Verslap die Pas – Kom tot Rus
Die jaar lê amper halflyf oor die wenstreep en Desember se uitspantyd en ‘n nuwe sarsie energie lê ver in die verskiet.
Cornél Dunn het ‘n paar unieke troetelhoekies tuis geskep waar suwwe lywe tot rus kan kom.
Tee vir Een
‘n Japanese teeseremonie is ‘n betreklike nuutjie in die Westerse wêreld. Daar is ‘n splinternuwe teehuis in De Waterkant waar Westerlinge alles van die Japanese teekultuur kan leer en ‘n teeseremonie kan meemaak.
Geniet die seremonie in die gemak van jou huis of tuin. Dis belangrik dat die tafel ook mooi lyk. Die seremonie word “sadou” genoem en beteken “die betekenis van tee”. Die twee belangrikste aspekte van die seremonie is balans en eenvoud. Hier draai alles om die ervaring en waardering van die drankie.
Die groen tee word in ‘n kyusu, ‘n Japanese teepot, gemaak en in ‘n oorlose koppie, chawan, geskink. Vat die chawan met jou regterhand en sit dit in die palm van jou linkerhand. Draai die chawan drie maal kloksgewys voor jy van die tee drink.
Jy kan uit ‘n verskeidenheid teesoorte kies as die smaak van groen tee jou nie aanstaan nie. Kamille- en vanieljetee maak jou rustig en sal jou lekker laat slaap. Suurlemoentee is verfrissend en chai beloof inspirasie.
‘n Stilwordhoekie
Gebruik die oeroue beginsel om stil te word: Maak jou oë toe. Verbeel jou daar is ‘n toutjie aan jou kop wat saggies boontoe getrek word. Haal een keer diep asem. Voel hoe die lug deur jou neus in- en uitgaan, Fokus op die geluide om jou: wind, water, voëls of die verkeer. Wees bewus van die gedagtes wat deur jou kop stroom. Neem hulle waar asof jy na ‘n waterval kyk, en laat hulle gaan.
Onthou dat jy niks hoef te doen of te bereik nie. As jou gedagtes oor-neem – en hulle sal – kom jy gewoon weer terug na die geluide om jou. Hoe goed jy dit “regkry,” is nie die punt nie, wat saak maak, is dat jy jou ‘n stil tydjie gun. Begin met vyf tot tien min. per dag. As jy ‘n dag oorslaan, gaan jy die volgende dag voort.
Kokon
Gaan sit ‘n rukkie in die wintersonnetjie om jou rustende polsslag te verlaag en van stres ontslae te raak. Sonlig verhoog die produksie van endorfiene en serotonien wat jou gemoed ligter maak. In kouer wêrelddele gebruik hulle in die winter lig-terapie om depressie tee te werk. Hier het ons die ware Jakob. Net tien minute in die sonlig sal jou ook beter laat slaap. Kry sommer terselfdertyd ‘n goeie skeut vitamien D in terwyl jy die louwarmte geniet.
Klink ‘n Glasie op Jouself
Indien ‘n glasie donkerrooi merlot jou plesiertjie is, moenie te skuldig voel nie (mits jy dit tot een glasie beperk), want gesond-heidskenners sê mos daar is voordele in hierdie voggie. Die resveratrol in rooiwyn is ‘n kragtige antioksidant.
Jou eie Voetspa
Gooi ‘n lagie spoelklippies in ‘n groot skottel. Meng 2 eetlepels Engelse sout, 2 druppels essensiële pepermentolie, 2 druppels essensiële suurlemoenolie en genoeg warm water om jou voete te bedek en gooi in die skottel. Strooi ‘n paar hande vol vars roosblare oor die water en week jou voete vir sowat 15 minute daarin.
Masseerolie
Na so ‘n voetspa-sessie kan jy jou met tuis-gemaakte voetolie bederf. Meng 10 ml soetamandelolie, 5 druppels essensiele suurlemoenolie en 2 druppels essensiele laventelolie. Vryf die olie in jou voete, trek dik sokkies bo-oor aan en daar’s weer ‘n huppel in jou stap.
Mooimaakhoekie
‘n Mooimaakhoekie is binne almal se bereik. Pleks van ‘n moderne badkamer-kassie is die twee wasbakke op ‘n antieke kassie geinstalleer. Outydse emaljekomme is ‘n goeie plaasvervanger as die begroting knyp. Met ‘n verweerde spieel, ouma se kam-en-borsel-stel en ‘n ou kantnagrokkie wat so terloops aan ‘n hak hang, sal jy die romantiek kan ruik.
Badkamer vir ‘n Dame
‘n Groot skerm skei die bad in die hoek van die slaapkamer van die slaapgedeelte sodat jy steeds in privaatheid kan bad. Wat hierdie badkamer so ideaal maak, is dat jy meubels in jou badkamer kan inbring en die voorkoms elke dag kan verander. Jy word nie deur mure aan bande gelê nie, en die moontlikhede is eindeloos.
Tuisgemaakte Badsout
Strelende badsout of -olie in ‘n warm bad is aan die einde van ‘n lang dag ‘n salige bederf. Maar die lekkertes kan jou bederf-geldjies ‘n redelike knou gee. Maak jou eie: Meng ‘n koppie Engelse sout, ‘n koppie growwe sout, 6 druppels bloekomolie, 10 druppels roosmarynolie en 15 druppels pepermentolie. Om ‘n lekker nagrus te verseker, kan jy ‘n skeutjie fyn gemaalde kamille bygooi en ‘n hand vol roosblare vir die mooi. Moenie die kerslig vergeet nie.
Woorde en Stilering deur Cornél Dunn. Foto’s deur Johan Wilke. Leefstylassistent: Sybil Doms. Model: Elizabeth Strydom. Ligging: www.sunelle.co.za Hierdie artikel is uitgehaal uit die June 2010 uitgawe van Rooi Rose. Vir die besonderhede van bykomstighede verskaffers, koop gerus hierdie tysdkrif.
|
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |