, iewers diep in die Laeveld, wag op die kieskeurige fynproewer.
Op die visuele kunsfront bied Dana MacFarlane en haar span by die Innibosfeesterrein ‘n indrukwekkende groepuitstalling aan. Werke van Odette Powell, Winston Thekiso, Odette Saayman, Mariana Zwaan-De Bruin, Erica Schoeman en Lisa Tritram sal onder andere hier te sien wees waar hulle in verskeie mediums soos skilderkuns, beeldhouwerk en keramiek uitstallings gee.
Dit is vir Toyota Innibos ‘n groot eer om Reuben Mpangane as die feeskunstenaar vir 2025 aan te kondig wat sy kleurvolle en ryk getekstureerde kunswerke by White River Gallery in Caterbridge gaan uitstal. Dana Macfarlane is die kurator van beide die uistallings.
Vir volledige programbesonderhede, kaartjieverkope en ander inligting, besoek gerus www.innibos.co.za en kom beleef die lekkerness van Toyota Innibos 2025 – waar taal, kultuur en samesyn mekaar ontmoet.