Om ‘n Legende se Kind te wees
Deur: Martie Swanepoel. Foto’s: Johan Wilke en Leana Clunies-Ross. Artikel uit die Februarie 2013 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Dedda, Mammie, Pa … vir Armin Barnard, Simone Cilliers Venter en Armand Hofmeyr is dit net hulle ouers. Vir ons is hulle legendes.
Armin Barnard
Die kamera kliek-kliek op die piek waar prof. Christiaan Barnard op 3 Desember 1967 die eerste menslike hart oorgeplant het. In die museum van die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad staan ‘n lenige jong man tussen wasbeelde van Chris Barnard en sy span. Wanneer hy glimlag, kan jy sien wie se kind hy is. Pure Barnard. Sjarme en al.
“Dis ons Barnard-manne se ding…” sê hy laggend. Hy sê hy het dalk sy pa se sjarme met vroue geërf, maar nie sy intense toewyding nie.
Op 24 is hy “uiteindelik” klaar met sy B.Com., sug Armin Barnard, Chris se seun by sy laaste vrou, Karen.
“Ek het ‘n bietjie te veel ge-party. Dis hoekom dit my so lank geneem het om my graad te voltooi.”
Hy gaan so ses maande rus en gaan dan moontlik ‘n heel ander koers inslaan. Musiek-produksie is lankal een van sy stokperdjies.
“Ek hou van elektroniese indi rock en ek is glad nie ‘n vrot DJ nie. Ek meen, hier sit ek in Kaapstad, die stad met die lekkerste musiekkultuur in die land!”
Hy is sat na vyf jaar se studeer aan ‘n “lewelose graad”. “Ek het al hierdie opgebottelde kreatiewe energie wat dreig om te ontplof. Maar ek sal nie musiek my heeltydse loopbaan maak nie, ek sal my graad as basis vir ‘n beroep gebruik. As ek die tyd kon terugdraai, sou ek eerder in ‘n kommersiële rigting wou studeer.”
Hy glo dit is nooit te laat om te verander nie. “Gelukkig steun my ma en stiefpa, die Kaapse sakeman, Saul Berman, my. Hulle het nooit aan my gekarring om harder te werk nie.”
Hy weet hy was sy eie pa se laaste droom dat een van sy seuns ‘n dokter sal word. Prof. Chris se oudste seun André, uit sy huwelik met sy eerste vrou, Louwtjie, is in 1984 oorlede. Sy twee seuns Frederick (40) en Christiaan Jnr. (38) uit sy huwelik met Barbara Zoellner is nou onderskeidelik ‘n sakeman in Zurich en restaurant- en galery-eienaar in Kaapstad. Hul ousus, Deirdre (62), was op haar dag ‘n Springbok-skikampioen.
“My pa se droom was altyd in my agterkop. Dit was trouens die ding wat mense my deur die jare die meeste gevra het: ‘Gaan jy ook ‘n dokter word?’ Maar ek het geweet dit sal geweldige toewyding verg om in Christiaan Barnard se voetspore te volg. Hoe volg jy in so ‘n man se spore? Dis mos onmoontlik!”
Hy hou nie daarvan as mense dadelik weet hy is Chris Barnard se seun nie.
“Baie van my vriende het dit eers lank na die tyd agtergekom. Ek wil immers my eie mens wees.”
Hy glo sy pa sou trots gewees het op die mens wat hy geword het, en is dankbaar vir die opvoeding wat sy ouers hom gegee het. (Chris en Karen is in 2000, ‘n jaar voor sy dood geskei.)
Hy spot dat hy deel is van ‘n gesin wat soos ‘n wingerdloot alle kante toe groei. Naas sy sibbe uit sy pa se eerste twee huwelike, het hy nog sy halfsussie, Lea, en halfboet, Zack, uit sy ma se huwelik met Saul.
“Ek en Lara, wat nou vyftien is, het ‘n spesiale emosionele band omdat ons bloedsuster en -broer is. Ek was twaalf en Lara vier toe ons pa dood is. Ek kom agter dat ek al meer tyd by my twee ouers broers deurbring. Dis vir my lekker om ‘n hegte band met hulle te hê.”
As hy aan sy kinderjare dink, onthou hy hoe baie hulle gereis het. Hy het later begin besef hoe beroemd sy pa regtig was.
“Ek het die ander kant van Chris Barnard geken. Ek was baie gelukkig om hom as pa te kon hê. Hy het my van kleins af vol wyshede gestop. Ek gebruik steeds een van sy gunstelinggedigte van R. Lee Sharpe, ‘A Bag of Tools’, as rigtingwyser in my lewe. My pa het veral klem gelê op die laaste strofe: Each is given a bag of tools, A shapeless mass, a book of rules; And each must make – ere life is flown – A stumbling block, or a stepping stone.”
Sy Dedda was ‘n wyse man. ‘n Diep denker.
Sy pa het hul kinders se wortels ook diep in sy geliefde Karoo geanker; hulle ‘n liefde vir die natuurgeleer.
“Ons het saam gejag en ek sien nog in my verbeelding hoe hy vir ure in sy rooi baadjie in die ikoniese posisie van die denker kon sit. Hy kon die vreeslikste bangmaakstories vertel en was altyd die hart van ‘n partytjie.”
Daardie rooi baadjie is die een ding wat hy na sy pa se dood wou hê.
“Hy het hom voos gedra. Ek sal altyd die tekstuur van daardie baadjie teen my wang onthou toe ek as seuntjie op sy skoot gesit het.”
Hy wens soms hy kon saam met sy pa op die stoep van hul Karooplaas sit en net lekker gesels.
Net hy en Dedda.
Simone Cilliers Venter
Simone staan enkeldiep in die water van Drieankerbaai. Naby die plek waar haar ma, die digteres Ingrid Jonker, se lyk een oggend in 1965 gekry is. Baie het na haar dood geglo sy het die see ingeloop om selfmoord te pleeg.
Dis vir haar ‘n eer om Ingrid Jonker se dogter te kan wees, en sy werk nou al twee jaar aan ‘n artistieke huldeblyk aan haar ma. Sy voel dis tyd vir haar om haar ma se storie vir die jonger geslag te vertel.
“Hoe ouer ek word, hoe nader voel ek aan haar.”
Windows of My Heart – The Simone and Ingrid Jonker Story sal onder meer uit twee CD’s, een met musiek en een met gedigte, ‘n glansboek en ‘n dokumentêre rolprent bestaan.
Sy wil ook haar eie storie deel. “Ek wil vertel hoe ek haar dood ervaar het en wat in my lewe met my gebeur het, soos hoe ek dwelm verslawing te bowe gekom het.”
Sy was sewe toe haar ma verdrink het, maar was van kleins af betrokke by haar ma se digkuns.
“Mammie het altyd haar gedigte vir my gelees en soms vir my gevra hoe dit vir my klink. Ons het saam die pad van haar digkuns geloop. Ons het saam die pad van haar digkuns geloop. Ek was haar steun en klankbord. So klein soos ek was, het ek haar aangemoedig en bygestaan. Ek onthou nog toe sy Afrikaanse Pers se Boekverkopersprys vir haar bundel Rook en Oker gewen het. Ek het geweet my ma is die beste.”
Die gedig “Die kind” is een van Simone se gunstelinge. Nelson Mandela het die gedig by die opening van die eerste demokratiese parlement in 1994 voorgelees.
Sy beskryf dit as ‘n kragtige gedig oor menseregte. Sy voel ook sterk oor menseregte en is veral gekant teen die Chinese regering se vervolging van groepe soos Falun Dafa, ‘n spirituele dissipline.
“My ander gunstelinggedig van my ma is ‘Ontvlugting'”.
Ironies is dit ‘n gedig waarin Jonker byna haar eie dood voorspel: “My lyk lê uitgespoel in wier en gras op al die plekke waar ons eenmaal was.”
