Robbe by Kleineiland
ʼn Kolonie van robbe is sedert die begin van Desember by Kleineiland, net verby Die Gang, opgemerk.
Daar is om en by 80 robbe getel, maar vele meer kan nog agter die rotse wegkruip en in die water baljaar. Dit is ʼn asemrowende belewenes om die hele kolonie saam te sien.
Jong robbe en hulle ouer garde lê saam op die rotse en bak. Die meer avontuurlustiges swem in die rowwe golwe wat om die eiland breek.
Verskeie toeriste en plaaslike inwoners van Hermanus stop op die wandelpaadjie om hierdie ongelooflike gesig te aanskou.
Kommer word wel uitgespreek dat die teenwoordiheid van die robbe witdoodhaaie sal lok.
ʼn Jare lange inwoner van Hermanus het wel gevra hoekom die robbe hul tuiste nou op Kleineiland geskep het. Dit is die eerste keer dat sy dit opgemerk het.
Nietemin, Hermanus het nou ook sy eie Robbe Eiland en hul toertjies sal jou beslis beïndruk.
Bron: Whale Coast FM Monitor