www.rooirose.co.za |
Ons bied jou Gehalte Artikels…ShowMe™ en Rooi Rose, die tydskrif vir vandag se Afrikaanse vrou, bring vir jou van díe tydskrif se top-gehalte artikels reg hier, op ons webtuiste.
Rooi Rose. Stylvol, Sinvol, Propvol. Sien hieronder vir meer inligting or die nutste uitgawes en vind uit hoe om in te teken. |
Die Prys van Stilte
Annelie Botes se nuwe roman, Thula-thula, waarin sy nie doekies omdraai oor bloedskande nie, is nie vir sensitiewe lesers nie.
In die verhaal ondersoek sy die dinamika in ‘n gesin waar ‘n pa sy dogter verkrag en sodomiseer en die ma ondoeltreffend optree.
Die leser ontmoet Gertruida Strydom ná die begrafnis van haar ouers, Abel en Susarah, wanneer sy ‘n groen toegang-verbode-bord by die hek van hul plaas, Kiepersolkloof, opsit. En vir die volgende vier dae maak sy huis skoon, letterlik en figuurlik. Sy dink terug aan haar verhouding met haar ouers en hoe die bloedskandelike verhouding met haar pa begin, gegroei en verrot het. Want Gertruida was vir meer as twintig jaar in die siek verhouding vasgevang.
Die ander hoofkarakters in die storie, Gertruida se tante aan moederskant, tannie Lyla, die huishulp Mama Thandeka en haar dogter Mabel, asook Gertruida se oud-onderwyser Braham Fourie kon haar, om redes wat in die storie verduidelik word, nie een help nie.
Die skrywer Annelie Botes is die vierde van vyf kinders van Dick en Ann Basson van die plaas Grootfontein in die Kammanassie naby Uniondale. Haar Bedford-kontreistories het oor die jare gereeld in rooi rose verskyn, so ook sketse van haar lewe in Port Elizabeth. In 1995 is haar eerste roman, Trippel Sewe, oor dobbelslawe gepubliseer en erken sy dat sy vyf jaar lank ook ‘n dobbelslaaf was. Ander meesleurende boeke is Klawervier (1997), Raaiselkind (2001) en Sabbatsreis (2007).
Een van die redes waarom die gebeure hulle bly herhaal het, was omdat Abel Strydom ‘n belangrike boer was, gereken in die omgewing, die dorp en ook in kerklike kringe waar hy elke Sondag met ‘n geveinste gesig in die ouderlingbank gesit het. Sou die mense van die dorp geglo het dat die gerespekteerde boer en kerkman tot so iets in staat is? Want hoe dikwels gebeur dit nie dat die een wat uitpraat, uiteindelik die een is wat vervolg en tot leuenaar gemaak word nie.
Bloedskande, dobbelverslawing, gestremdheid en daardie soort sake is deel van die lewe.
Soos met haar vorige boeke (dink aan Raaiselkind oor outisme) het Annelie weereens deeglike navorsing oor die onderwerp gedoen; navorsing wat etlike jare geduur het voordat sy die verhaal begin skryf het. Sy het ook lang gesprekke met ‘n sielkundige gevoer, diep betrokke geraak by slagoffers van bloedskande, ook hofsake daaroor bestudeer
“Ek het in 2002 met die navorsing van Thula-thula begin. In die tye toe ek by Granny was, en ‘n paar maande later toe ek doer naby die grens van Wallis die stout kasteelkinders se goewernante was (gebeure wat later gestalte gekry het in Sabbatsreis, 2007), het ek my van navorsing afgesny. Terugskouend dink ek die tussenpose het my gehelp om dit wat reeds in my kop gestoor was, te sif en te sorteer.
Waarom het Gertruida die bloedskandelike verhouding met haar pa (eintlik verkragting) soveel jare opgevreet? En nie net opgevreet nie, maar ook ‘n sekere materialistiese voordeel daaruit getrek?
‘n Kind wat langdurig gemolesteer word, se grense bestaan later nie meer nie. Dit geld ook emosionele en verbale molestering. Omdat die kind geen seggenskap in haar eie bestaan het nie en geen keuses mag maak nie, volg sy maar net willoos die patroon van dag tot dag; grotendeels vir oorlewing. Later maak niks meer saak nie.
Maar toe die kind die tienerstadium bereik, begin sy agterkom dat sy wel mag het, maar dis ‘n misplaaste mag. Omdat sy teen daardie tyd deeglik weet dat dit wat gebeur verkeerd is, gebruik sy dit teen haar molesteerder, want sy weet hy sal haar sus in ‘n poging om haar mond te snoer. Dis ‘n bose sirkel van gee en gryp, gee en gryp. Sy begeer met haar hele hart dat die gemors moet stop, sy haat elke oomblik daarvan; sy verag haarself. Maar die tragiek is dat sy aanhou daarmee, want as sy dit stopsit, verloor sy die bietjie mag wat sy het. Dis seker die grootste rede waarom Gertruida geswyg en die molestering verduur het – ter wille van mag.
Ek glo dis een van die redes waarom die boek ‘n ouderdomsperk van 18 gekry het. Want as ‘n tiener sulke manipulerende gedrag raaklees sonder dat sy (of hy) begeleiding kry, kan dit bitter gevaarlik wees.
Jou verhale het dikwels met ekstreme gevalle te doen. Voel dit of jy sterker kan werk as die omstandighede so ekstreem is? Dat jy jou punt beter kan maak? Dat jou verhaal ‘n groter impak het?
Op ‘n vreemde manier is ek oortuig dat niks waaroor ek skryf, ekstreme gevalle is nie. Bloedskande, dobbelverslawing, gestremdheid en daardie soort sake is deel van die lewe. Net soos gesinsgeweld, alkoholisme, pilverslawing, koopverslawing, bipolêre depressie, Alzheimer se siekte, kinderverwaarlosing, MIV/vigs, bulimie, kanker, godsdiensdwepery, korrupsie … En nóg en nóg. Die lewe is oorvol “ekstreme gevalle”.
Elke huis het sy kruis; elke mens het ‘n duiwelse donkerkant. Maar daar is wel mense wat baie beskermd lewe, of voorgee om baie beskermd te lewe, en wat oortuig is “dat dit nie hier by ons gebeur nie … ”
Ek is oortuig ek kan ‘n boek met ‘n ewe ontstellende en intense uitwerking skryf oor die bitter gevolge van regstellende aksie, of oor die lewe van ‘n balju, of die sukkelbestaan van ‘n Spur-kelnerin.
Thula-thula het amper’n sprokieseinde. Wat natuurlik aansluit by jou gebruik van sprokies in die verhaal. Maar in jou verhaal word sprokies deurgaans ondermyn. Dink jy dis vir Gertruida moontlik om uiteindelik ‘n “normale” huwelik met Braham Fourie te hê? Is sy hoegenaamd emosioneel in staat tot ‘n normale huwelikslewe?
As jy in die vuur val en jou gesig verbrand, kan jy honderd veloorplantings kry, maar jy sal nooit weer dieselfde lyk nie. As jy jou been in ‘n motorongeluk verloor, kan hulle elke maand vir jou ‘n nuwe, beter kunsbeen maak. Maar jy sal nooit jou regte been terugkry nie.
Ek krimp eintlik ineen as ek dit te sê, maar ek glo nie Gertruida sal ooit ‘n “normale” huwelik hê nie. lets is haar ontneem, en sy sal dit nooit weer terugkry nie. lets in haar siel is gebreek, en die barsie sal altyd wys. Ek is jammer, so jammer, maar ek kan nie ‘n lieg skryf of verkondig nie.
Maar wat wel waar is, is dat Gertruida se pyn en selfveragting en haar walging aan seks met die tyd “sagter” kan raak. ‘n Man soos Braham, wat geduldig en vol begrip is en kan luister, kan Gertruida se redding wees. Maar die groot les wat Gertruida ná die einde van Thula-thula moet leer, is om nie die skuld op Abel en sy wandade te pak vir alles wat in haar lewe verkeerd gaan nie.
Ons almal het dinge in ons lewe wat verkeerd loop, en daar is feitlik nooit ‘n enkele faktor wat daarvoor verantwoordelikis nie. Dis ‘n yslike spinnerak wat aan baie takkies vasgeheg is. Die mens is ‘n baie ingewikkelde wese.
Met my navorsing het ek oor en oor gesien hoedat gemolesteerde vroue vassteek in die lewe, en al die mislukkings in hul bestaan op hul molesteerder pak. Hulle wil eenvoudig nie aanvaar dat daar ‘n punt kom waar die verantwoordelikheid hulle s’n is nie. Ek praat nie van die skuldlas of besmetting wat agter haar lê nie, ek praat van die pad vorentoe. ‘n Mens het keuses. Elke gemolesteerde mens het keuses.
En tog het ek erbarming, want dis verskriklik swaar om sonder grense of regte groot te word, en dan moet jy ewe skielik op ‘n dag jou grense afsteek. Dis nie maklik nie. Maar dis iets wat móét gebeur. Niemand kan dit namens jou doen nie. Ja, daar is mense wat jou kan help en bystaan en leer begryp, Maar die uiteindelike keuse oor die pad vorentoe is jóúne. Net joune.
Teks en onderhoud deur Corlia Fourie. Foto deur Christine Fourie. Hierdie verkorte artikel is uitgehaal uit die Oktober 2009 publikasie van Rooi Rose.
www.rooirose.co.za |
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |





