Jeug in Krisis
Die onlangse tragedie van die 22-jarige Ian Burger van Kleinmond, het die aandag op die verskynsel van selfmoord in die Overberg gerig.
Statistiek uit Wikipedia wys dat Suid Afrika 23ste uit ‘n lys van 107 lande vir die hoogste selfmoord-syfer in die wêreld is. Die nasionale gemiddelde vir Suid Afrika was 25.3 mans en 5.6 vrouens vir elke 100 000 landsburgers.
Die eerste Suid Afrikaanse Nasionale Jeug Risiko-gedrag oorsig vir 2002 rapporteer dat gedurende die vorige ses maande (van 2002) ‘n kwart van die leerders (25%) gevoelens van ongelukkigheid en hopeloosheid ervaar, 19% het selfmoord oorweeg en 17% het selfmoordpogings uitgevoer; 28% van die wat selfmoord oorweeg het, het behandeling vereis.
Die Monitor het met ‘n plaaslike kliniese sielkundige, Toekie Oberholzer, die verskynsel van selfmoord bespreek en versoek dat sy uit haar ervaring haar bevindings oor hierdie tragiese verskynsel meedeel. “Dit is van kardinale belang dat mense deurlopend ‘n gevoel van hegtheid met familie en die gemeenskap moet hê” sê Oberholzer. “Die belangrikste risiko-faktor is ‘n belewing van onbetrokkenheid, isolasie en die afwesigheid van ondersteuning.”
Oberholzer beklemtoon verder die rol van die gesin en familie om ‘n omgewing te skep waar mense kan praat oor hulle probleme. “Maar, dié wat gevoelens van onbetrokkenheid en isolasie beleef, het took die verantwoordelikheid om na ander uit te reik,” sê Oberholzer.
‘n Ander faktor in Suid Afrika blyk die matriekeksamen te wees. Stresvlakke voor die matriekeksamen is baie hoog en dit kan bydra tot selfmoordpogings by jeugdiges. Ander stresverwante omstandighede wat met tiener-selfmoord verbind word is ‘n dissiplinêre krisis of gevoelens van sosiale ontoereikenheid soos verwerping deur vriende, ‘n onsuksesvolle intieme verhouding of onsuksesvolle werk.Dikwels het tieners wat selfmoord gedagtes het ‘n nabye vriend of famielielid wat selfmoord gepleeg het.
Een van die organisasies wat by hierdie saak betrokke is, is die Heilsleër. “Die algemene siening is dat dit net ‘n problem van jeugdiges is, maar ouer mense is net so betrokke as gevolg van faktore soos depressie en eensaamheid,” sê Kaptein Piet Semeno, die Heilsleër se sekretaris vir openbare verhoudings. “In sommige gevalle kan dreigemente om selfmoord te pleeg geïnterpreteer word as ‘n vorm van manipulasie,” sê Kaptein Semeno. “Dit is egter belangrik om sulke dreigemente ernstig te beskou en om dan vas te stel wat die rede is sodat die nodige ondersteuning en bystand gegee kan word.”
Op 7 Februarie het ‘n jong moeder met haar twee kinders in haar arms op die spoor voor ‘n aankomende trein naby die Eersterivierstasie gestaan. Die klein familietjie is onmiddellik uitgewis. Dit word beweer dat die jong moeder ‘n week tevore gedreig het om haar kinders dood te maak en dan selfmoord te pleeg. Skokkende insidente soos hierdie beklemtoon die nood aan groter betrokkenheid en ondersteuning in ons gemeenskappe.
Die Suid Afrikaanse Depressie en Angs Groep (South African Depression and Anxiety Group – SADG) beman die enigste tolvrye nommer in die land (0800 567 567) en die enigste tiener selfmoord voorkomingsprogram in skole.
Bron: Whale Coast FM