Stoksiel-gelukkig
Teks: Martie Pansegrouw. Artikel uit die Maart 2015 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Om te trou of nie te trou nie, of om weer te trou of nie, is soms net hoe die meetsnoere vir ons val. Dis hoe jy dit hanteer wat saak maak.
Enkellopende vroue het lankal die negatiewe etiket afgeknip.
Om enkellopend te wees beteken nie meer soos in die vorige eeu dat jy nie opsies het nie. Jy het die keuse om te weier dat jou lewe deur die status van jou verhoudings gedefinieer word. Selfs die term “oujongnooi” is lankal nie meer relevant nie. Vroue trou in die dertig, veertig, vyftig of later in hul lewe… of glad nie. Party skei en wil nooit weer trou nie, en sommiges se lewensmaats sterf en hulle kry nie weer ‘n goeie plaasvervanger nie.
Daar is hope webtuistes en blogs waarop enkellopendes hul filosofiee deel. Een van die talle gewildes is die van Mandy Hale, ook bekend onder haar blog-lesers en Twitter-aanhangers as The Single Woman™. Haar leuse is “Life, love and a dash of sass” en sy verkondig “Single is the new fabulous!”
Vir haar gaan dit oor die strewe na “vir ewig en altyd gelukkig” – al is daar nie noodwendig iemand aan jou sy nie.
“Om enkellopend te wees is die geleentheid om jou lewe op jou eie voorwaardes te leef en nie daarvoor verskoning te vra nie,” se sy.
Sy se ‘n besige, doelgerigte vrou vol lewenslus is baie aantrekliker as ‘n vrou wat in ‘n hoekie sit en wag dat ‘n man haar bestaan erken.
“Hoop vir liefde, bid vir liefde, droom daaroor… maar moenie jou lewe laat stilstaan terwyl jy op liefde wag nie,” se sy.
“Om dapper genoeg te wees om alleen te wees gee jou die vryheid om iemand in jou lewe in te nooi omdat jy hom daar wil he, en nie omdat jy hom nodig het nie.”
Daar is seisoene van alleenwees in vroue se lewe, meen sy, maar dit kan vergelyk word met die ruspe wat homself toespin en in sy tydperk van alleenheid sy vlerke laat groei om later vry te kan vlieg.
Jou Verhoudings
Die werklikhede van ‘n enkellopende vrou se lewe hou uitdagings in en dit help nie om dit weg te redeneer met soetsappige sielkundige snert en kitsresepte nie. Om enkellopend te wees is nie ‘n doodsvonnis vir innerlike vreugde nie. Dit is wel ‘n slagveld vir jou hart as jy nie jou gedagtes en gesindheid kan regkry nie.
• Een van die kunsies is om die vreugde wat jy wel ervaar, nooit gesteel te laat word nie. Jy moet leer om jou geluk te laat groei en dit te konsolideer en as ‘n platform te gebruik sodat dit in kwadraat vermeerder.
• Die eerste strategie is om jou bagasie oor jou keuse om enkellopend te wees weg te werk sodat jy sonder negatiewe emosies ‘n nuwe blaadjie kan omslaan. Makliker gesê as gedaan! Dit het vir my gewerk om elke emosie wat my vreugde getap het, afsonderlik te verwerk. Speel eers klaar met woede, takel daarna hartseer …. Een groot berg van emosies ontmoedig jou.
• Nog ‘n strategie is om wat jy verloor het, deur iets anders te vervang. Was jy in ‘n verhouding, beplan om die tyd wat jy daaraan bestee het, met iets positiefs te vul sodat jy al hoe minder tob en werklik ‘n nuwe hoofstuk kan begin skryf. Ek het my beursie stukkend gefliek wanneer ek in ‘n groef oor my alleenlopendheid beland het, of reekse by die DVD-winkel uitgeneem en ‘n dag lank in ander se emosies verdwyn.
