Vegter vir Padregte
Deur: Ilse Salzwedel. Stilering: Suzanne Venter. Hierdie artikel is geneem uit die Februarie 2012 weergawe van Rooi Rose Tydskrif.
Howard Dembovsky van Justice Project SA is ‘n voorvegter vir reg en geregtigheid op ons paaie. Hy huiwer nie om openbare veldtogte te voer oor kwessies soos onwettige boetes, onregmatige arrestasies, die tolpaaie en blouligbendes nie. Maar, sê hy, as jy jou op jou regte wil beroep, onthou jou verpligtinge.
Wie is Howard Dembovsky?
Howard (49) is ‘n oud-polisieman van Zimbabwe. Sedert hy in SA kom woon het, het hy ‘n suksesvolle onderneming in die IT-bedryf opgebou. In April 2008 is hy onregmatig vir roekelose bestuur gearresteer nadat hy (op sy motorfiets) na die skouer van die pad moes uitswaai om ‘n botsing te vermy met ‘n vragmotor wat voor hom ingery het. Die vragmotorbestuurder het rustig aangery.
Vyf hofverskynings en duisende rande later is die saak teen Howard teruggetrek. Dit was toe, vertel hy, dat hy besef het hoe die verkeerspolisie, SAPD en die howe hul regte kan misbruik. “Ek en ‘n paar mense wat soos ek daaroor voel, het bymekaargekom en Justice Project SA gestig.” Die organisasie het intussen sy voltydse werk geword. “Sewe dae per week, agtien uur per dag. Ek het my vaste werk gelos om ander mense te help. Maar ek is nogal trots daarop. Hoeveel mense ken jy wat alles sal opgee net om ander teen uitbuiting te beskerm?”
JPSA word wyd gesien as ‘n groep wat motoriste se regte beskerm. Beteken dit motoriste kan doen wat hulle wil en steeds jou hulp vra?
Beslis nie. Jy moet die wet gehoorsaam, maar dan moet die owerheid dit ook reg toepas. Onthou, ‘n kriminele oortreding is ‘n lewenslange ding – dit beteken jy kan nie ‘n visum kry nie, mag nie emigreer nie, niks, want jy het ‘n kriminele rekord. Motoriste moet dit onthou, maar ook die owerheid wat mense onregmatig vervolg.
JPSA is baie aktief. Julle het veldtogte teen die tolpaaie om Gauteng, en het al klas-aksies gebring teen die Johannesburgse Metropolisie (JMPD) oor onwettige spoedboetes, het die foute met AARTO uitgewys en onlangs 46 646 handtekeninge in drie weke ingesamel om blouligkonvooie te ver- bied. Wat dryf julle?
My standpunt is eenvoudig: as jy nie ‘n wet reg toepas nie, hoekom die moeite doen om dit hoegenaamd op te stel? En korrekte wets-toepassing sal lei tot meer wetsgehoorsaamheid. Dan sal jy nie nodig hê om mense met onregmatige arrestasies te intimideer nie.
En moet tog nie vir my sê “ja, maar dis die taxi’s” nie. Daar is net soveel mammas wat met hul kinders in die kar verkeerswette oortree. Ongelukkig wil ons in dit in SA graag ‘n rasding maak, maar dit is nie. Dis ‘n endemiese siekte eie aan SA. Ons wil die SA paaie veiliger maak – in Brittanje is daar 34 miljoen mense met ‘n wettige bestuurslisensie met 2 400 sterftes weens padongelukke verlede jaar. Hulle tel ook mense by wat binne dertig dae weens ‘n ongeluk sterf. By ons is daar 9,5 miljoen bestuurders, en in 2010/11 het daar 13 800 mense op die botsingtoneel gesterf. Mense wat daarna sterf, is nie eens in berekening gebring nie. Ek dink die ware sterftesyfer op ons paaie is nader aan 45 000 per jaar as jy in ag neem dat mense later aan hul beserings sterf.
Ons ander oogmerk is natuurlik om die owerheid tot verantwoording te roep as dit by korrekte wetstoepassing kom, en om korrupsie uit te roei.
Hoe voel jy oor spoed?
Die borde langs ons paaie sê “speed kills”. JPSA voel dit moet eerder lui: “speed matters, impact kills.” Mense besef nie watter verskil spoed aan impak maak nie. Die verskil tussen 60 km/h en 65 km/h is net 5 km/h, en mense dink nie dis veel nie. Maar in ‘n stedelike gebied kan daardie 5 km/h die verskil maak tussen ‘n kneusing en ‘n ernstige, permanente besering. Dit gaan oor remafstand en reaksietyd – die mens se reaksietyd het presies dieselfde gebly oor eeue heen. Moenie vir my vertel moderne motors se remme is soveel beter nie. As jy ‘n voetganger vyftig meter van jou af sien en die rem trap op 60 km/h, sal jou spoed net 5 km/h wees wanneer jy hom tref. As jy op dieselfde afstand iemand sien en rem, maar 65 km/h ry, tref jy hom teen 35 km/h. Sien jy die verskil?
En drink en bestuur?
