Dis IN die GENE…
Deur: Christelle du Toit. Artikel uit die November 2013 uitgawe van rooi rose Tydskrif.
Skisofrenie, daardie komplekse psigiatriese versteuring, affekteer sowat 1 % van die samelewing, maar daar is slegte nuus: die Afrikaner het ‘n ekstra hoë risiko om skisofrenie te ontwikkel
Wat as dit elke dag vir jou voel of die res van die wêreld mal is? Wat as jy stemme hoor wat nie daar is nie, en glo mense is daarop uit om jou te na te kom? Wat as dit jou daaglikse realiteit is?
Die gesig van Afrikaner-Skisofrenie
Louise Zietsman se 28-jarige seun Johan* het skisofrenie. Hy het onlangs ‘n terugslag gehad en hoor weer stemme en glo die pers haal sy gedagtes aan.
Skisofrenie is in Johan se tweede jaar op universiteit by hom gediagnoseer. Louise sê by nabetragting was die simptome baie vroeër al daar. Maar hy was in graad vyf in ‘n ernstige motor- ongeluk waarin hy breinbeserings opgedoen het en hulle het sy vreemde gedrag aan die ongeluk toegeskryf.
Louise sê Johan is intelligent en het goed gedoen op skool. Toe hy 13 was, is sy en haar man geskei wat baie veranderinge meegebring het. Teen standerd nege het Johan se punte nie goed gelyk nie en hy het gedragsprobleme getoon. Hy was ongeskik, teruggetrokke en stil, en sy kon sien hy is baie alleen.
“Ons het hom deur matriek gesleep,” sê Louise. “Hy het op universiteit minder as sy vriende gekuier en een aand net ‘heeltemal gek’ geword, stemme gehoor en gehallusineer. Hy was in daardie stadium op medikasie vir depressie ná hy by twee verskillende dokters was,” sê Louise.
Sy het Johan selfs by ‘n sielkundige gehad, wat nie agtergekom het dat hy aan skisofrenie ly nie. Hy is ná sy psigotiese episode vir ses weke in ‘n kliniek opgeneem waar die siekte toe gediagnoseer is.
“Dit was verskriklik. Dit was asof my wêreld inmekaargetuimel het,” sê Louise. “Dit het gevoel soos ‘n dood. My seuntjie met sy engelgesiggie. My kind is na die ongeluk vir my teruggee, en nou word hy op so ‘n manier weggevat. Ek het gedink selfs kanker sou beter gewees het – dan kan jy óf doodgaan,óf gesond word. Nou het hy iets wat ongeneeslik is.”
Louise sê sy het inrigtings vir mense met skisofrenie besoek maar nie kans gesien om haar kind soontoe te stuur nie. Sy het begin nalees oor die siekte, en later by ‘n SABDA-ondersteuningsgroep aangesluit. Sy moes ‘n paadjie stap met verskillende psigiaters om een te kry wat haar kind verstaan en kon behandel. Hulle het stadig ‘n stadium bereik waar Johan nie meer stemme gehoor het nie en op sy eie medikasie gebruik het.
Die medikasie het steeds baie newe-effekte, soos dat Johan baie slaap, vir niks lus is nie en verskriklik baie gewig aangesit het. Dit het sy tol op die familie geëis.
“Sy sussies het gedink ek bederf hom,” sê Louise. Maar sy het besef hy het ‘n plek nodig waar hy versorg kan word en waaraan hy gewoond kan word, veral as sy nie meer na hom kan omsien nie.
Sy het ‘n niewinsgewende tehuis vir mense met skisofrenie begin “Ek het gesien hy wil nie ander mense om hom hê nie, maar dis aanvaarbaarder wanneer die ander soos hy is,” verduidelik sy.
Daar is ses inwoners in haar tussentuiste, almal pasiente wat taamlik stabiel is. Sy voorsien verblyf en etes en neem hulle na Tara se psigiatriese afdeling vir terapie.
“Hul ouers weet nie hoe om hulle te hanteer nie,” sê Louise. “Skielik is jou grootmenskind weer soos ‘n voorskoolse kind. Hulle sukkel om dit te verwerk nie – wat as mense dink die kind is mal?”
Sy sê Johan, en baie soos hy, is nie mal nie. “Hy is anders. Hy was van kleins af anders.”
Dit voel wel asof sy haar kind verloor het. “Ek moes aanvaar dat daardie kind wat ek grootgemaak het, dood is en iemand anders nou in sy lyf woon. Maar die pynlikste is wanneer hy tog soms ‘deurkom’.”
Mense se vooropgestelde idees en wanopvattings oor skisofrene maak die lewe moeilik, sê Louise. Haar familie het nie geweet hoe om Johan te hanteer nie en was selfs vir hom bang. Sy het vir hulle ‘n handleiding geskryf oor wat die siekte behels, wat sy glo baie gehelp het.
Haar raad aan ouers wat in dieselfde bootjie is, is om dadelik by ‘n ondersteuningsgroep betrokke te raak. “Jou vriendinne verstaan nie – hulle het nie so ‘n kind nie.”
Sy sê skisofrenie is nie ‘n doodsvonnis nie, maar jou lewe gaan ingrypend verander.
“Ek weet ek kan nie nou iets oorkom nie, ek moet nog ‘n bietjie langer lewe om vir hom te sorg.”
Wat is Skisofrenie?
Skisofrenie is ‘n duistere siekte met psigiaters wat grootliks in die donker tas na oorsake en doeltreffende behandeling. Die toestand word gewoonlik tussen 15 en 30 gediagnoseer, en hoewel dit ongeneeslik is, is dit behandelbaar.
Kenners sê skisofrenie is ‘n komplekse siekte waar mense sukkel om hul gedagtes te beheer, wat lei tot hallusinasies, illusies, deurmekaar denkpatrone en ongewone spraak of gedrag.
Ron Creasy, voorsitter van die Skisofrenie en Bipolêre Stoornis Assosiasie van Suid-Afrika (SABDA), sê “‘n geestessiekte is basies die onwillekeurige vertoon van ontoepaslike gedrag. Dis ‘n ernstige en langdurige geestessiekte wat die voortdurende betrokkenheid van ‘n geestesgesondheidspraktisyn noodsaak.
Skisofrenie en Dwelms
Die Suid-Afrikaanse Federasie vir Geestesgesondheid se dat sommige dwelms, wettig en onwettig, skisofrenie blyk te vererger. Hulle sê daar is tot ‘n 40% kans dat iemand met skisofrenie middels kan misbruik (wat tabak insluit). Ook Ron Creasy van SABDA sê daar is dikwels ‘n skakel tussen die intrede van skisofrenie en dwelms. “Dagga is meer as genoeg, maar sterker dwelms veroorsaak natuurlik meer skade. Baie pasiente gebruik dikwels dwelms om die stemme wat hulle hoor stil te maak, wat dan weer die stemme vererger. Dit is ‘n bose kringloop.”
Dr. Louw Roos sê mense wat aan psigotiese toestande ly se kans om dagga te gebruik is waarskynlik hoër as dié van die algemene bevolking. Terwyl die aard van die verband tussen dagga en skisofrenie nog nie bepaal is nie, wys hy daarop dat dit ‘n “sentrale tema” in skisofrenie-behandeling is, en dat mans wat dagga gebruik se aanvangdatum vir skisofrenie aansienlik vroeër is as die wat nie dagga gebruik nie. Maar die langtermynverloop van die siekte bly dieselfde.
Die toestand word gewoonlik tussen 15 en 30 gediagnoseer, en hoewel dit ongeneeslik is, is dit behandelbaar.
Simptome wissel en kan die hoor van stemme, buiwisseling en versteurde gedagtes en emosies insluit. Hul persepsies kan ook anders wees, wat lei tot wangeorganiseerde gedrag, ‘n verlies aan realiteit, veranderde slaappatrone, swak konsentrasie, verhoogde spanning en ‘n merkbare verandering in aktiwiteitsvlakke.”
Die feit dat 1 % van die bevolking’ deur die siekte geraak word, beteken dit kom twee keer soveel soos Alzheimer se siekte voor, en ses keer soveel as insulienafhanklike diabetes.
Die siekte is geneties, maar die impak van omgewingsfaktore daarop, soos hoe ‘n kind grootgemaak word, word nog ondersoek.
Ron waarsku dat die impak van skisofrenie op die gesin vernietigend kan wees. “As ouers nie saamwerk nie, kan dit tot egskeidings lei. Die gesin kan ook uitmekaargeskeur word omdat die ander kinders kan glo dat die sieke voorgetrek word.”
Hy wys daarop dat die skisofrenie behandel kan word, maar daar is geen geneesmiddel nie. Die siekte affekteer mense in verskillende grade: party kan werk en in die samelewing funksioneer, ander moet tuis versorg word, en sommiges moet in inrigtings opgeneem word. Behandeling geskied gewoonlik met medikasie en terapie.
Ron sê aanvaarding is moeilik. “Die pasiënt en die familie se eerste reaksie is gewoonlik ontkenning. Die persepsie is dat dit ‘n skande is om iemand met skisofrenie in die gesin te hê, maar geestessiektes is nes kanker – hoekom sal dit ‘n skande wees om iemand met kanker in die gesin te hê?”
SABDA beveel aan dat diegene wat omsien na mense met skisofrenie ook aan hulself aandag gee deur gesond te leef, realistiese doelwitte te stel en by ‘n ondersteuningsgroep aan te sluit.
Toekoms – Wat sal die navorsing beteken?
Louise en haar gesin is deel van dr. Louw Roos se studie. Sy sê dat, soos dr. Roos en sy kollegas, hoop sy dat die studie uiteindelik kan lei tot beter behandeling van skisofrenie, asook maniere om die intrede van skisofrenie uit te stel. “Hoe baklei jy teen ‘n siekte as jy nie eens weet wat die siekte veroorsaak nie?” vra sy. “Tweedens wil ‘n mens graag hê dat medikasie ontdek of ontwikkel word wat dit kan voorkom of genees. Die newe-effekte van die medikasie is regtig erg en as jy ‘n keuse het, sal jy dit glad nie wil gebruik nie.” Dr. Roos sê skisofrenie is een van die mees aftakelende en komplekse psigiatriese versteurings. “Hopelik sal die ondersoek na die genetiese aspekte van skisofrenie in die Afrikaner ‘n bydrae lewer tot ‘n beter begrip en behandeling van die psigiatriese toestand.”
Louise sluit af: “As daar nie ‘n geneesmiddel in my kind se lewe ontdek word nie, sal ‘n volgende geslag dalk by die navorsing baat vind. Ek sal werklik ander ouers hierdie hartseer wil spaar.”
Sogenaamde stigtersfamilies het ‘n goeie kans om ‘n siekte te erf wat een van die klein getal voorsate gehad het
Skisofrenie en die Afrikaner
Dr. Louw Roos van die Weskoppies-psigiatriese hospitaal doen al meer as tien jaar navorsing oor skisofrenie in die Afrikaner-gemeenskap. In samewerkingmetdie Universiteit van Pretoria, die Rockefeller-universiteit in die VSA, die Universiteit van Michigan en die Universiteit van Columbia, bestudeer hy en sy kollegas die genetiese skakel tussen Afrikaners en skisofrenie.
In ‘n artikel in Die Suid-Afrikaanse Tydskrifvir Naiuurwetenskap en Tegnologie (2008) het hy gesê dat 87 pasiënte wat deel gevorm het van die studie tot ‘n enkele stigterspaar teruggespoor kon word.
Dr. Roos en sy vennote het reeds bevind dat daar twee genetiese geen-variasies is wat in Afrikaner-families voorkom en wat kan lei tot ‘n groter kans om skisofrenie te ontwikkel.
Die Skakel
Toe die eerste immigrante hulle in die Kaap gevestig het, was daar net meer as duisend wat hoofsaaklik van Nederlandse afkoms was. Dr. Roos sê die gemeenskap was grootliks geografies geïsoleer en ander laktore soos taalverskille en geloofsoorwegings het tot die isolasie bygedra. Dit was vroeër ook algemene gebruik om te ondertrou. Die gevolg hiervan is dat sogenaamde stigtersfamilies ‘n goeie kans het om ‘n siekte te erf wat een van die klein getal voorsate gehad het. Die tendens kan ook in ander, soortgelyke gemeenskappe (geïsoleer, afkomstig van net ‘n paar voorsate) gekry word, soos in Finland, Sardinie en Ysland. In 1997 het die Menslike Neurogenelika-laboratorium van die Roekefeller-universiteit in Amerika die departement van psigiatrie aan die Universiteit van Pretoria genader oor n samewerkingprojek oor die genetika van skisofrenie in ‘n stigtersbevolking, soos die Afrikaner, en het navorsing in die veld begin. Meer as vyfhonderd families en ses honderd individue met skisofrenie is in die studie ingesluit. Dr. Roos sê wat wel duidelik was, is dat daar in die land volop families was met lede wat op een of ander manier psigiatries aangetas is. Die studie het al twee gene en genetiese variasies geïdentifiseer wat kan bydra tot ‘n individu se risiko om skisofrenie te ontwikkel. Die hoop is dat die navorsing kan lei lot beter behandelingvan die siekte en, wie weet, dalk eendag ‘n geneesmiddel.
*Skuilnaam. Kontak SABDA by 011 326 0661 of 083 655 7878 office@supportsabda.co.za.
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |