Bedrieërs se bewys vanaf “bank” sal enigiemand flous
Mnr. Sarel Bosman sê hierdie mense is professionele misdadigers, wat selfs ’n program het wat presiese “bewys van betaling” sms’e van ’n bank af stuur wanneer hulle toeslaan.
Hy immigreer een van die dae na Engeland en is besig om baie huisware op “Marketplace” op Facebook te adverteer. Saterdag het hy ’n winskoop van twee kragopwekkers en ’n lugverkoeler vir R4 500 geadverteer.
Sy foon het binne minute gelui en die persoon het gesê hy sal dadelik die geld inbetaal en iemand stuur om die goedere te kom haal. Die persoon wat belang gestel het, het gesê hy werk en kan nie self kom nie.
Kort daarna het mnr. Bosman ’n bewys van betaling vanaf ’n ‘bank’ ontvang. Omtrent 10 minute later het ’n splinternuwe Kia by hom gestop. Die geld het egter nie in sy bank gewys nie en mnr. Bosman het net die groot kragopwekker in die persoon se kattebak gelaai.
“Ek het gesê sodra die geld in my bank wys, kan hulle die res van die goedere kry.”
Die voertuig was net weg, toe kry hy weer ’n bewys van betaling sms van R3 800.
“Hy het my weer gebel en gesê sy vrou het per ongeluk R3 800 in my rekening inbetaal, wat vir ’n ‘drywer op die grens’ inbetaal moes gewees het. Hy het gesê ek moet dit asseblief vir hulle terugbetaal, want die ‘drywer op die grens’ wag daarvoor.”
Mnr. Bosman het die gevoel gekry dat iets nie reg is nie en het vir hom gesê hy sal dit doen sodra die geld wys op sy rekening.
“Hy het aggressief met my geraak, maar ek het volgehou dat hy maar moet wag tot ek dit kan doen. Die man het gedreig dat hy dan die betaling gaan stop en die kragopwekker gaan terugbring. Ek het gesê dis reg.”
Teen hierdie tyd het sy foon wéér gelui.
“Die persoon wat kwansuis my kragopwekker moes terugbring, het gesê ek moet R1 200 vir hom inbetaal, aangesien hy reeds op Nigel is. Hy het ook ’n foto vir my gestuur van my kragopwekker in sy kattebak.”
Mnr. Bosman sê dit was wel sy kragopwekker, maar die foto is al vroeër die dag geneem, kort nadat die kragopwekker by sy huis gevat is. Hy het geweier om die geld in te betaal en het nog nie weer van hulle gehoor nie.
“Dit is duidelik dieselfde persoon wat my die hele tyd gebel het. Ek het op ‘Truecaller’ ingegaan en gesien die eerste nommer wat my gebel het, se nommer word as ’n ‘Scammer’ uitgemaak. So ek was nie die enigste slagoffer nie. Truecaller sê die kamtige drywer se naam is David Mabuza, so daardie nommer is gefika. Hy praat baie uniek, maar dit is beslis dieselfde man.”
Alhoewel hy sy kragopwekker verloor het, is mnr. Bosman van mening dat hy die R3 800 én die R1 200 ook sou verloor het as hy alles geglo het wat die persoon gestuur het.
“Mense moet bedag wees op hierdie bedrieërs as hulle artikels verkoop. Al kry jy ’n bewys van betaling, maak eers seker dit wys in jou rekening!”
•Op die vervalsde bankdokument wat mnr. Bosman gekry het, het “GT Constructions” die betaling gemaak.