Die laaste leeus van Afrika
Deur: Maretha Botes. Fotos: Dereck en Beverly Joubert
Oorsprong: Die artikel is geneem uit die September 2011 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
2020. Dit is die jaar waarin die laaste wilde leeus van Afrika kan uitsterf tensy daar dringend ingegryp word. Rolprentmakers Dereck en Beverly Joubert veg hart en siel om die groot katte ‘n kans op oorlewing te gee.
Dis ‘n grou dag in Bryanston, Johannesburg, met ‘n temperatuur wat die kwik maar tot 13 °C opstoot. Maar wat nog kouer is, is die gedagte dat my kind dalk nooit die voorreg sal hê om ‘n trop leeus in hul natuurlike habitat te aanskou nie.
Gelukkig verseker Dereck en Beverly Joubert my dat daar wel hoop is, mits ‘n drastiese paradigmaskuif plaasvind; mits mense – alle mense – die boodskap kry dat Afrika se leeus in die knyp is.
Die twee maak al die afgelope dertig jaar dokumentêre rolprente oor die groot katte van Afrika, en werk nou saam met die National Geographic-vereniging om strategies te bedink om die diere van algehele uitwissing te red. Maar dis die Jouberts se jongste dokumentere rolprent, The Last Lions, met Jeremy Irons as verteller, wat mense wêreldwyd aan die gons het. Die titel van die rolprent sê genoeg. Dis nou sulke tyd. Dis nou of nooit.
Die dokumentêr is aan die begin van die jaar in Amerika uitgereik, en verander bietjie vir bietjie die manier waarop mense oor wilde leeus dink.
“Toe ons onlangs saam met wetenskaplikes en omgewingskundiges om ‘n tafel sit en syfers van honderd jaar gelede met vyftig jaar, twintig jaar en vandag vergelyk, het ons met ‘n skok agtergekom daar is net sowat 20 000 wilde leeus in Afrika oor,” sê Dereck. “Vyftig gelede was daar nog 450 000 leeus.”
Dit beteken daar is vandag maar sowat 4 500 mannetjies oor. En steeds word jaarliks ses honderd jagpermitte vir dié diere uitgereik. Jagters skiet die beste van ‘n trop (die beste mannetjies in die geval). Vir elke mannetjie wat uitgewis word, sal ‘n nuwe mannetjie as leier vir die trop intree. Sodra dit gebeur, sterf nog sowat twintig leeus wanneer hy al die welpies doodmaak wat die vorige leier verwek het.
“Ons was almal bewus daarvan dat leeus nie meer so goed in die natuur vaar nie, maar ons het nie besef hoe ingrypend die syfers gedaal het nie,” sê Dereck. “Die vraag wat elkeen moet vra, is of dit volhoubaar is om ‘n dier vir die pret en eie gewin te skiet wanneer sy spesie oor nege jaar nie meer daar sal wees nie?”
Die chemie tussen dié twee wêreldklasrolprentmakers is byna tasbaar. “Jy kan seker sien daar is ‘n Jin en Jang, man-vrou-ding tussen ons aan die gang,” sê Dereck toe Beverly gou ‘n telefoonoproep beantwoord.
En sowaar, as die een ophou praat, gaan die ander een aan asof hy presies kon voorspel waar hy sou moes oorneem. Die chemie laat hul huwelik van meer as dertig jaar werk, maar is ook belangrik vir hul werk.
Hulle het dieselfde passie vir ‘n hele paar dinge. “Ons het dieselfde waardes. Baie belangrik. Ek glo mense wat nie dieselfde waardes deel nie, kan nie goed oor die weg kom nie,” sê Dereck. “En ons is lief vir mekaar.”
Beverly kyk na hom. “Ja, en hierdie waardes maak dat ons nie bang is om mekaar uit te daag nie. Baie paartjies is bang om mekaar uit te daag, maar as jy dieselfde waardes deel, weet jy dat jy dieselfde doel het.”
Dereck kan nie help om sy vrou met ‘n leeuwyfie te vergelyk nie. “Daar’s net ‘n sekere vonkel in ‘n leeu se oog wat jou laat verstaan sy is spesiaal. Daardie vonkel… dis wat Beverly het,” sê Dereck.
Toe die Jouberts besluit om The Last Lions te verfilm, was dit ‘n uitdaging om op ‘n storielyn te besluit. “Ons ken die leeus van die trop so goed, en is lief vir elkeen. Maar een wyfie het ons aandag getrek. Sy was heeltyd op die kantlyn. Sodra dit gebeur, moet ‘n leeu ongewone uitdagings oorkom, soos dat sy al die jagwerk alleen moet doen. Die soort eise en uitdagings maak ‘n goeie storie,” se Beverly. “Ons het haar ‘Ma di Tau’ gedoop: Moeder van leeus.”