• Lets wat werk, is om eers volledig gelukkig op jou eie en binne-in jou te wees voordat jy daarop fokus om gelukkig saam met iemand anders te wees. Ek moes eers binne-in my so gesond word voordat my eie geluk ‘n magneet geword het vir iemand wat ‘n stukkie daarvan wou he. Dit het my agt jaar geneem voordat die sagtheid van heel wees in myself iemand weer aangetrek het.
• Die kuns is om nie jou hart vir huur aan te bied nie maar om ‘n tuiste vir iemand se hart te skep. Ek het dit reggekry deur nie te begeer wat ek nie kon kry nie. Ek weet nie of dit vir iemand anders sal werk nie. Maar dit werk ‘n lewenstevredenheid in die hand wat lyk my aansteeklik kan wees. Selfgenoegsaamheid, diepe lewensvrede en self-ondersoek het vir my gewerk.
Noudat iemand ‘n slag weer vir my omgee, hou ek hierdie goeie gewoontes in stand. Enkellopendheid kan elke oomblik weer ‘n werklikheid word vir elkeen van ons wat ‘n tweede kans kry. Ek het te hard gewerk aan my eie waarheid rondom lewensvreugde om die broosheid daarvan nie na waarde te skat nie.”
Jy kan weier dat jou lewe gedefinieer word deur die status van jou verhoudings
Jou Geldsake
• Aanvaar verantwoordelikheid vir alle aspekte van jou geldsake. Dit help nie om jou handjies hulpeloos te fladder nie – geen ridder op ‘n wit perd gaan jou begroting vir jou uitwerk, jou belasting uitpluis en jou finansiele beplanning vir jou doen nie. Dit is bowendien glad nie so moeilik nie.
• Begroot, begroot, begroot. Moet ook nie net van maand tot maand leef nie – spaar elke maand iets vir jou motor se versiening, die skoolgeld en ander uitgawes wat jy weet gaan kom.
• Skep ‘n noodfonds vir die hoe tandartsrekening, die yskas wat breek of ander onvoorsiene uitgawes. Die aanbeveling is dat jy tussen drie en ses maande se salaris in ‘n noodfonds opbou, maar elke bietjie help.
• Maak aftreebeplanning jou prioriteit – nie jou kinders se opvoeding nie (daarvoor kan hulle geld leen) en beslis nie maandelikse manikure of nuwe klere nie.
• Moet nooit as jy van werk verander jou pensioengeld onttrek nie. Jy is alleen verantwoordelik vir jou aftrede – daar is nie ‘n Plan B nie.
• Moenie beleggingsadvies van jou pa, haarkapper, kollega of enige ander leek aanvaar nie. Kry professionele raad van ‘n gesertifiseerde finansiele beplanner, ‘n geregistreerde belastingkonsultant en/of ‘n regskenner (soos nodig). Maar gaan ingelig na jou finansiele beplanner toe – jy bly verantwoordelik vir die finale besluite. Daar is briljante boeke oor finansiele beplanning op die mark en hoe meer jy lees, hoe lekkerder word dit.
• Moet om hemelsnaam nie al jou geld in een belegging sit nie, al lyk dit hoe “seker”en al is die beloofde opbrengs hoe aanloklik. Derduisende mense het al hul spaargeld in wettige, maar riskante beleggings soos Sharemax en Pickvest geplaas en pluk nou die vrugte daarvan. (En nou praat ons nie van diegene soos Herman Pretorius en ander wat mense se spaargeld geplunder het nie.) Versprei jou beleggings en wees realisties oor die verwagte opbrengs daarop, maar moenie oorversigtig wees en jou geld net in ‘n bankrekening spaar nie – die opbrengs wat jy daarop verdien, sal nie inflasie klop nie en net die koopkrag van jou geld verminder.
• Moenie geld op jou kinders bestee omdat jy skuldig voel dat jou kinders in ‘n enkelouerhuis grootword nie. Moet ook nie met jou eks meeding wanneer hy hulle uitermate bederf nie – hy doen dit waarskynlik ook net omdat hy skuldig voel.
Bou herinneringe met jou kinders eerder as om hulle met goed te oorlaai.”
|
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |