Die geheim van ‘n lang lewe
Woorde: Ilse Salzwedel. Artikel uit die April 2015 uitgawe van Rooi Rose Tydskrif.
Wat is die geheim vir ‘n lang lewe? Nuwe navorsing bewys dis so eenvoudig soos om te voel jou lewe het nog sin en jy maak steeds ‘n verskil. Boonop wys die gesondheidsvoordele van ‘n sinvolle lewe op enige ouderdom.
Toe Marge Jetton in 2011 in ‘n ouetehuis in Kalifornie dood is, was sy 106 jaar oud en huldeblyke het van oral ingestroom. Marge was immers ‘n gereelde gas op Amerikaanse televisieprogramme, onder andere as 103-jarige op die Oprah Winfrey Show. Nie dat sy op Oprah se bank gesit en klets het nie – inteendeel, die insetsel het gegaan oor haar daaglikse oefenprogram en vrywilIigerswerk.
Die op en wakker Marge het elke dag ‘n paar kilometer op ‘n oefenfiets gery en daarna ‘n paar minute met haar 2,5 kg-gewigte geoefen voordat sy as vrywilliger iewers haar deel gaan doen het. “Solank as wat ek nog hier is, kan ek netsowel ‘n verskil maak,” het sy op 104 in ‘n onderhoud gese.
Mense wat ‘n groter wil het om te bly lewe en vir hulself ‘n lewensdoelwit kry, is gesonder en leef langer.
Marge was een van ‘n paar dosyn mense ouer as honderd wat aan ‘n studie van die Loma Linda-universiteit in Kalifornie deelgeneem het. Die navorsingsresultate het getoon dat lede van die Sewendedag Adventistekerk gemiddeld tien jaar ouer word as ander Amerikaners in dieselfde omgewing. Hoewel hulle bekend is vir hul gesonde eetgewoontes – Marge het die afgelope vyftig jaar nooit rooivleis geeet en geen alkohol gebruik nie – het navorsers besef daar steek iets meer agter hierdie langslewendheid as net omgewingsfaktore en eetgewoontes. Drie faktore is geidentifiseer: hulle is almal aktiewe vrywilligers, het ‘n sterk gemeenskapsbetrokkenheid en onderhou die Sabbat as ‘n rusdag.
Marge het haar hoë ouderdom toegeskryf aan haar geloof en aan die feit dat sy geglo het sy kan ‘n verskil maak, ouderdom ten spyt. Sy het ook deelgeneem aan die Blue Zones-navorsingsprojek waarin die skrywer Dan Buettner probeer bepaal het wat die gemene deler onder mense ouer as honderd is.
Marge, ‘n opgeleide verpleegster, en haar man, James, ‘n mediese dokter, se hele lewe getuig van gemeenskapsbetrokkenheid. Hulle het onder meer as vrywilligers in die Tweede Wereldoorlog ‘n gemeenskapskliniek en later ‘n hospitaal op hul dorp begin en ook as mediese sendingwerkers in lande soos Zambië en Ethiopië gewerk. Selfs na hul aftrede was die twee steeds aktief by hul gemeenskap betrokke. Marge het onder meer by die mediese biblioteek van die universiteit en by haar kerk se radiostasie gewerk en bejaardes in hospitale besoek.
Hulle was 77 jaar getroud toe sy James een oggend dood op die badkamervloer aantref. Hy het gegly en geval. Marge was toe 99 jaar oud. Sy het ‘n paar maande lank gerou en toe weer as vrywilliger begin werk.
“Ek het besef die wereld gaan nie na my toe kom nie, so ek het teruggegaan na die wereld toe. Ek het weer met my ou vriende kontak gemaak en groot bevrediging daaruit geput om my gemeenskap te help. Ek veronderstel ‘n mens kan sê ek het my ‘lewensdoel-batterye’ ‘n bietjie herlaai.”
Marge is nie al een wat glo dat jy langer leef as jy ‘n lewens doelwit het en dit uitleef nie. Verskeie navorsingsverslae het dit ook die afgelope paar jaar bewys. In 2005 het studiebevindings onder 12 640 middeljarige Hongare getoon dat daar ‘n laer voorkoms van kanker en hartsiektes was onder die wat gevoel het hul lewe het nog betekenis. Buettner se Blue Zones-navorsingsprojek in Okinawa, Costa Rica, Sardinie en Loma Linda, Kalifornie, was gemik op mense ouer as honderd. Hy het besef die meeste van die mense wat aan die projek deelgeneem het, het gevoel hulle het nog soggens ‘n rede om op te staan, want hul lewe het steeds ‘n doel gehad.
Hierdie begrip is nie nuut nie. Viktor Frankl het reeds in sy bekende Man’s Search for Meaning (1946) geskryf dat mede-gevangenes wat gevoel het hul lewe het nie meer n doel nie, daarna makliker siek geword en gou gesterf het. Frankl het geskryf dat mense wat ‘n groter wil het om te bly lewe, vir hulself ‘n lewensdoelwit kry, gesonder is en langer leef. Die lewensdoel, het hy geskryf, was meer as die blote gejaag na geluk. ‘n Lewens-doel is daardie iets waarvoor jy jou daagliks dwing om op te staan. Dit kan ‘n mens of ‘n troeteldier wees, of jou werk, of ‘n gemeen- skap wat jou unieke vaardighede nodig het. Marge het byvoorbeeld siekes besoek en selfs ‘n ander minderbevoorregte bejaarde gehelp om plastiekbottels bymekaar te maak wat sy later aan ‘n herwinningsaanleg kon verkoop. “Natuurlik voel ek soms eensaam, maar vir my is dit altyd ‘n teken dat ek moet opstaan en iemand gaan help,” het sy op 104 nog vir Buettner vertel.
Prof. Harold Koenig van die departement psigiatrie aan die Duke-universiteit in Amerika het ook navorsing oor die onderwerp gedoen. “Mense wat voel hul lewe is deel van ‘n groter plan en deur hul geestelike waardes gelei word, het sterker immuunstelsels, laer bloeddruk, ‘n laer risiko om hartaanvalle of kanker te kry, word makliker gesond en leef langer,” meen hy.
Navorsers aan die Rush-universiteit in die VSA het ook bevind dat mense met ‘n lewensdoel minder geneig is om Alzheimersiekte te ontwikkel.
Dr. Patrick Hill van die Carleton-universiteit in Kanada het verlede November gesê hul jongste navorsing wys dat dit jou kan help om langer te leef as jy nie net doelloos deur die lewe gaan nie, maar ‘n bepaalde rigtingvolg en vir jou doelwitte stel. Dus, kry ‘n lewendoelwit, en word gesonder ouer. Wat Hill en sy medenavorser se bevindings nog interessanter maak is dat dit die eerste studie was waarin ‘n doelgerigte lewe geïsoleer is van ander faktore (soos sielkundige en sosiale invloede, aftrede en sosiale status) wat ‘n invloed op ouderdom en gesondheid kan hê. Dit het mense tussen die ouderdom van 20 en 75 ingesluit en is oor ‘n tydperk van 14 jaar gedoen. Nege persent van die oorspronklike deelnemers het gesterf. Onder die oorblvwendes was die wat gevoel het hul lewe het ‘n doel, gesonder en het ouer geword as die negatiewer deelnemers.
“Dis ‘n bewys dat ‘n lewensdoel jou help om langer te leef,” se Hill. “Maak nie saak hoe oud jy is wanneer jy jou lewensdoel identifiseer nie, dit het ‘n kragtige uitwerking.”
Dis selfs deur ‘n biochemikus, prof. Elizabeth Blackburn, bewys dat ons chromosome gesonder bly as ons ‘n sinvolle lewe probeer lei. Haar werk oor die verband tussen emosionele stres en veroudering is in 2009 met die Nobelprys bekroon.
Navorsers is nog onseker oor hoe presies ‘n lewensdoel ‘n mens se lewensverwagting beinvloed, maar sê dis moontlik dat sulke mense meer gereeld fisiek oefen of dat hul gesondheid baat vind by die gereelde bereiking van sekere klein doelwitte.
Die bekende Deepak Chopra, mediese dokter en skrywer van spirituele boeke oor die verhouding tussen jou brein en jou liggaam, sê dat ‘n lewensdoel vreugde en vervulling gee wat tot lewensgeluk lei. ‘n Gelukkiger mens is ook ‘n gesonder mens.
In ‘n gesamentlike studie van die University College of London en die Amerikaanse universiteite van Princeton en Stony Brook waarin 9 000 Britte met ‘n gemiddelde ouderdom van 65 bestudeer is, is daar bevind dat mense wat nog plesier in die lewe ervaar, ‘n 30% kleiner kans het om te sterf as iemand van dieselfde ouderdom wat ongelukkig is met sy/haar iewe.
Geloof en goeie gesondheid
Dis ‘n onderwerp waaroor daar meer as 2 200 studies gedoen is, aldus Koenig. Hoewel daar nog nie ‘n betroubare manier is om dit te meet nie, wys navorsing dat mense wat minstens vier maal per maand ‘n plek van aanbidding besoek, minder geneig is om depressief of chronies gespanne te wees. Hulle sal ook nie sommer iets gevaarliks doen nie. Gelowiges, verduidelik Koenig, glo dat om in God te glo, reeds betekenis aan die lewe gee en dat God ‘n doel en spesiale plan vir ons elkeen het.
Wat is jou lewensdoel?
Ongelukkig weet ons nie almal wat ons lewensdoel is nie, maar daar is maniere wat kan help om dit te bepaal.
Bestekopname: Maak ‘n lys van jou talente, waardes en passies en kies die sterkste een in elke kategorie. Deepak Chopra sê hy laat sy kliente drie vrae vra: “Hoe voel ek wanneer ek iets wonderliks beleef? Wat is my unieke talente? En as ek al die tyd en geld in die wereld gehad het, hoe sou ek my talente gebruik het om die mensdom te help?” Daarna laat hy hulle mediteer. Hy glo jou onderbewussyn sal die antwoord gee.
Hou ‘n joernaal: As jy meer prakties van aard is, is ‘n joernaal dalk net die ding. Dr. Gregory Plotnikoff van die Abbott Northwestern’s Institute for Health and Healing in Minneapolis, sê ‘n joernaal help veral na ‘n radikale verandering in jou lewe, soos aftrede, dood, of wanneer jy skielik met ‘n leë nes sit.
“As jy kan sien hoe hierdie gebeurtenis jou groter lewensplan raak, is jy al ‘n treetjie nader aan die doel daarvan, en ook aan jou eie lewensdoel,” verduidelik hy. Skryf minstens 30 min. per dag oor hierdie gebeure en hoe dit jou laat voel. “‘n Mens moet eers die patrone van jou lewe vind en verstaan voor jy jou lewensdoel verstaan. As jy die eerste hoofstukke van jou lewe verstaan, sal jy soveel makliker skryf aan die volgende hoofstukke. Ons almal wil deel van ‘n groter storie wees.”
Waar word jy benodig? “Hay gentepara todo” is ‘n Mexikaanse gesegde wat beteken dat daar mense vir alles is. “Stel vas waar is jy nodig en dra by wat jy kan,” is die raad van Dr. Susan Biali, lewensafrigter en skrywer van die boek 7 Steps to a Healthier, Happier, More Passionate You.
Wat sal jy graag wil doen, self’s al word jy nie daarvoor betaal nie? Dis jou roeping, jou lewensdoel. Ongelukkig verdien ‘n mens jou salaris dikwels op ‘n manier wat niks met jou passie of lewensdoel te doen het nie.
Waarmee is jy, volgens ander mense, baie goed? Sê mense byvoorbeeld jy laat hulle soveel beter voel na hulle met jou gepraat het? Dalk is jou lewensdoel om eensame mense te besoek of ‘n kursus in berading te volg.
Wat is die een ding wat jy nog wil doen of ervaar voor jy doodgaan sodat jy op jou sterfbed kan sê jy is spyt oor niks nie? Dit hoef nie groot goed te wees nie – selfs net om ‘n mooi tuin te hê waarin jy soggens die voeltjies voer, kan sin aan jou daaglikse lewe gee. Dit kan enigiets wees, maar jy moet jou vaardighede gebruik en die werk moet ‘n bietjie inspanning verg. Eers dan is dit ‘n sinvolle aktiwiteit.
As jy eers jou lewensdoel geidentifiseer het, hou die proses uitdagend. Mihaly Csikszentmihalyi, ‘n Amerikaanse sielkundige, sê ons put bevrediging uit aktiwiteite waarin ons ‘n vaardigheid aanleer wat ons uitdaag en wat voortdurende terugvoer verskaf. Hy vergelyk dit met bergklim. “Bergklimmers se doelwit is om bo te kom, maar dis nie dieselfde as hul lewensdoel nie. Regte bergklimmers stel nie soseer belang in die piek nie, maar in die uitdaging wat elke tree inhou. Dit hou hulle gefokus. ” Dit hou hulle gefokus.”Jy moet elke paar tree kan terugkyk en sien jy het nou ‘n bietjie hoër teen jou persoonlike berg uitgeklim. Voortdurende kleiner doelwitte langs die pad gee jou langtermynvisie en hou jou op kort termyn gemotiveerd, meen kenners.
Dis wat topatlete, sakeleiers en uitskieters op alle gebiede van ander onderskei. Om ‘n kleiner mylpaal te bereik help dat ons nie depressief word en alles as een lang” gesukkel beskou nie. Om ‘n doelwit te bereik is bevredigend en goed vir jou selfvertroue.
Stel Aftrede Uit
Selfs al het jy nie die wonderlikste werk op aarde nie, kan dit vir jou genoeg rede wees om aan te hou leef, se dr. Robert Butler, direkteur van die National Institute on Aging in die VSA en skrywer van The Longevity Revolution: The Benefits and Challenges of Living a Long Life (Public Affairs, 2008). “Deur te voel jy bereik nog iets, en deur ‘n inkomste te verdien, kan jy voel jou lewe het sin,” verduidelik hy. Jou werk sorg ook vir broodnodige sosiale kontak.
‘n Studie wat byna 17 000 Grieke se lewe oor ‘n tydperk van 12 jaar gevolg het, het ook getoon dat 51% meer mense gesterf het uit die groep wat op aftree-ouderdom afgetree het. Die wat gekies het om aan te hou werk, het ouer geword. Ander navorsing het sedertdien bevestig dat mense wat vroeer aftree, ‘n twee maal groter kans het om binne tien jaar na aftrede te sterf as kollegas van dieselfde ouderdom wat kies om aan te hou werk. Dis regdeur jou lewe belangrik om ‘n doel te hê, maar dis veral belangrik na aftrede omdat jou werk, wat vir bevrediging en samesyn gesorg het, nou tot die verlede behoort.
|
Intekening. Teken in op rooi roseAs jy hierdie artikel geniet het, en graag meer wil lees oor mode, dekor, skoonheid en styl, hoekom teken jy nie in op hierdie wonderlike tydskrif nie? Gee ‘n geskenk intekening aan ‘n vriendinAan die uitkyk vir ‘n geskenk vir iemand wat dol is oor die nuutste styl wenke en onthaal idees? Laat hulle hierdie uitstekende tydskrif van jou ontvang elke maand. Jongste uitgawe van rooi roseSien wat in die nuutste opwindende uitgawe van rooi rose is. |