Werner Dey se Lig
Deur: Martie Swanepoel. Foto deur: Ivan Naudé. Artikel uit die Junie 2014 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Hy was een van die goue seuns van die modebedryf. Toe raak sukses te groot vir hom en dwelms laat alles inmekaartuimel. Werner Dey vertel hoe hy ná ‘n donker hel die lig gesien het
Tot vyf jaar gelede was ontwerper Werner Dey se lewe nie net gevul met sukses nie, maar ook met die eensame hel van dwelmverslawing.
In die binnehof van sy treffende gebou op Parys in die Vrystaat, is hy ‘n toonbeeld van gesondheid. Hy is gereeld in die gimnasium en het 25 kg verloor. “Toe ek tot vyf jaar gelede op dwelms was, het ek 85 kg geweeg en sleg gelyk – maer en benerig. Toe sien ek die lig en hou op snuif, pille sluk en drink, maar dog ek, ek kan nie ophou eet ook nie. Ek het besluit ek sal alles eet waarvoor ek lus is en binne twee jaar het ek 40 kg aangesit.”
‘n Gimnasium vol spieëls en mooi geboude mense is ‘n plek wat hy gesweer het hom nooit sal sien nie.
“Dis ‘n intimiderende plek. Ek moes my vrese oorwin. Ek het ou obsessies en seer. Dit kom van my skooldae af toe ek baie gespot is en ‘n onderwyser my gereeld verkleineer het omdat ek met my swak knieë nie rugby kon speel nie. Ek besef nou hoe seer mense kinders kan maak.”
Hy het vir hom ‘n tronk in sy kop gebou. Hy was op die leerlingraad en akademies sterk, maar altyd anders as die ander seuns op skool. Die gespot het letsels gelaat wat ‘n besliste invloed op sy latere emosionele verbrokkeling gehad het, sê Werner.
“Ek kan ander mense mooi laat Iyk, maar ek vrees wat hulle van my gaan sê. Ek was te bang om net deur die deur van die gimnasium te loop. Alles waarvoor ek bang is, is daar binne. Dit gaan oor hoe goed jy Iyk. Jy vergelyk jou met ander en in daardie stadium was ek oorgewig en onfiks. Dit het gebede gekos om deur te druk.
“As die afrigter sê jy moet tien van hierdie en twintig van daardie doen, dink ek hy is seker laf, want ek sal nie een kan doen nie. Ek moes oor en oor vir myself sê dat enigiets by God moontlik is. Al gaan ek deur ‘n dal van doodskaduwee, sal ek anderkant uitkom, al lê ek met my tong op die grond!”
Voor hy van dwelms ontslae kon raak, moes hy ‘n geloofsreis onderneem. “Ek het in ‘n tradisionele kerk grootgeword. Op die kansel het gestaan, ‘God leef,’ maar ek het nooit regtig ‘n lewende God geken nie. Ons het die Here uit die psalms en gesange ‘geloof’.”
Sy lewe het vyf jaar gelede, op 28 November, ingrypend verander. “Ek het met my gesig op die vloer gelê, besig om dood te gaan ná ‘n oordosis dwelms. Ek het gevoel ek gaan sterf. My lewe was ‘n gemors en ek het eintlik geen hoop meer gehad nie.”
Werner sê hy was toe al verby die fase van hospitaal toe jaag na ‘n oordosis. Sy ma, Susan, het hom uit desperaatheid na mense geneem wat ‘n kliniek wou begin. Hulle het reeds verskeie masjiene, insluitende ‘n osoonmasjien, gehad waarmee hulle sy gestel probeer skoonkry het.
“Maar ek’t gevoel hoe ek al swakker word. Dit was rock bottom.”
Voor Werner van dwelms ontsale kon raak, moes hy ‘n geloofsreis onderneem.
Intussen het ‘n vreemdeling met ‘n Bybel onder die arm slaapplek by die huis kom vra. “Hy kon sien ek gaan deur ‘n stryd. Hy het gevra of ek weet daar is ‘n uitweg en of hy vir my kan bid. Drie maande tevore het iemand ook vir my bevryding gebid, maar ek het dit nie ernstig opgeneem nie. My verslawing was te groot en die swart hond wat ek kos moes gee, groter as alles in my lewe.”
