Senior burgers het huppel in hul stap
Ora Laubscher Napier se senior burgers wat nog jonk van gees het, het die lente met n huppel in hul stap verwelkom.
“Ons ouer mense is so waardevol vir ons hele gemeenskap – vir die jongmense en vir die kinders,” het Ina Olivier-Georgala, wat ‘n lentedagboodskap namens die Carebuddy-span gebring het, gese.
Sedert Kindersorg SA Napier se Emmanuel-bejaardesentrum se klub in Volhoustraat gedurende die grendeltyd afgebrand is, het Napier se senior burgers nie meer ‘n weeklikse bymekaarkomplek nie. ‘n Groep van 10 senior burgers het Woensdag 8 September weer soos van ouds op die terrein van die Elpida-stigting se hoofkwartier bymekaargekom, en hiermee is ‘n splinternuwe era ingelui. Die volgende dag spesiaal vir senior burgers is reeds op die kalender afgemerk en is vasgemaak vir more (Woensdag 22 September).
Die oggend se program het gesellig begin met ‘n verwelkoming waarna Caroline October saam met die jongspan van Elpida voortgegaan het met ‘n oefensessie op die maat van musiek.
Die geleentheid is afgesluit met ‘n gesellige ete om ‘n keurig gedekte lang tafel, wat Elpida in samewerking met n span plaaslike vroue – die Sopsusters – voorgesit het. Ina Olivier-Georgala het later die oggend as verteenwoordiger van hierdie groep vroue by die verrigtinge aangesluit met ‘n spesiale Care buddy-lenteboodskap vir die seniors burgers wat teenwoordig was.