Nege soorte slim
Deur: Mariette Snyman. Fotos: Peter Whitfield, Ferdi Whitfield, Johan Wilke en verskaf. Artikel in die Januarie 2014 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Intelligensie dra verskillende baadjies – kyk watter vorm daarvan in elk van die manne skuil
Jare lank was “intelligensie” en “boekslim” sinoniem. Toe kom Howard Gardner in 1983 met sy teorie van veelvoudige intelligensies. Hoewel sy uitkyk steeds omstrede is, is dit ‘n lekker oefening om te kyk watter van die skranderhede jy en ander besit!
Natuur-Intelligensie
Christiaan Pretorius is ‘n professionele vlieghengelgids wat kliënte graag “van ‘n onvergeetlike ervaring wil verseker, hetsy in die middel van die Indiese Oseaan of op die Kaapse bergstrome. Ek sien om na hul beoefening van die sport maarsorgook dat hulle origens gelukkig is: om hulle met goeie herinneringe in die vorm van foto’s en video’s huis toe te stuur, maak ‘n reuseverskil.”
Christiaan se natuurintelligensie het horn van kleins al honger gemaak vir kennis oor die werking van die natuur en ekostelsels”. Sy pa het hom vroeg-vroeg aan vlieghengel en etiese jag met die geweer of die boog bekend gestel, en hy is ‘n ervare vryduiker en spieshengelaar.
Hy het Suid-Afrika reeds by vyf vlieghengel wêreldkampioenskapsbyeenkomste verteenwoordig.
Blootstelling aan die natuur het van Christiaan ‘n gedissiplineerde en selfgemotiveerde mens gemaak, met ‘n diep waardering vir my omgewing en medemens. Ek het op n jong ouderdom besef ek wil altyd vry en vreesloos Ieef soos ek dit ervaar wanneer ek in die natuur is. Ek het ook besef enigiets is moontlik wanneer jy hart en siel daarin sit, en daarom kon ek vir myself ‘n florerende loopbaan in die hierdie sportsoort skep. Ek wil ander ook aan die helende krag van die buitelewe blootstel”. Dis vir Christiaan swaar om te sien hoe mense die natuur minag en misbruik. “Omdat ek wêreldwyd ongerepte plekke besoek, is ek soveel te meer bewus van die agteruitgang in digbevolkte gebiede.”
Sy avontuurbelaaide leefwyse het ook komiese oomblikke: ‘Dis altyd vermaaklik om ná ‘n dag se vlieghengel met smaak vir jou kliënt te vertel hoe jy agter sy rug die haaie van sy hakke weggehou het…”
www.flycastaway.com
Intra-Persoonlike Intelligensie
Ernst van Wyk verteenwoordig intra-persoonlike intelligensie, wat insig in jou eie gedagtes, gevoelens en motivering behels. Hy is ‘n M.Div.-student in sy finale jaar en as ‘n “reserwe-dominee” by die Fontainebleau Gemeenskapskerk in Johannesburg betrokke. “Hierdie intelligensie ontwikkel namate jy ouer word – as ‘n tiener dit het, is dit dalk abnormaal! Enige uitdaging, groot of klein, toets en vorm hierdie aanvoeling. Die vermoë om oor jouself – jou optrede, beweegredes, persoonlikheid en so meer – na te dink, is deel van geestesgesondheid.”
Ernst het ‘n liefde vir kreatiewe skryfwerk. Preek maak is deel hiervan, maar hy het ook musiek en lirieke geskryf vir sy band, Peter Rabbit, wat onder meer by Oppikoppi opgetree het. “As ek voel ek beïnvloed mense positief, maak dit nie regtig saak wat ek doen nie. Dit voel goed om iets van myself met ander te deel.
“Die muse is nie nou so aktief in my lewe nie ek het ‘n gebreekte hart-situasie gehad toe ‘n verhouding nie uitgewerk het soos ek gehoop het nie. Voor hierdie gebeurlenis het ek in ‘n mate interpersoonlike intelligensie gehad, maar my romantiese brein het dit gekelder! Ek moes lank en ernstig na myself kyk en beheer oor die situasie kry. Ek het geleer my geluk is in my eie hande. Ek sal waarskynlik nog oor verskeie hekkies moet kom, maar dié een is ek oor.
“Baie mense weet nie wat hulle op lang termyn gelukkig of ongelukkig maak nie. Jy moet daaroor nadink en eksperimenteer met gewoontes wat jou opkikker. Ek fokus ook daarop om bewus te wees wanneer dit goed gaan en ek die lewe geniet.
“Ek is nogal ‘n aktiewe ou en het in dié emosioneel moeilike tyd op oefening gefokus. Dan dink jou brein nie onwaarskynlike scenario’s uit oor alles wat kan skeefloop nie.”