As jy drank by menslike reaksietyd en spoed sit, het jy nog stadiger reaksie en ernstiger gevolge. Of jy nou een glas of een bottel drank gedrink het, dit maak ‘n verskil. Verskillende mense reageer boonop verskillend op drank. Ons het ‘n kulturele verandering nodig as dit kom by die aanvaarbaarheid van drank en dwelms as dit by bestuur kom. Soos sake nou staan, gee die owerheid mense eintlik toestemming om wel onder die invloed van drank te bestuur. Mense verstaan nie hoeveel drankies hul bloed-alkoholvlak oor die wettige perk stoot nie. Die Mediese Navorsingsraad het bevind dat alkohol betrokke is by 58% van botsings in SA. Paramedici wat op sulke tonele werk, skat dis nader aan 80%.
‘Ek dink die ware sterftesyfer op ons paaie is nader 45 000 per jaar as ‘n mens in ag neem dat mense later aan hul beserings sterf”
Maak dit ‘n duidelike opdrag: jy mag nie drink nie. Dis ons standpunt, en ons het al met die Departement van Vervoer ernstig hieroor gepraat. En het jy geweet daar is tans geen wetstoepassing as dit kom by dwelms en bestuur nie?
Polisiëring deur kameras maak jou kwaad …
Ja, want dis nie polisiëring nie, maar ‘n geldmaakspul. Dis bewys dat mense versigtiger bestuur vir minstens 15 kilometer nadat hulle ‘n verkeerspolisieman gesien het. So, sigbare,gefokusde en doeltreffende polisiëring is die antwoord op die chaos en dood op ons paaie. Ons sê dis tyd dat daar gefokus word op spesifieke oortredings deur sigbare verkeerspolisie. Tans val die fokus net op geldinsamel deur spoedkameras, maar dit beteken nie mense hou op oortree nie, al kry hulle boetes. Hoeveelhede arrestasies beiïndruk ons ook nie. Wys my eerder die hoeveelheid regmatige skuldigbevindings – dit sal mense se gedrag laat verander.
Volgens JPSA funksioneer alle verkeersowerhede tans nie eens volstoom nie…
Ja, daar is net een in die land wat 24 uur per dag en sewe dae per week met volle personeel werk, en dis in die Wes-Kaap. Hoekom werk die res saans en naweke met skeleton staff, veral as jy kyk na statistieke wat sê dat minstens die helfte van noodlottige ongelukke na donker plaasvind?
Jy gebruik nooit die woord ongeluk nie, maar botsing. Hoekom?
Botsings is meestal die gevolg van menslike optrede en foute, of bravade. Mense steur hulle nie aan spoedperk nie, en besef nie dat ‘n voertuig ‘n dodelike wapen is nie. ‘n Lisensie beteken ook nie dat jy ‘n vaardige bestuurder is nie. Jou bestuursvaardighede begin agteruitgaan die dag wanneer jy jou lisensie gekry het, want dan dink jy ‘n sitplekgordel is nie regtig nodig nie, en jy kan maar ‘n bietjie vinniger as die spoedperk ry.
Verkeersowerhede, veral in Gauteng, neem graag mense by padblokkades vir uitstaande boetes in hegtenis. Is dit wettig?
Dis belangrik om te weet daar word twee verskillende wette deur verskillende verkeersowerhede gevolg: die Strafproseswet en die AARTO-wet.ss. Onder die Strafproseswet mag jy wel vir uitstaande boetes gearresteer word indien daar ‘n lasbrief daarvoor uitgereik is omdat jy ‘n dagvaarding geïgnoreer het.
AARTO is van krag in die Johannesburg-(JMPD) en Tshwane Metropole. Al die verkeersowerhede in daardie gebiede moet AARTO toepas. Jy mag nooit vir ‘n uitstaande AARTO-boete gearresteer word nie. Dis altyd onwettig. ‘n Lasbrief vir jou arrestasie kan net uitgereik word as jy gedagvaar is en nagelaat het om in die hof te verskyn. ‘n Dagvaarding mag nie aan jou gepos word nie, maar moet in persoon op jou of enige iemand wat waarskynlik ouer as 16 is en by jou woon of vir jou werk, bestel word. Onthou, as daar ‘n lasbrief vir jou inhegtenisname is, sal jou boete nie meer op ‘n Internetwebwerf betaalbaar wees nie – dis een manier om te weet of jy uitstaande lasbriewe het. Moenie AARTO-boetes verwar met Seksie 341-kennisgewings of Seksie 56-dagvaardings nie. Ook nie met boetes wat al uitgereik is voor AARTO ingestel is nie. AARTO-boetes wat met gewone pos gestuur word, is ook onwettig, want dit moet per geregistreerde pos gestuur word.
Maar moenie enige boetes net ignoreer nie – hanteer dit deur dit te betaal of dit deur die regte kanale te bevraagteken. Om dit te betaal, is net een van jou opsies, maar dan erken jy skuld.
Sal Justice Project SA enigiemand help?
Ons het mense tot dusver verniet gehelp, maar voortaan sal jy ‘n betaalde lid moet wees. Ek het al tot R10 000 van my eie geld aan ‘n saak bestee en kwalik ‘n dankie gekry. Dit het my alles gekos, en my gesin deur hel gesit. Maar as jy ‘n lid is, kan ons kenners jou onmiddellik help. Dan kan jy ons van ‘n padblokkade af bel, enige tyd van die dag of nag.
Kyk by www.jp-sa.org vir meer inligting. of hoe om ‘n lid te word.
|
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |