Stormsee eis drawwer in hawe
Vier mense van Hermanus het hul eie lewe in gevaar gestel om ‘n onbekende man uit die stormsee te probeer red nadat hy verlede Vrydag vermoeidelik deur ‘n brander van die hawemuur afgeslaan is.
Na meer as ‘n uur se noodbehandeling is die 52-jarige man egter op die toneel in die Nuwe Hawe dood verklaar.
Gerard Waterwitch het twee weke per maand vir ‘n sekuriteitsmaatskappy op Hermanus gewerk wat die afdeling visserye van die department van landbou, bosbou en visserye bystaan, en die ander twee weke per maand het hy by sy gesin in Athlone deurgebring. Hy het Vrydagoggend, 24 Junie, gaan draf en met die hawemuur langs gehardloop.
Met die koue fronte wat verlede week die Overstrand geteister het, was die see stormagtig en die hek wat toegang tot die hawemuur verbied, het die vorige nag tydens ‘n storm oopgebreek. Daar word vermoed Waterwitch het aangeneem dit is veilig om op die muur te draf aangesien die hek oop was.
Daar was geen ooggetuies wat gesien het presies wat hierna op die muur gebeur het nie maar omstanders het die volgende oomblik vir Waterwitch in die water aan die binnekant van die hawe muur gesien. Hy is vermoeidelik deur massiewe branders wat oor die hawe muur gebreek het afgeslaan.
Eric Nyobangosoma, Masiza Mdyogolo en Sam Zivanayi van Southern Right Sea Charters het in ‘n klein houtbootjie wat vasgemeer was, gespring en die rowwe water trotseer om Waterwitch te probeer red.
“Hy was onder die water en ons het heeltyd in sirkels gevaar tot hy skielik weer opgekom het. Ons het sy arms gegryp en hom in die boot gelaai en na die muur gery waar die bote vasgeanker is,” het Zivanayi vertel.
Ash Appleby ook van Southen Right Charters en nog ‘n ander man van ‘n naby geleë onderneming het dadelik met mond-tot-mond asemhaling begin.
Intussen is die polisie en ambulans ontbied.

Foto: Janine van der Riet, Hermanus Times
“Die drenkeling het ‘n swak polsslag gehad toe ek by hom kom en daar was skuim om sy mond,” het Appleby gesê. Hulle het tesame met die NSRI Hermanus mediese personeel en personeel van Metro EMS wat later by die toneel opgedaag het, meer as ‘n uur probeer om Waterwitch te red, maar hy is later op die toneel dood verklaar.
Waterwitch se vrou, Althea, is eers Saterdagoggend oor haar man se dood ingelig. Familie het eers laat weet hy word vermis nadat hy nie vir sy skof opgedaag het nie, maar ‘n rukkie later het hulle bevestig dat dit inderdaad sy liggaam is wat gevind is.
Althea het gesê sy is nog te geskok om die werklike omvang van sy dood te besef. Die hartseertyding het ook nog nie by hul kinders, ‘n seun van 20 en ‘n dogter van 11 ingesink nie.
Behalwe vir sy vrou en kinders, laat Waterwitch ook vyf susters agter. Hy was die jongste en enigste seun.
Hy word Saterdagoggend om 09:00 vanuit die Rooms Katolieke Kerk in Athlone te ruste gelê.
Die NSRI op Hermanus doen ‘n beroep op inwoners en toeriste om ekstra versigtig te wees, veral gedurende die wintermaande wanneer die see gevaarlik is weens groot deinings.