Sy weet haar ma se lewe en digkuns was eens omstrede, maar bewonder haar juis vir haar individualisme en uniekheid.
Simone trek baie na haar beroemde ma en is as blonde dogtertjie dikwels op foto’s van Ingrid te sien. Daar is baie foto’s op die strand en selfs by plekke waar haar ma bundels teken.
“Mammie se mooiste karaktertrekke was haar verstommende integriteit. Sy was ‘n ontsettende diep mens.”
Sy het as kind al geweet haar ma kyk anders na dinge. Haar ma het haar gestimuleer om ook so te dink.
“Eendag toe ons op die strand was, het sy na my aangestap gekom en gevra: ‘Hoe lyk die son vir jou?’ Ek het gesê ek weet nie, maar sy het weer gevra: ‘Waaraan herinner die son jou, Simone?’ Ek onthou hoe ek opgekyk het na haar pragtige bruin oë en gesê het: ‘Die son is soos ‘n klok.’
“My mammie was die mammie van alle mammies, sy was ook my vriendin, en my kind, sy was my wêreld en alles wat in die wêreld is. Ons het saam gelag, gespeel, gehuil en saam geslaap.”
Sy vertel hoe haar kinderjare na haar ma se dood ‘n nagmerrie was; hoe sy engele om haar gevoel het as sy aan haar ma gedink het. Die verlange was baie groot.
“Alles het donker en eensaam geword, want haar glimlag was my sonskyn in die reën. As my mammie weer kon lewe, sal ek haar in my arms hou, en nooit, nooit laat los nie. Ek sal in haar oor fluister dat alles reg gemaak is, en al haar vriende hier is om ‘hallo’ te sê.”
Sy was met haar ma se dood te klein om regtig te verstaan wat gebeur het. Daarna het sy by haar pa, Pieter Venter, gaan bly. (Hy en Ingrid is 1956 getroud en in 1960 geskei.)
“My pa het my eers later van haar dood vertel. Ek het hom glad nie geglo nie, maar moes dit namate ek groter geword het maar aanvaar.
“Daar is nie woorde om my pyn te beskryf oor hoe ek nou haar pyn beskou nie. Dis soos ‘n wond; iets wat ek tot my dood nooit sal kan vergeet nie. Daar is nie genoeg plek in die wêreld vir my trane oor die skeiding van my mammie nie. Daardie wond in my hart het ‘n groot litteken gelaat.”
Maar sy onthou ook mooi beelde.
“Ons het een keer in Namawaland gaan kuier. Ek en Mammie het kaalvoet tussen die blomme gedans. Sy het ‘n geel chiffonaandrok aangehad. Sy het soos ‘n droom gelyk.”
Armand Hofmeyr
Skinderblaaie spot graag met die jong Sanger Armand Hofmeyr se ooreenkomste met sy pa, Steve. Maar dit skeel hom min.
“My pa is gróót. Hy is my mentor, held. En my pa.”
Hy weet nie eintlik hoe dit voel om nie ‘n legende se kind te wees nie,
“Dit was van kleins af deel van my lewe. Ek het op skool begin besef hoe beroemd my pa regtig is. Dit het voor- en nadele gehad. Dit was nie vir my lekker as kinders my probeer afskiet omdat ek Steve se kind is nie.”
Sy eerste herinneringe aan Steve is dat hy ‘n wonderlike pa is. Hy sê sy pa is betrokke by elkeen van sy kinders: by hom, Charissa, Devon, Sebastian en Benjamin.
Dit maak horn vies as mense sê sy pa se naam bevoordeel hom.
“My pa het my juis nie gehelp nie, want hy wou hê ek moet self regkom en my eie lesse leer. Maar hy is daar met raad. Hy is my woordeboek en my Bybel. Ek het byvoorbeeld onlangs besluit om die koers van new age country in te slaan. Dit is lekker om hom as klankbord te gebruik, want hy is eerlik.”