“Die man het vir my om bevryding gebid en my hele lyf het geruk. Terwyl ons bid, was dit asof ek donderweer en ysterballe op die dak hoor. Pleks van die lig waarop ek gehoop het, het dit al donkerder om my geword. Ek het op my knieë neergeval en die Here gesmeek om my te help. Toe gaan daar ‘n lig vir my aan. Dit was die ongelooflikste gevoel. Ek het in daardie stadium out of body experiences, paranoia, transe en hallusinasies van dwelms ervaar, maar so ‘n keerpunt het ek nog nooit beleef nie.”
Hy het die man nooit weer gesien nie, maar hy het aan die lig bly vashou. Sy ouers het hom na ‘n kliniek in Johannesburg geneem waar hy net die nodige by hom kon hou. “Ek was gedwing om op my knieë te bly. Aande lank het ek gebid en gesê: ‘Here, ek is in hierdie plek, maar ek hou nou vas. Daardie lig gaan my lei tot waar ek moet wees’.”
Sy ouers, Gustaf en Susan, het op ‘n dag vir hom ‘n pakkie beskuit en sigarette gebring. In die beskuit was ‘n briefie van sy ma met die boodskap dat hy Psalm 31:15 en 16 moet lees.
“Toe ek die Bybel oopmaak, het daar gestaan die Here is my God en my toekoms is in sy hande. Ek het op my knieë neergeval. Daarna het ek uit desperaatheid die woorde baie keer ten hemele geskreeu.”
Sy pa het in daardie tyd hard met hom gepraat: “Werner, jy het jou kar verloor, die onderneming se deure staan toe en die gebou is in die mark. Jy kan nie terugkom Parys toe om weer ‘n onderneming te begin nie. Jy gaan in die kliniek bly vir drie maande – of ses jaar – tot jy al jou nonsens los. Jy gaan ‘n werk uit hierdie kliniek kry en voor begin.”
“Ek het ná drie maande uit die kliniek gestap en is terug Parys om van voor af met my ontwerpwerk te begin. Verlede jaar het ek die beste gedoen sedert ek 17 jaar gelede hiermee begin het.
“Dit het stadig gegaan. Ek was nog in rehab toe ‘n kliënt my genader het. Dit was swaar aan die begin, want ek het my selfvertroue verloor. Ek het in die verlede goed soos dwelms vertrou as die kruk wat my sou deurtrek. Nou was ek alleen en moes op die Here vertrou.”
Hy het geleer om vir die hier en nou te leef. Dit gaan vir hom nie meer oor die groot oomblikke van glorie nie, maar oor elke vrou wat voor hom staan en ‘n rok aanpas. “Sy is vir my net so belangrik soos elke groot show waaraan ek al gewerk het.”
Hy sê hy ná sy vroeë sukses in die modewêreld het dinge net groter en beter geword, maar uiteindelik vas alles vir hom te veel.
“Ondanks die voorspoed was ek steeds alleen en ek het myself steeds nie gevind nie. Mense het my by glansgeleenthede gesien, maar nie geweet hoe alleen ek eintlik was nie. Alleen in my dwelmhel.
“My dwelmprobleem het begin toe ek een aand saam met vriende by ‘n klub ingestap het. Dit het gelyk of almal van my hou! Almal was so high soos kites. As jy high is, hou almal van mekaar.”
Die versoekings was daar. Alles in hom het geskree, néé! Maar hy het tog die eerste Ecstacv-tablet geneem. Ná Eestaey het dinge tot ander dwelms gelei, want hy het geglo dit sal hom help om sy loopbaandruk te hanteer.
‘”Ek werk hard en speel nog harder,’ het my motto geword. Toe ek onlangs die prent Wolf of Wall Street sien, het ek myself herken. Maar alles in die lewe het ‘n vervaldatum. Daar het ‘n tyd gekom
‘Ek was nog in “rehab” toe ‘n kliënt my genader het. Dit was swaar aan die begin, want ek het my selfvertroue verloor’
toe dinge verkeerd gegaan het. Ek kon nie meer al die balle in die lug hou nie. Ek moes soggens iets drink om my aan die gang te kry en iets deur die dag om my aan die gang te hou.”
Hy sê verslawing trek almal om jou in ‘n bose kringloop in. Aan die begin kon hy dit wegsteek.
“My pa was ‘n kaptein in die Polisie en het daarna vir ‘n groot speuronderneming gewerk. Hy kon enigiets uitsnuffel maar ironies genoeg het hy nie gesien sy seun verval in dwelms nie. My ouers het in ‘n stadium gedink ek is besig om ‘n senuineenstorting te kry en het my na ‘n sielkundige geneem. Hy moes seker gehoor het: ‘Hier is Werner, hy kom van die Vrystaat af en hy het ‘n senuweeprobleem.’ Hy het my gevra wat maak my so gespanne. Ek het reguit gesê ek het ‘n dwelmprobleem.”
Werner sê dwelms is maklik om te kry as jy in die regte kringe beweeg. “In daardie stadium was ek op Cat. Dit het my ongelooflik ligter laat voel. Later was dit crystal meth. Ek het baie energie gehad en ek kon uit die boks dink. Ek het nagte deur gewerk, maar eensamer geraak, want dwelms word jou beste vriend.
“Maar in 2003 het die dood van ‘n goeie vriend van my – hy het ‘n verkeerde mengsel gebruik – my geskok. Ek het my afgesonder onder ‘n bandana en het my dae lank in my meenthuis in Northelitf toegesluit en die nagte deur gesnuif. Dit was ‘n eensame verslawing. Ek het so hard na myself gesoek, maar myself net al meer verloor. Dwelms het my goed oor myself laat voel maar nou weet ek dit was ‘n leuen van die duiwel.”
Hy het in ‘n liefdevolle huis grootgeword, maar het altyd gedink niemand verstaan hom nie. “Ek het gedink niemand ken my regtig nie. Ek het nie gevoel asof ek aanvaar word nie. Sodra mense toenadering gesoek het, het ek weggehardloop, want ek was bang vir verwerping.” Hy het gevoel die strewe na sukses het sy lewe oorgeneem. Alles moes groter en beter wees. Tweede beste was nie goed genoeg nie. Tot alles op ‘n dag ineengestort het. “Ek het in 2007 probeer selfmoord pleeg. Ek het hande vol pille soos Smarties gesluk. Terwyl ek die pille gesluk het, het ek geen vrees gehad nie. Dis of ‘n mens reg is om na die volgende fase oor te gaan. Ek het vroeër ook probeer, maar dié keer het ek geweet ek gaan regtig sterf. Joan Rivers het eenkeer gesê daar is nie ‘n hemel en hel nie, net ‘n ‘peaceful black velvet sleep’. Dis waarheen ek op pad was. Ek het geweet nou gaan ek vir ewig slaap.”
Sy ouers het hom gekry en gered, maar dis eers toe hy ‘n jaar later met sy gesig op die vloer in dwelmhallusinasies vasgevang was, dat hy ervaar het wat die hel regtig is.
“Ek het die hel as ‘n vreeslike, diep alleenheid ervaar. Ver van als. En toe skiet daar ‘n ontsettende pyn deur my Iyf. In my hallusinasies het ek my familie en my ouers langs my sien staan. Hulle het na my gekyk. Ek het hulle gesmeek om my te help, want ek was dors en die pyn was verskriklik. Ek kon sien hoe my ma met haar oë my pa vra om my te help. Hy kan niks daaraan doen nie, het my pa gesê.”
Werner sê hy is vandag dankbaar vir al die kanse wat hy gekry het. “Sal ek weer so iets doen? Nooit! Ek is nie bang vir ‘n terugval-episode nie. As God jou vry maak, maak Hy jou heeltemal vry.”
Hy het intussen weer Mej. Wêreld- en Mev. Suid-Afrika-rokke ontwerp. “Ek doen dit nou omdat dit lekker is en ek dankbaar is vir die groot genade. Die geluk van ‘n vrou wat mooi voel in ‘n spesiale rok is vir my nou soos ‘n skrefie van die hemel wat oopgaan.
‘Ondanks die voorspoed was ek alleen. Alleen in my dwelmhel’
“Maar my journey is nog nie klaar nie. Ek is nou vyf jaar skoon en gaan my lewe nog ‘n verdere 360 grade laat draai. Ek kan nog nie heeltemal die prentjie sien van wat gaan gebeur nie, maar dit kom.”
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |