Andre koning van die heuwel
Die afgelope naweek het die jaarlikse Simola Hillclimb vir groot aksie in Knysna gesorg. Dit was ook die eerste keer in 30 jaar dat ‘n motorsportbyeenkoms direk op nasionale TV uitgesaai is. SABC 3 het al die aksie gedek.
Die Hillclimb het Vrydag met die historiese heuwelren begin. Sowat 60 ou motors het die heuwel in verskillende klasse aangevat. Vrydag se koning van die historiese heuwel was Franco Scribante met sy Suzuki-aangedrewe Chevron B26 in ‘n blitstyd van 39,943 sek oor 1,9 km.
Saterdag en Sondag het 80 motors, insluitend Porsche’s, Nissan GTR’s, BMW’s, Ford’s, Toyota’s en Lamborghini’s meegeding vir die titel as koning van die heuwel. Wat ‘n skouspel was dit nie om te sien hoe renjaers die karre deur daai draaie jaag sonder ‘n tikkie vrees. Sommer gou was die padoppervlak swart van die bande se rubber.
Ek en die ander fotograwe het in ongeloof toegekyk hoe Page Linderberg sy tamaai Ford Ranger bakkie deur die draaie gegooi het.
Fotogalery: Simola Hillclimb het vir groot aksie in Knysna gesorg
Deur die loop van Saterdag is ‘n paar oefenlopies gehou waar die patroon reeds sigbaar was en ons kon sien wie die manne en dames was om dop te hou. Ja, die vroue was daar en het heelwat mans op hulle neuse laat kyk.
Sondag het die kwalifiseringrondes in alle erns begin.
André Bezuidenhout in sy doelgeboude heuwelrenmotor, ‘n Gould met ‘n McLaren-geboude enjin, was die man om te klop. Die Gould lyk soos ‘n formula 1-motor, maar is spesiaal in Engeland gebou vir heuwelrenne.
Sondag laatmiddag is die eindrondes afgehandel.
André Bezuidenhout het ‘n puik oorwinning in die enkelsitplekklas behaal met ‘n rekordtyd van 34,969 sekondes op die 1,9 km-roete, en ‘n topspoed van 195 km/h.
In die tweede plek was Robert Wolk met ‘n tyd van 37,205 met sy A1 GP Ferrari. Om die Gould te klop sal iemand ‘n moderne Formula 1-renmotor moet inbring vir 2022.
Die gemodifiseerde motorklas is skitterend gewen deur Pieter Zeelie in sy Toyota Mr2 met ‘n tyd van 40,402 sek. Tweede was Franco Scribante met ‘n tyd van 40,522 sek in sy Nissan GTR.
Die derde plek is ingeneem deur Charl Arangies in sy vinnige Lamborghini Huracan Gt3 EVO. Sy tyd was 41,081 sek.
Die pad- en superkar-afdeling is deur JP van der Walt in sy Porsche GT3 RS gewen in 45,858 sek.
Tweede was Gorden Nicholson in ‘n Audi R8 V10 in 47,127 sek. Derde was Reghard Roets in sy vinnige Mini John Cooper Works in 48,564 sek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete | Hessequa | Karoo nuus’