Armand en sy ma het in Limpopo gebly en hy het sy pa eers regtig leer ken toe hy vier jaar oud was. Hulle het lank ‘n goeie telefoon-verhouding gehad voor Armand Steve werklik as pa leer ken het.
“My pa het van kleins af vir ons grense gestel en hy was kwaai as jy buite daardie grense beweeg het, maar hy is nooit onredelik nie.
‘My pa het my juis nie gehelp nie, want hy wou hê ek moet self regkom en my eie lesse leer. Maar hy is daar met raad’
“Die beste geskenk wat my pa vir my as kind gekoop het, was ‘n klankbord. Ek het van kleins af musiek gemaak. En my beste herinneringe sal altyd wees hoe hy ‘n mens vol feite kan pomp. Hy sou my sommer terloops vra of ek weet die Amerikaanse vlag het vyftig sterre. Hy doen dit altyd op so ‘n manier dat jy dit nie sal vergeet nie.
“Maar deesdae leer ons mekaar eintlik oor en weer. Ek vertel hom baie van karre en hy vertel my van musiek. Ons vergelyk wie se foon die beste is en deel ‘n belangstelling in die tegnologie en rekenaarspeletjies.”
Hy vertel hoe ‘n terggees sy pa kan wees.
“Toe ek as kind klavierlesse geneem het, het hy my eendag gebel en gemaak of hy ‘n klavieronderwyser is wat in my musiek belang stel.”
Armand sê Steve is ‘n pa wat klein goedjies doen wat saak maak, “soos om my uit die bloute te bel en vir ‘n braai saam met my broers te nooi”.
Dis vir hom lekker om te weet sy pa is trots op hom en sal hom beskerm as dit nodig is. Hy sal dieselfde vir sy pa doen. Hy hou nie daarvan as die media Steve aanval nie.
Musiek was van kleins af so deel van hom dat hy nie regtig kan sê hy het daarin belang gestel omdat sy pa Steve Hofmeyr is nie. Hy het ‘n kursus as klankingenieur gedoen, skryf van 17 af sy eie liedjies en het op 19 sy eerste opname gemaak.
Hy het eers op musiek gefokus en vertel hoe hy per toeval sy sangtalent begin uitleef het.
“Ek moes musiek maak by ‘n geselligheid en toe daag die sanger nie op nie. Die eienaar het my gevra of ek nie maar die liedjies wil sing nie. Hy het my daarna sommer vir nog ‘n paar shows bespreek!”
Hy het al twee CD’s gemaak: Foto’s en Briewe en Rug teen Rug.
“Elkeen wys hoe ek in my musiek groei; hoe ek ouer word en hoe my belangstellings verander.”
Eintlik dink hy en sy pa oor baie dinge dieselfde en hy stem gewoonlik saam met sy pa se soms omstrede uitlatinge.
“Ek bewonder my pa vir sy eerlikheid. Hy skroom nie om te erken hy het ‘n fout gemaak nie en ook nie om met mense te verskil nie. Hy is beginselvas. Reg is vir hom reg en verkeerd bly verkeerd. Hy sal daarby staan.”
Hy bieg dat hy nog nie een van sy pa se boeke gelees nie.
“Ek is nie die lees-tipe nie, maar my pa voorspel dat ek nog een gaan word. Ek is nou 23. Hy reken so teen 25 sal ek begin lees. Toe hy 23 was, het hy ook nie juis gelees nie.”
Hy beken hy het al droog gemaak en gedink sy pa gaan hom nou lelik uittrap.
“Soos as ek weer my kar stamp. Dan sal hy net droogweg sê ek sal my kar nog ‘n paar keer stamp voor ek my les leer. Hy het dieselfde lesse in sy jong dae geleer.”
Ja, lag hy, sy pa gee hom raad oor vroue.
En is hy sjarmant met vroue, soos sy pa?
“Ja, ek dink so … ”
Armand se stem klink soos sy pa s’n. Hy lyk besonder baie na sy pa, Maar hy wil nie ‘n tweede Steve Hofmeyr wees nie.
Hy is Armand Hofmeyr.
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |