Verstrik in die web
Deur: Anne Marais. Foto: Gallo/Getty Images. Artikel uit die September 2012 weergawe van Rooi Rose Tydskrif.
Ons spring maklik op die internet, of kuier lekker op sosiale netwerke. Maar daar kan ‘n angel in die gesit agter die rekenaar wees.
Internetgebruik kry deesdae uit alle oorde slae. Die web smokkel glo met ons koppe, maak ons dommerig, herbedraad die brein, verminder vaardighede… En daar hou dit nie op nie. Wêreldwyd raak al meer mense in die web van internetverslawing verstrengel.
Sandra se lewe lê aan skerwe. Die 22-jarige student vertel haar verhaal op ‘n internet-geselsforum. “Dit het onskuldig begin. Eers het ek net nou en dan ontvlug wanneer ek eensaam was. Dit het begin met sosiale netwerke soos Facebook en om my e-posse gereelder te lees. Ek het ook heeltyd probeer om op die hoogte van die nuus te bly. Ek het dit gedoen om te ontsnap aan onwelkome gevoelens van verveling, depressie en eensaamheid. Omdat ek alleen bly en nie soos baie ander studente in ‘n koshuis woon nie, het ek dikwels ‘n behoefte aan sosiale stimulering. Ek gaan ook nie naweke huis toe nie, want ek studeer ver van die huis af.
“Ongelukkig het die probleem geleidelik al erger begin word. Ek het ongemerk meer tyd aanlyn begin deurbring.
“Dit het nou ‘n punt bereik waar dit my hele lewe oorheers. Ek kan dit glad nie meer beheer nie. Ek het ‘n onbeheerbare drang om gedurig op die net rond te snuffel. Wanneer ek nie e-posse nagaan nie, word ek gespanne. Ek het ‘n obsessie om op die hoogte te bly met alles op die internet. Dit ontwrig my hele lewe. Ek verloor tred met tyd, raak agter met my studie, woon dikwels nie klasse by nie en is nou heeltemal asosiaal. Van my vriendskappe het al skipbreuk gely. Ek het selfs my persoonlike higiëne begin verwaarloos omdat ek naweke na ontbyt voor die rekenaar inskuif en eers na middagete aantrek. Ek kan nie meer so aangaan nie. My lewe stort in duie. Ek het hulp nodig!”
Wat is internetverslawing?
Dr. Jacomien Germishuys, ‘n opvoedkundige sielkundige wat haar doktorsgraad oor internetverslawing gedoen het, sê Sandra se situasie is nie uniek nie. Miljoene mense gebruik die internet wêreldwyd om te werk, navorsing te doen en te sosialiseer. Maar verslawing is ‘n verskuilde gevaar en internetverslawing is nes enige verslawing kompleks.
Sy sê ‘n mens is verslaaf wanneer die internet in so ‘n mate kompulsief en oormatig gebruik word dat dit jou daaglikse handel en wandel ontwrig.
“Dit word ‘n probleem as jy meer tyd aanlyn as aan vriendskappe bestee, of as jou werk daaronder begin ly.”
Dr. Peter Swanepoel, ‘n psigiater in ‘n private praktyk sê die term “internetverslawing” word nie amptelik omskryf nie. Maar daar is ‘n hewige debat aan die gang oor of dit ‘n geestessteuring as sodanig is.
“Dit val binne die spektrum van obsessionele versteurings. Die eintlike probleem is nie die internet nie, maar die gedrag wat daarmee gepaard gaan.”
Waarom?
Die meeste mense raak aan die internet verslaaf omdat hulle ontvlugting soek omdat hulle angstig, onseker, depressief of eensaam is, sê dr. Germishuys.
“Wanneer iemand ‘n slegte dag beleef, is dit maklik om die rekenaar aan te skakel. Maar ongelukkig is dit net ‘n tydelike oplossing. Daar is ander maniere om stres te verlig wat baie konstruktiewer en opbouender is. Alle mense beleef slegte dae en slegte emosies – dis normaal en daar is beter maniere om dit te hanteer.”
Die algemeenste soorte internetverslawing is verslawing aan kuberseks, oormatige afhanklikheid van kuberverhoudings, kuberdobbelary, kuberkoopverslawing, informasieoorlading en verslawing aan aanlynspeletjies, sê dr. Germishuys.