Ernst mik daarna om in Suid-Korea te gaan Engels gee: “Ek het lus vir nog ‘n avontuurtjie!”
Eksistensiële Intelligensie
Dino Galetti, ‘n filosoof verbonde aan die Universiteit van Johannesburg, se eksistensiële intelligensie spoor hom aan om vrae oor die menslike bestaan te ondersoek. “Ek vra onder meer: Waarom is ons hier? Wat is die betekenis van menswees?
“Hierdie intelligensie is ‘n bewustheid van wat dit beteken om te bestaan, en die vermoë om harde vrae te vra en antwoorde te ontwikkel. Die Grieke het 2 700 jaar gelede al hieroor nagedink.
“Elke filosoof is ‘n soeker. Ek het opgegroei in ‘n milieu waar boks verreweg die belangrikste gesprekspunt was. Ek het reeds op agt jaar begin boks en as ‘n bokser grootgeword. Op 16 het ek Robert Pirsig se filosofiese roman, Zen and the Art of Motorcycle Maintenance, langs die swembad lê en lees. Ek het gewonder: is dít hoe sommige mense dink? Dit het my onherroeplik verander.”
Ná sy voorgraadse studie het Dino draaiboek- en kopieskryfwerk in Londen gedoen, “maar dit wou nie pas nie. Toe tel ek Immanuel Kant se Critique of Practical Reason op en lees dit binne drie dae deur. Ek het my huis in Londen verkoop en teruggekom na Suid-Afrika se sonskyn en agt jaar van studie. Ek het my Ph.D. aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi en drie jaar gelede by UJ begin werk.
“Jv werk dikwels op jou eie en artikels en boeke kan jare neem om gepubliseer te word, maar jy kan die isolasie deur kontak met denkers hier en in die buiteland teëwerk. Fisieke aktiwiteit soos sport en dans is vir my belangrik maar ek stel ook baie in flieks belang. My smaak is eklekties.
“Ek is werklik gelukkig om te kan doen presies wat ek wil!”
Interprsoonlike Intelligensie
Renier Cronje, Kaapse lewensafrigter wat ook by ‘n kleinhandelsaak betrokke is, se interpersoonlike intelligensie help hom om sensitief en doeltreffend met ander om te gaan. “Ek begelei mense met doelwitte wat relevant is vir die seisoen waarin hulle hul op hul lewenspad bevind, en gebruik Enneagram-persoonlikheids-profiele wat help om jouself en ander beter te verstaan.”
Renier glo inter- en intrapersoonlike intelligensie is keersye van dieselfde munt. “Wanneer ek nuwe insig in my eie bedrading kry en tawwe innerlike kwessies moet face, het ek skielik soveel begrip vir ander. Jy is meer geneig om hierdie intelligensies in moeilike situasies te ontwikkel.”
Nog’n eienskap van persoonlike intelligensie is die vemoë om dit wat ander sê en doen nie persoonlik op te neem nie. “Ons wéét mense verskil, maar verwag steeds dat ander soos ons sal reageer. Ons sien die lewe deur die bril van ons eie persoonlikheidstipe en kulturele raamwerk.
“Een van die maniere waarop ons mense verskil, is of ons aksie-, gevoels- of denkdominant is. Hierdie verskille setel in die brein. Ek is gevoelsdominant en as ek vir Donald Trump gaan werk, moet ek onthou hy is aksiegedrewe en nie so in kontak met sy gevoelens nie. Die vemoë om ‘n tree terug te gee en te sien hoe my eie self, emosies en omstandighede van dié van ander verskil, keer dat ek bedoelings in hul woorde en dade inlees. Dan kan ek hulle ingevolge hul eie waardes benader.”
Maar jy moet ook ‘n balans sleep tussen toegifte aan ander en jou eie emosionele welsyn. “Party mense laat meer ruimte vir ander, en ander staan weer makliker hul man. Bewustheid van jou geneigdheid in dié verband is gesond.”
renier@reniercronje.com
Musikale Intelligensie
Vryskutmusikant en musiekonderwyser Werner Spies gebruik daagliks musikale intelligensie: die vermoë om musiek te maak, waardeer, dalk te komponeer, en sensitief om te gaan met aspekte daarvan.
Werner, ‘n elektriese kontrabasspeler, tree gereeld saam met Nataniel en die Charl du Plessis Trio op. Hy gee kontrabas- en baskitaarlesse in .Johannesburg en Pretoria en is mede-eienaar van die Haloa-koffiewinkels op die Hatfield-en Groenkloofkampusse van die Universiteit van Pretoria.