“Ma di Tau het daardie ‘vonkel’ in haar oog gehad,” voeg Dereck by.
“Gewoonlik is leeus sosiale diere,” vertel Beverly, “maar Ma di Tau was altyd alleen. In ‘n sekere sin word ‘n parallel tussen haar en menslike enkelma’s getrek. Mense wat reeds die fliek gesien het, het so ‘n spesiale konneksie met die leeuwyfie gevorm dat hulle vergeet het hulle kyk na die storie van ‘n leeu. Hulle sien ‘n individu wat alles alleen moet doen. Hulle sien haar struggles. Feministe sien dit weer as die ‘mag van die vrou’. Die meeste mense het baie empatie met haar verknorsing en dit lei weer tot empatie met leeus in die algemeen. En dit is wat ons, veral nou, nodig het,” sê Beverly. “En onthou maar om snesies saam te neem as jy die fliek gaan kyk.”
Maar wat gaan ‘n fliek doen om die leeus te red?
“Sonder kennis kan geen mens enigiets regkry nie,” sê Dereck. “Ons wil mense bewus maak van wat aan die gebeur is. Met kennis kan mense – gewone mense – groepe op sosiale media vorm, petisies opstel, briewe aan die koerante en selfs die minister skryf, deelneem aan gesprekke op radio. Ons moet ‘n storm veroorsaak. Ons kan nie van mense in ander lande verwag om te begryp wat dit sal wees as Afrika sy leeus verloor nie. Die mense van Afrika moet die ding stop.”
“Ditto,” voeg Beverly by. “Die sielkundige Carl Jung het eenkeer gesê Afrika is nog die enigste vasteland met siel omdat die wilde diere nog vrylik kan rondbeweeg. Maar ek is bevrees ons moet nou optree, anders gaan dié siel ook sterf.”
Beverly sê die groot roofdiere is uiters belangrik vir Afrika se ekonomie. “Dis die ‘wilde plekke’ wat Afrika nog voed. As jy die diere uit die prentjie haal, sal Afrika tot tagtig persent van sy toerisme verloor.”
Maar, voeg sy by, roofdiere moenie slegs om ekonomiese redes beskerm word nie, want dit alleen kan nie gesond en volhoubaar wees nie. “Ons moet hulle beskerm vir wie hulle is. Ons is almal deel van die planeet, die skepping, en ons moet mekaar beskerm.”
Hulle verfilm nou al dertig jaar lank wilde diere in Botswana. “Ons het in die vroeë jare tagtig op Botswana verlief geraak en voer al langer as dertig jaar ‘n nomadiese bestaan tussen Botswana en Johannesburg, waar ons hoofsaaklik kom redigeer, en ander dele van Afrika,” sê Dereck.
Leef die twee werklik maande lank in ‘n tent?
“Ja, ons het drie tente,” sê Dereck, en tel op sy vingers af. “Een vir slaap, een vir ‘n kombuis, en een ‘kantoor’ waar ons onder meer redigeerwerk doen.”
Beplanning vir die maande in die bos moet haarfyn gedoen word, want hulle is minstens tien uur se ry van die beskawing af. Hulle vlieg alle toerusting en voorraad met hul klein Cessna in en brandstof word per trok afgelewer.
“Ons moet sorg dat ons gesond bly,” sê Beverly. “Ons eet so vars en gesond moontlik. Ons druk ons liggame deur uiterste toestande en baie lang ure in die veld – twaalf tot agtien uur per dag. Ons moet gesond en fiks wees.”
“Groen” is hul leuse. Hulle gebruik son-energie, geen chemikalieë nie en water word self gepomp. “Ons waardeer elke druppel water wat ons gebruik, want ons weet waar dit vandaan kom,” sê Beverly.
Sou daar iets met hulle gebeur, kan hulle die GPS-koördinate per satelliettelefoon stuur en hulp ontbied. “Ek het goeie bande met ‘n helikoptervlieënier wat ons enige tyd kan uitvlieg, sou ons in nood verkeer,” sê Dereck.
Ongelukkig is daar nie pleisters vir emosionele skaafplekke nie. “Ons voel dikwels eerder emosioneel as liggaamlik gedreineer. Dit gebeur dat ons ‘n dier leer ken en verstaan en dat sy doodgaan, of ons sien ‘n welpie met ‘n besering en weet hy gaan dit nie maak nie,” sê Beverly. “Ander kere moet ons toekyk hoe leeus ‘n pasgebore buffelkalfie verskeur. Mense wys soms vingers en vra hoekom ons nie ingryp nie? Maar hoe kan ons ingryp? Dis die natuur, en ons is net buitestanders.”
Skerpioene het Dereck al so twintig keer gesteek, hy het ‘n slangbyt of wat oorleef en olifante het hulle al vier keer rondgestamp. Dereck sê hulle probeer om nie in sulke situasies te beland nie, maar “soms beland jy daarin sonder dat jy mooi weet hoe. Ons beleid is dat wilde diere al vir 3,5 miljoen jaar doen wat hulle nou doen. Ons mag dit nie veroordeel nie, en ons mag nie inmeng nie”.
Hy vertel van ‘n leeuwelpie wat op ‘n dag verdwaal het. Die dingetjie, ‘n paar weke oud, het vyf dae lank agter hul voertuig aangeloop terwyl hulle ‘n dokumentêr verfilm het. “Ons het vir mekaar gevra of ons hom moet optel en ‘red’, of los dat die natuur sy gang gaan.”
Hulle het besluit om die welpie te los. Op die vyfde dag het hy vroeg die oggend ‘n trop leeus in die verte hoor roep. “Daar was nog dou op die gras en dit was koud en bewolk. Die dingetjie het elf kilometer ver gehardloop en ja, sy eie trop gekry. Het ons hom opgetel, was hy nou in ‘n dieretuin iewers en het hy ‘n miserabele lewe gelei.”
Hoe verwerk hulle sulke emosie? “Die beste is om dit nie te ‘verwerk’ nie,” sê Dereck. “Sodra jy jou van jou eie emosies distansieer, word jy koud en hard. Dit verander jou persoonlikheid. Ons dilemma is dat ons graag wil hê die mense wat na ons rolprente kyk, moet dieselfde emosionele stormrit beleef as ons toe ons die rolprent gemaak het. As ons nie meer emosie kan toon teenoor die diere en hul situasie nie, gaan ons werk kunsmatig word. Dit gaan betekenisloos wees.
“Sodra jy op ‘n enkele dier begin fokus, hoe angstiger word jy as sy in gevaar is, hoe harder huil jy vir haar verlies,” sê Dereck.
Soos die dag toe Ma di Tau ‘n uitputtende maar suksesvolle jagtog onderneem het en haar welpies wou gaan voed. Ongelukkig het die buffels die spoor en reuk van die leeutjies vertrap, en sy het ure lank angstig na hulle gesoek. Uiteindelik was daar een flou antwoord op haar roep.
Dereck en Beverly het haar so stil moontlik gevolg om die gelukkige weersiens te verfilm. Tot hulle skok het hulle gesien die buffels het in hul rondtrappery die oorblywende welpie se rug gebreek. Ma di Tau het haar oë stadig geknip. Sy het meer as een keer weggeloop van die welpie af, net om terug te draai wanneer hy haar weer roep. Uiteindelik het sy ‘n laaste keer weggestap. Die welpie se lyfie was stil.
In Afrika is daar ‘n algemene antwoord op die vraag “Hoe gaan dit?” : “Ai. Ons kry swaar, maar wat kan ons doen?”
“Dié presiese gevoel was daardie dag so duidelik in Ma di Tau se oë te bespeur,” sê Beverly.
So word die leeus bedreig
- Mens-roofdier konflik oor dieseifde hulpbronne, kos en water. Die mens vernietig leeus se natuurlike habitat wanneer die veld vir landboudoeleindes ontbos word.
- Wildstropers roei heel eerste die “gevaar” (roofdiere) uit om by gorillas, sjimpansees en vleis uit te kom.
- ‘n Dooie kat is meer as ‘n lewende kat werd. Die velle en ander liggaamsdele van leeus, luiperds en jagluiperds word wêreldwyd vir duisende rande verkoop.
- Ses honderd jagpermitte word nog jaarliks uitgereik.
- Die geloof in sommige wêrelddele, veral Asië, dat gemaalde leeubene jou bomenslik gesond hou.
So kan jy help
- Gaan kuier op http://movies.nationalgeographic.com/movies/last-lions/, klik op The Last Lions-voorskouknoppie. Sodra jy die voorskou kyk, word $0,10 aan die Big Cats Initiative geskenk. (Jy klik, en hulle betaal.)
- Skakel in op die Facebook-groep Cause an Uproar om jou stem te laat hoor.
- Gaan kyk die rolprent sodra dit in Suid-Afrika uitgereik word.
- Skryf briewe aan die nasionale media om jou stem te laat hoor.
- Vorm groepe op sosiale media wat oor die situasie gesels en op die hoogte van verwikkelinge bly.
- Stel ‘n petisie op om soveel moontlik mense se aandag op die krisis te vestig, en stuur dit aan die minister van water en omgewingsake.
Besoek ook hierdie webwerwe vir nuus:
www.wildlifeconservationfilms.com
www.thelastlions.com
www.greatplainsconservation.com
www.nationalgeographic.com/bigcats
The Last Lions begin in September in Suid-Afrika wys. Hou die pers (en webwerf) dop vir datums.
|
Intekening. Teken in op Rooi RoseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n Geskenk Intekening aan ‘n VriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Nuutste Uitgawe van Rooi RoseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van Rooi Rose is. |