Kenneth Wilson, ‘n voorligtingsielkundige betrokke by die Cleanstart Wellness-sentrum sê kuberseksverslawing is verreweg die algemeenste soort verslawing wat hy teegekom het.
Die verslawing ontstaan dikwels omdat mense na vervulling en opwinding buite ‘n bestaande verhouding soek. Maar wanneer dit gebruik word om verveling, angs of magteloosheid op ‘n kompulsiewe manier te verlig,word dit ongesond.
Wie raak in die web verstrik?
Sekere mense het ‘n groter kans om aan die web verslaaf te raak. Navorsing wys dat sommige mense ‘n genetiese geneigdheid tot verslawing het en mense wat depressief, angstig en sosiaal geïsoleerd is, of reeds met verslawing worstel, is ook vatbaarder. Ander faktore is swak interpersoonlike vaardighede, ‘n gebrekkige sosiale ondersteuningstelsel en eksterne en interne stressors.
Dr. Germishuys noem die tipiese simptome wat op verslawing kan dui: Jy verloor tred met tyd, sukkel om daaglikse take te voltooi, jou sosiale lewe stort in duie, jy ly finansiële verliese, jy het skuldgevoelens oor internet gebruik en ‘n gevoel van euforie wanneer jy aanlyn is. Fisieke simptome is ook nie ongewoon nie. So kan karpale tonnelsindroom, rugpyn, stywe spiere, gewigstoename, slaaploosheid en seer oë ook voorkom.
Sandra sê aan die einde van ‘n dag is sy suf. “My rug is seer, my oë brand en ek voel soos ‘n kind wat betrap word dat hy koekies steel. Ek weet dis verkeerd, maar sukkel om op te hou.”
‘n Mens moet darem ook in gedagte hou dat almal wat baie tyd op die internet deurbring nie noodwendig verslaaf is nie.
Nicola (52) is ‘n skrywer met ‘n voldagwerk en woon alleen. “Wanneer ek saans tuis is, bestee ek tyd om op Facebook met geesgenote kontak te maak. Ek hou ook op die manier met my dogter in Skotland kontak. Dit is my manier van sosialiseer. Ek kyk nie televisie nie en wanneer ek nie tyd aanlyn deurbring nie, skryf ek.”
Kuierplek met ‘n kinkel
Ook Facebook het ‘n skadukant. Christa* (47) vertel dat sy uurliks op Facebook inskakel om boodskappe na te gaan. “Ek is van nature ‘n skaam mens. Facebook stel my in staat om op ‘n veilige manier met mense te kommunikeer. Ek kan beheer hoe en wanneer ek wil kontak maak.”
Facebook hou ‘n gevaar in dat mense meer narsisties kan raak omdat hulle heeltyd hul eie beeld poets. Die netwerk skep ook ‘n valse gevoel van “om te behoort” en kan tot onegte verhoudings lei omdat mense wanvoorstellings van hulself maak.
Die sosiale netwerke het wel kitskommunikasie tot gevolg, maar sosiale vaardighede soos nie verbale kommunikasie bly in die slag. Mense leer mekaar ook binne ‘n kunsmatige kuberkonteks ken, wat kitsverhoudings skep wat net so gou beëindig kan word.
Dis belangrik dat vriende mekaar in meer as een konteks waarneem, mekaar se foute leer verdra en van aangesig tot aangesig kommunikeer. In gewone vriendskappe is daar ‘n proses van groei wat by Facebook afwesig is.
By kinders kan dit ‘n invloed op breinontwikkeling hê, omdat die dele van die brein wat in alledaagse kommunikasie gebruik word, minder gebruik word. Dit kan ook die aandagspan beïnvloed en ‘n behoefte aan kitsbevrediging skep.
Kry professionele hulp
Dr. Swanepoel sê omdat internetverslawing dikwels met ander probleme soos depressie, angs of gebrekkige sosiale vaardighede gepaard gaan, moet die probleme ook aandag kry. Verslaafdes kan baat vind deur by ‘n psigiater of sielkundige om hulp aan te klop.
Dr. Colinda Linde, ‘n kliniese sielkundige wat in kognitiewe gedragsterapie spesialiseer, sê irrassionele denke is dikwels die wortel van die kwaad by probleme soos depressie en angs. Hoewel daar by die toestande ‘n chemiese komponent betrokke is, moet onderliggende denkfoute wat die probleem vererger, ook behandel word.
Sy sê rasionele denke is gegrond op feitelike aannames, terwyl irrasionele denke op emosies en persepsies berus. Irrasionele denke wat probleme kan skep, is ‘n alles-of-niks siening oor kwessies soos geluk en sukses, perfeksionisme, ‘n ingesteldheid van kitsbevrediging en ‘n onrealistiese verwagting oor alledaagse verhoudings en die lewe. Wanneer hul behoeftes dan nie deur normale aktiwiteite en verhoudings bevredig word nie, ontvlug hulle na die kuberruim om oplossings te soek. In uiterste gevalle kan mense so verstrik raak in hierdie fantasiewereld dat hulle nie meer die werklikheid toereikend kan hanteer nie – veral die wat op die randjie van ‘n psigose is, loop hierdie gevaar.
Fisieke Komponent
Dr. Swanepoel sê medikasie soos antidepressante kan vir die verslawing help omdat die ver- steuring ‘n kompulsiewe aard het. By hierdie gedrag is daar dikwels ‘n probleem met die seroto- nienvlakke in die brein. Navorsing toon ook dat mense wat oormatige tyd op die internet deurbring, dikwels morfologiese verandering aan die brein, soortgelyk aan die van mense met obsessief-kompulsiewe versteurings, ondervind. In ernstige gevalle kan toelating tot ‘n rehabilitasiesentrum nodig wees.
Lig in die tonnel
Die versteuring kan suksesvol behandel word mits die verslaafde bereid is om sy probleem te erken en sy samewerking met die behandeling te gee.
Mense besef ongelukkig dikwels nie dat hulle ‘n probleem het nie, sê dr. Germishuys. Omdat die internet so toeganklik is, kom die probleem soms ongemerk voor.
“As familie en vriende begin kla, is dit tekenend van ‘n probleem.”
Ander hulpmiddels is om by ‘n ondersteuningsgroep in te skakel vir mense met depressie of angs. Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsondersteuningsgroep skakel met ondersteuningsgroepe landwyd. Verslaafdes aan internetpornografie kan baat vind by die groep Sex Addicts Anonymous. Ook op die internet is daar groepe wat ondersteuning bied. Dit kan natuurlik ‘n probleem wees omdat die internet juis die probleem is.
Dr. Swanepoel sê daar is sagteware programme wat internetverbruik monitor sodat jy kan tred hou met die tyd wat aanlyn deurgebring word. Dis dikwels nodig om die probleem multidissiplinêr te behandel, dus is ‘n span kundiges nodig. Die soort verslawing is kompleks, maar oorkombaar. Die lig aan die einde van die tonnei is dat iemand wat regtig gehelp wil word, die stryd halfpad gewen het.
Feite oor internetgebruik
- 140 miljoen tweets word elke dag gestuur.
- 3 miljard video’s word per dag op You Tube gekyk.
- Daar is 144 miljoen blogs wêreldwyd.
- Daar is daagliks 60 miljoen opdaterings op Facebook.
- Daar is meer as een miljard soektogte op Google per dag.
Bron: www.google.co.uk/internetstats
Selfhelpwenke
- Kry professionele hulp vir onderliggende depressie of angs.
- Bou ‘n sosiale ondersteuningstelsel.
- Kry belangstellings of stokperdjies buite die web en kweek nuwe gewoontes aan.
- Monitor jou tyd aanlyn.
- Stel vir jouself tydsbeperkings.
- Stel realistiese doelwitte oor internetgebruik.
- Kry ‘n noodplan vir ‘n emosionele krisis.
- Vertel geliefdes van jou probleem en vra hulle om jou te monitor.
- Koop voorafbetaalde data. So het jy beperkte toegang en kan tred hou met die koste.
Wenke vir ouers
- Bly op die hoogte van jou kind se internetgebruik.
- Sit die rekenaar op ‘n sigbare plek.
- Hou kommunikasiekanale oop, bring genoeg tyd saam met jou kinders deur, en lig hulle oor moontlike gevare in.
- Stel perke en tydsbeperkings en hou by ouderdomsbeperkings.
- Stel ‘n voorbeeld en beperk jou eie gebruik.
- Gebruik Netnanny-sagteware om inligting te blokkeer en tyd te beperk. Sagteware is beskik- baar by www.netnanny.com
Nuttige webwerwe
- Sex and Love Addicts Anonymous – www.slaasa.co.za
- www.psychcentral.com/netaddiction
- www.psychforums.com (ondersteuningsgroepe)
Kry hier hulp
- Die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsondersteuningsgroep (SADAG) 0800 567 567
- Dr. Jacomien Germishuys iaddiction@gmail.com
- Dr. Colinda Linde 011 783 02414 of cbtpractice@mweb.co.za
- Kenneth Wilson kenneth.wilson@wol.co.za
- Dr. Peter Swanepoel 044 870 0130
- Cleanstart-rehabilitasiesentrum: info@cleanstart.co.za
*Skuilname is gebruik
Internetverslaaf?
Op ‘n skaal van een tot vyf antwoord die volgende vrae (1 – min; 2 – soms; 3 – dikwels; 4 – gereeld; 5 – altyd; 6 – nie van toepassing)
⃝ Ek bring dikwels meer tyd op die internet deur as wat beplan is.
⃝ Ek verwaarloos huishoudelike take ter wille van die internet.
⃝ Ek verkies die internet bo intimititeit met my lewensmaat.
⃝ Ek sluit aanlynvriendskappe.
⃝ Familie en vriende kla oor die tyd wat ek aanlyn deurbring.
⃝ My studie/skoolwerk/werksprestasie/produktiwiteit ly onder my internetgebruik.
⃝ Ek gaan e-posse deur eerder as om ander dinge te doen.
⃝ Ek is op die verdediging of geheimsinnig oor my internetgebruik en probeer wegsteek hoeveel tyd ek aanlyn deurbring.
⃝ Ek ontvlug aan onaangename gedagtes deur internetgebruik.
⃝ Ek is bang dat my lewe sonder die internet saai en vervelig sal wees.
⃝ Ek vererg my as iemand my pla terwyl ek aanlyn besig is.
⃝ Ek verslaap weens laatnag-aanlynsessies.
⃝ Ek is gepreokkupeerd met gedagtes om aanlyn te gaan, of fantaseer daaroor.
⃝ Ek onderhandel met myself of ander om net nog ‘n paar minute op die internet deur te bring,
⃝ Ek probeer my tyd aanlyn beperk, sonder sukses.
⃝ Ek verkies om tyd aanlyn deur te bring eerder as om sosiaal te verkeer.
⃝ Ek voel depressief en angstig as ek nie aanlyn is nie. Dit word net verlig as ek aanlyn gaan.
⃝TOTAAL
Hoe hoër jou telling, hoe groter jou neiging tot internetverslawing. ‘n Telling van 20-49 is gemiddeld; 50-79 kan op sporadiese probleme dui; 80-100 dui op ‘n ernstige probleem.
Leserforum
Vraag: Wat doen jy die graagste op die internet en hoe gereeld gebruik jy die web? Dink jy dis moontlik om aan die internet verslaaf te raak?
Ek is mal oor die internet. Ek help my graaddrieseuntjie graag met sy take en soek sy inligting vir hom sodat hy goed kan doen. Ek glo ‘n mens kan aan die internet verslaaf raak en baie mense gebruik die web om die verkeerde redes.
GIoudina Potgieter
Ja, ek dink ons jonger geslag is verslaaf aan alles wat die internet bied. Vanweë my werk gebruik ek die internet baie vir finansiele en banksake en vlugbesprekings. Die lekkerste vir my is wanneer ek op die internet kan gaan soek na nuwe kwiltidees en patrone. Dit is wonderlik om te kan sien wat ander mense met lappies uitrig en dit motiveer my ook weer om met ywer ‘n nuwe projek aan te pak. Die internet maak dit alles so lekker toeganklik en maklik om met mense in aanraking te kom wat dieselfde belangstellings deel.
Marlene Erlank
Ek google alles. Ek hou daarvan om na te lees oor nuwe boeke, gesondheid en resepte. Ek gebruik dit ook vir werk, aangesien ek ‘n grafiese kunstenaar is. Die gebruik van die internet is deel van my daaglikse werk.
En ja, ek glo dis moontlik om hieraan verslaaf te raak.
|
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |