Voetspore in Hoekwil
Laat reisverhale jou voete jeuk en jou hart verlang na vreemde plekke? En hou jy van kamp?
Dan moet jy seker maak jy is by wanneer Stefan Sonnekus, kameraman en fotograaf van die gewilde TV- reeks, Voetspore, op Hoekwil kom kuier.
Sonnekus het ingestem om op Vrydag 8 Junie foto’s te kom wys en van sy avonture te vertel om Laerskool Hoekwil‚ ‘n piepklein skooltjie op die bult bokant Wildernis, te help om fondse in te samel.
“Ons is baie opgewonde oor Stefan se besoek en baie dankbaar dat hy vir ons kom kuier,” vertel skoolhoof Herman du Plessis. “Ons het maar 135 kinders in die skool. Staatssubsidies vir skole raak al kleiner en die kinders se behoeftes al meer. Dis lekker as mens ‘n inkomste kan genereer op ‘n manier wat die hele gesin betrek en besoekers buite die gewone ouer-poel opgewonde kan maak. Mense bel van oor die berg en anderkant Mosselbaai om te kom luister.”
Om die aand nog meer aanloklik te maak, is daar kampvure, lekker kos en uitstallers van kamp- en 4 x 4-produkte, bybehore en boeke. “Die idee is dat manne net gou na werk hul werkklere gaan uittrek, vrou en kinders oplaai en dan vroeg-vroeg kom ‘kamp’ saam met ons,” sê Du Plessis.
“Bring jou kamp-eetstel, sopbord en koffiebeker en jou piekniekkombers of kampstoele en iets om te drink. Ons verskaf vuur en musiek en goeie geselskap. Ons waarborg dat jy van alle werkstres ontslae gaan raak en heerlik gaan kuier. Onthou om ouma en oupa ook in te pak!”.
Bespreek vroeg – daar is ‘n beperkte aantal kaartjies. Dit is R60 vir volwassenes en R20 vir laerskoolkinders. Kinders onder 6 mag gratis inkom. Die kaartjie sluit in toegang tot die uitstallings, ‘n glasie Bonnievale Cape Ruby Port, sop en broodjies na hartelus, ‘n skyfievertoning en vertelling, ‘n soetigheidjie en ‘n lekker koppie kampkoffie.
Die kos en vure sal van 18:00 reg wees en die skyfievertoning begin 18:45 – daar gaan gekuier word tot laat.
Besprekings by Laerskool Hoekwil by 044 850 1079 (soggens), of gaan koop jou kaartjie by South Cape Flowers in Knysnaweg, BuildIt in Sedgefield of by die Village Shop in Hoekwil.