“Die musiekbedryf is moeilik jy moet jou musiekaanleg só ontwikkel dat jy bemarkbaar is en deurlopend jou kontakte uitbrei om werk te verseker. Ek is nie noodwendig ‘n virtuose kontrabasspeler wat wêreldwyd optree nie, maar ek is gemaklik met diversiteit. As ek byvoorbeeld gevra word om ‘n musiekstuk Latyns-Amerikaans te laat klink, kan ek dit doen.
“My werk is ‘n bietjie soos dié van ‘n huursoldaat: jy kry ‘n oproep met die datum, kleredrag en musiek van ‘n show, daar is miskien een oefening, en dis dit. Jy moet op kort kennisgewing en met min voorbereiding uiteenlopende genres soos blues, jazz, rock of kabaret kan speel.
“Die saamspelery verg nogal diplomasie. Beperkte repetisietyd plaas almal onderdruk en verskillende nienings moet versoen word sonder om die spangees te knou. Ek het geleer ek hoef nie altyd my sin te kry nie! Deur die jare het ek ook waardering vir uiteenlopende musiekgenres en verskillende denkwyses geleer.”
Werner reis graag; sy werk het hom al na Switzerland, Holland, België, China en Namibië geneem.”Ons kom ook by baie Suid-Afrikaanse plekke, maar daar is nie altyd kans vir die game drive nie. Die deel wat die minste glamorous is, is om soms voor optredes in toilethokkies aan te trek!”
Logies-Wiskundige Intelligensie
Gabriël Kroes van Kaapstad se logies-wiskundige intelligensie maak sy elektriese en elektroniese ingenieurswerk moontlik. Dié intelligensie behels onder meer abstrakte, simboliese denke, die vermoë om berekeninge te doen en ‘n belangstelling in patrone, kategorieë en verhoudings.
“My elektriese werk behels swaarstroomkwessies soos hoogspanningsdrade en substasies. Die elektroniese kant het te make met kleinstroomaspekte, soos rekenaars, TV-stroombane en selfoon- tegnologie. Ons het byvoorbeeld ‘n selfoontoepassing, Powertime, vir gebruikers van voorafbetaalde elektrisiteit ontwikkel wat jou ‘n skatting kan gee van hoeveel krag jy oor het. Ek doen ook energie-oudits vir maatskappye om vas te stel hoe doeltreffend hul energieverbruik is.”
Gabriël spot dat hierdie soort intelligensie soms meer ‘n vloek as ‘n seën is. “My kop is gedurig daarmee besig. Ek kyk byvoorbeeld nie net aan die einde van die maand na die begroting nie – elke liewe keer wanneer ek geld uitgee, bereken ek eers waar ek staan.
“Mense wat baie wetenskaplik of wiskundig ingestel is, probeer ook soms om geloof ‘in te boks’ en keer dan hul rug daarna omdat geloof nie so vasgevang kan word nie. Of hulle probeer ‘n verhouding en liefde kompartementaliseer. Dit werk nie. My grootste prestasie was om dit reg te kry om met my vrou, Justine, te trou, al kan dit haar frustreer wanneer ek hoogs opgewonde raak oor goed soos ‘n nuwe rekenaarprogram wat nie eens in haar ervaringsveld bestaan nie.”
Op universiteit het Gabriël SA kleure vir branderplankry en vlieërski gekry, en vir Maties aan die baldans-intervarsity deelgeneem. “Ek dans nie meer kompeterend nie, maar ek surf nog by Melkbosstrand!”
Linguistiese Intelligensie
As ‘n sosiale media- handelsmerkbestuurder span Ewoudt Cloete van Johannesburg sy woordintelligensie in om MTN se facebook-, Twitter-, blog- en ander platforms optimaal te bedryf. “Ek en my span fokus op digitale strategie en die inhoud wat ons op elke platform publiseer.
“Die opwindende van hierdie werk is dat die brand menslik moet oorkom: ons moet oor die regte onderwerpe praat op ‘n manier wat die gebruikers wil hoor. Tradisioneel was kommunikasie met gebruikers formeel. Nou moet dit soos een-tot-een gesprek voel. In wese gaan alles oor verhoudings.”
Ewoudt geniet dit ‘om ‘n ingewikkelde tegniese produk soos ‘n nuwe selfoon toeganklik bekend te stel in terme van die leefstylvoordele wat dit vir gebruikers het. Ons wil wys dat ons nie net in ons eie belang optree nie, maar ook vir ons kliënte omgee. En ons kry dit reg! Danksy ons interaksie met ons gebruikers op sosiale media- platforms soos facebook en Twitter, is MTN onlangs as een van die beter presterende Suid-Afrikaanse korporatiewe organisasies aangewys.”
Al is Ewoudt besig met sy doktorsgraad, het hy hom nooit as tradisioneel slim gesien nie. Op skool was ek nie goed in skeinat en wiskunde nie, maar in tale het ekfloreer. Ek het ook van redenaars-, debats- en drama-aktiwiteite gehou. Aan die Universiteit van Noordwes was ek redakteur van Die Wapad – ek skat dis waar alles begin het.
