Wildernis en Hoekwil se grondeienaars word Touw-wys gemaak
“Namate meer mense na die gewilde Tuinroete verhuis, is daar toenemend druk op dié ekologies-sensitiewe omgewing,” sê Cobus Meiring van die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief oftewel SCLI (Southern Cape Landowners Initiative).
Hy sê daar is steeds ‘n skerp toename in aansoeke vir ontbossing vir die doel om nuwe huise en paaie in die Tuinroete te bou.
Binne hierdie konteks is oorblywende areas, wat ongeskonde is en geskik is vir bewaring, toenemend van belang vir die bewaring van biodiversiteit. Meiring beklemtoon dat gebiede wat tans oortrek is met indringerplantegroei so doeltreffend moontlik gerehabiliteer moet word na ‘n natuurlike staat ten einde biodiversiteit te bevorder.
“Grondeienaars in die Wildernis- en Hoekwil-gebiede het almal ‘n verantwoordelikheid om die unieke omgewing waarin hulle bly ten beste te bestuur en in die proses ‘n bydra te maak tot die bewaring van die area,” sê Meiring.
Die Touw- en die Kaaimansriviere is in ‘n strategiese wateropvangsgebied geleë en is ‘n bron van vars water vir die gemeenskappe van Wildernis, Touwsranten and Hoekwil.
Albei dié riviere het hulle oorsprong in die Outeniquaberge. Die opvangsgebiede word gesamentlik deur onder meer Kaapse Natuurbewaring (CapeNature), die Department van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) asook SANParke bestuur.
Die gebiede of landskappe tussen die riviermondings en die oorsprong van die Touw- en Kaaimansriviere is hoofsaaklik in privaatbesit en hierdie landskappe is dikwels ‘n bron van kommer vanuit ‘n bewaringsoogpunt.
“In die Wildernishoogte en in die Hoekwil-landskap is verskeie plase en rivierlope oortrek van indringerplantegroei. Dié indringers het ‘n beduidende negatiewe impak op die welstand van die Touw- en Kaaimansriviere, en bring ‘n daadwerklike verlies aan habitat en biodiversiteit mee,” aldus Meiring.
“Gegewe die ekologies-sensitiewe areas ter sprake, het die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief begin met ‘n proses om grondeienaars by te staan in hulle pogings om die area vanuit ‘n omgewingsoogpunt beter te bestuur en in dié proses die riviere te help om te dien as bewaringskorridors.”
As deel van die SCLI/TMF Cape Floristic Corridor Revival-projek word grondeienaars in spesifieke areas in die Touw- en Kaaimansriviere geïdentifiseer om deur SCLI bygestaan te word met die ontwikkeling en optrek van bestuursplanne vir indringerplantegroei. Die planne word onder meer geskoei op breedvoerige navorsing en studies oor die voorkoms van indringerplante in die betrokke areas en rivierlandskappe.
“Bestuursplanne is ‘n goeie basis en ‘n sinvolle vertrekpunt vir grondeienaars om die indringerplantegroei in hulle area te bestuur,” sê Meiring.
“Veral na die onlangse brande in die Outeniqua- en Knysna-areas is daar toenemend druk vanaf die owerhede op grondeienaars om verantwoordelikheid te neem vir indringerplante wat op grond voorkom, en dit te doen in nakoming van die onderskeie wette wat van toepassing is. In die wetgewende konteks is die bestuursplanne vir indringeplante van onskatbare waarde, want omgewingsbeamptes dring daarop aan dat grondeienaars, wie se eiendom geaffekteer word deur indringerplantegroei, planne aan die Departement van Omgewingsake moet voorlê,” verduidelik Meiring.
Grondeienaars sal geïdentifiseer word in die areas wat van belang is, in samewerking met SANParke en/of ander bewaringsorganisasies, en sal tipies aanliggend wees tot bewaringsareas wat reeds bestuur word as buffersones.
Die proses wat SCLI volg het ook ‘n sterk kommunikasie- en inligtingskomponent. Die SCLI-webwerf word deurentyd aangevul met inligting om grondeienaars in te lig oor metodes om indringerplantegroei te bestuur, die aanwending van onkruiddoders en voorbeelde van indringerplante-bestuursplanne om grondeienaars te help om hulle eie planne op te trek.
** Die Suid-Kaap Grondeienaarsinisiatief (SCLI) is ‘n openbare platform en dinkskrum vir grondeienaars, grondbestuurders en ander belangegroepe ten einde indringerplante, waterbron-rentmeesterskap en grond as ‘n natuurlike hulpbron te bevorder en te bestuur. SCLI word ondersteun deur die Tafelbergfonds, ‘n filiaal van die Wêreldnatuurfonds van Suid-Afrika (WWF SA). SCLI is ook betrokke by die nuutgestigte Tuinroete-omgewingsforum (GREF). Dié forum bevorder samewerking ten opsigte van bewaring, die aanpasbaarheid van omgewings en gemeenskapsinteraksie met die doel om omgewingsbestuur meer geïntegreerd en doeltreffend te maak.