42 beeste op twee plase deur weerlig doodgeslaan
Daar is altesaam 42 beeste in een nag op twee plase in die Middelburg distrik deur weerlig doodgeslaan. Eienaardig genoeg het beide boere 21 beeste verloor.
JJ Lange van die plaas Klipspruit naby Stoffberg sê dat sy beeswagter agter gekom het iets is fout toe hulle agtermiddag die beeste kraal toe wou jaag en hulle nie kon opspoor nie.
Hulle het sowat 18:00 die aand op die 21 karkasse afgekom.
Mnr. Lange sê hy het drie jaar in Amerika gaan werk en geld gespaar om sy beeste te koop. Hy het 36 beeste gehad, waarvan hy nou net ’n bul, ses kalfies sonder ma’s en vier vroulike diere oor het.
Hy sê dat die diere wat dood is almal dragtig was en dat baie van hulle kallers gehad het.
Hy beraam die skade is sowat R500 000.
“Ek is moedeloos. Ek het staatgemaak op die kallers wat sou aankom om volgende jaar se huur te betaal. Dit is vir my ’n helse slag. Ek moet van voor af begin.”
Die beeste het onder ’n groot boom gestaan om van die reën te ontsnap toe die weerlig vermoedelik die boom getref het.
Mnr. Lange sê dat hy 21 beeste verloor het, maar 42 sal moet terugkoop om te wees waar hy sou wees voor sy diere dood is.
•Op nog ’n plaas naby Doornkop uit op die Loskopdampad, is daar Saterdagnag ook 21 beeste deur die weerlig doodgeslaan. Die diere wat dood is, is almal verse wat op die veld gevoer is.
Die boer wou nie sy naam genoem hê nie.