Dankie vir die fees!
Aan al die organiseerders, helpers, werkers, Annemarie Rautenbach wat haar voete afgehardloop het om almal op hul plekke te kry in sale/opvoerings en om hul selfone af te skakel – LW nie op silent nie – ‘n baie groot dankie vir ‘n wonderlike fees wat aangebied is.
Hierdie jaar was daar vir almal iets om van te kies – van boekbesprekings tot kaal tieties (dit sien ek toe eers later op die program raak, anders het ek vir my man ‘n plek bespreek), tot Bye aan Aunt Grieta van haar seun Jaypee, ons eie nostalgiese Laurika asook die nimlike Romanz. Dan is daar nog al die ander wonderlike kunstenaars/optredes wat ek nie eers noem nie, maar slegs die room van ons land se kunstenaars was hierdie jaar verteenwoordig en nie waar nie, hier op ons voorstoep!
In die verlede het ons afgeskeep gevoel, moes ons oor die berg ry, oorslaap of in die nag terug ry om ‘n goeie show by te woon. Wel hierdie jaar het julle dit vir ons gedoen, en wat ‘n sukses.
Behalwe vir die goeie kunstenaars en optredes was alles ook baie goed georganiseer met elkeen op sy plek en alles het baie vinnig gevloei.
Net een klagte, want sien, ons hier in Hermanus moet mos altyd kla oor iets (LOL) – die naweek was te kort! Ons kon nie alles bywoon nie, maar asseblief, moet nou nie hieroor die program korter maak nie.
Baie, baie dankie aan almal wat voor en agter die skerms gewerk het om hierdie een so groot sukses te maak vir ons in Hermanus. Ons sien uit na 2012 se kalfiefees.
Emmarentia
Source: Hermanus Times