“Omdat ek vir die Johannesburgse korporatiewe veld gemik het, het ek al my opdragte en vraestelle in Engels gedoen. My probleem was nie skryf-Engels nie, maar praat-Engels. Ek moet in ‘n vergadering beheer kan neem en my kan uitdruk.” Ewoudt is gek na dans en fliek, en skryf graag rolprentresensies:
Kyk by www.meerkatburrow.com
Visueel-Ruimtelike Intelligensie
Charles Russell, ‘n kommersiële fotograaf van Stellenbosch, se visueel-ruimtelike intelligensie het hom in staat gestel om ‘n suksesvolle onderneming met groot kliënte soos La Motte, Distell en Pioneer Foods te vestig.
“Ek sien hierdie intelligensie as die vermoë om driedimensioneel te dink en reg aan die begin die eindproduk voor jou geestesoog te sien. Sodra ek hoor wat die kliënt wil hê, visualiseer ek besonderhede soos lig, kleur, hoek, tekstuur en vorm. Die uitdaging is om die kliënt se behoeftes in ag te neem en steeds iets te lewer wat binne perke, oorspronklik en van ‘n hoë gehalte is.”
Charles het “hierdie dagdroom-aspek van kindsbeen afgehad. Op skool is dit soms met aandag afleibaarheid verbind! Ek het ook ander kreatiewe streke gehad, soos ‘n fokus op teken en ontwerp. Waar ander kinders besig was met sport of lees, het ek bonsai-boompies ontwerp en geskep.” (Charles het nasionale kleure in die bonsai-kuns verwerf.)
Behalwe vir kreatiewe probleemoplossing, verg kommersiële fotografie interpersoonlike intelligensie en ‘n kritiese ingesteldheid. “Omdat kliënte nie altyd visueel ingestel is nie, moet ek die beeld wat hullo het, kan aflei, interpreteer en op ‘n eerlike en unieke manier vasvang. Ek moet mense ook gemaklik laat voel.
“Omdat my werk ‘n fyn oog verg, is ek altyd analities ingestel. Enersyds gee dit my ‘n geweldige waardering vir goeie kos, wyn en ontwerp. Andersyds kyk ek in ‘n restaurant krities na ‘n bord kos. Dit kan stresvol wees en ek sukkel soms om hierdie benadering af te skakel!”
Tog is visueel-ruimtelike intelligensie onlosmaaklik deel van Charles. “Dis wie ek vandag is en hoe ek na die lewe kyk.”
www.crphotographic.co.za
Liggaams-Kinestetiese Intelligensie
Ferdi Sander is dansinstrukteur en -direkteur by 2nd Beat in Johannesburg. Sy liggaamlik-kinestetiese intelligensie is besonder goed ontwikkel. “Ek is verantwoordelik vir die dansopleiding van kliënte en ons personeel, en doen choreografie vir huwelikspaartjies, shows en uitstallings.”
Die meeste mense kom nie net na die dansateljee toe om te leer dans nie. “Dikwels is die dryfveer sosiale aanvaarding, die deel wees van ‘n groep, om iemand te hê wat hulle boost, en goed te voel omdat hulle hier kan presteer.”
Van jongs af was Ferdi fisiek aktief. “Ek het altyd buite rondgehol, boom geklim, fiets gery of Lego gebou. Ek het rugby geniet en op hoërskool Verre Noord-kleure vir deelname aan ‘n orkes gekry.”
Sy grootste fisieke uitdaging was om te leer dans. “Ek wou aanvanklik beter dans net om meer meisies te kry! Ek het geleer deur te kyk, te oefen en te choreografeer. Dans gee jou die vryheid om die emosie van enige stuk musiek met jou liggaam uit te beeld.”
Ferdi moet mensslim wees om met sy studente te werk. “Ek het die gawe om verby mense se maskers te sien. Ek verstaan hoekom hulle sekere uitdagings ervaar, soos die vrees om naby iemand te dans. Ek gebruik hierdie inligting om hulle te help. Dikwels trigger die danslesse ander kwessies – ek wil graag ‘n lewensafrigter word om dié kwessies verder te voer.”
Groepsklasse vra weer ‘n ander aanslag en as een van Ferdi se dansstudente kan ek van sy spitsvondigheid getuig!
Ferdi is gek na die buitelewe en strategiese speletjies en neem aan LARP-ing (live action role playing) deel waarvoor jy soos ‘n karakter uit ‘n rekenaarspeletjie aantrek en met lewensgrootte wapens veg. “Ek balanseer al die fisieke aktiwiteit met ‘n intense belangstelling in die spirituele.”
www.2ndbeat.co.za
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |