Vermeende koperdief by dammetjies platgetrek
Nadat ’n booswig vanoggend in Kanarie- en Zebrastraat in erwe gespring en probeer inbreek het, is hy later met ’n sak vol koperpype by die Dennesig dammetjies vasgetrek.
Mnr. Shane van Rooyen (reaksiebestuurder, Mid Alarms) sê een van Mid Alarms se kliënte het vanoggend haar paniekknoppie gedruk nadat sy ’n betreder in haar erf gesien het.
Ander inwoners in Kanariestraat het later gesien hoe hy probeer inbreek by ’n motorhuis.
Die reaksie-offisiere van Mid Alarms en polisielede het heen en weer in dié strate op noodroepe gereageer. Kort daarna het een van die reaksie-offisiere die man opgemerk waar hy op die hoek van Kanarie- en Sipresstraat in die rigting van die Dennesig dammetjies stap.
“Hy het ’n groot sak by hom gehad en ons vermoed hy het dit daar by die dammetjies weggesteek.”
’n Reaksie-offisier het hom platgetrek en die sak by hom gevat. In die sak was daar ’n hoop koperpype, sommiges nog met krane daaraan vas.
•Die verdagte is aan die polisie oorhandig en sal aangekla word vir besit van vemoedelik gesteelde eiendom.
•Sy naam mag nie genoem word nie, omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie.