Inwoners van Paradisepark in Hermanus moet huise ontruim
“Is Overstrand werklik daar vir almal?”
Dít is die vraag op Paradisepark-inwoners se lippe nadat die hof verlede week finaal beveel het om met die uitsettings van erf 927 te begin.
Verslae inwoners het op ’n koue wintersoggend op 6 Junie, toe die kwik op 9 °C gestaan het, gehoor hoe Magna Business Services hulle in kennis gestel het dat die uitsettingsproses gaan plaasvind.
Later moes hulle toekyk hoe die Rooimiere hul eens rustige buurt binnekom – gewapen – en hulle soos “skurke” laat voel.
Diegene wat hul eiendom vrywillig sal verlaat, het kans gekry om dit teen 10 Junie per e-pos aan te dui, en dan sal hulle tot 24 Junie gegun word om hul persoonlike besittings op te pak en te verhuis.
Geen ander heenkome
Volgens Tracey Henn, ’n gemeenskapsaktivis en self ’n inwoner van Paradisepark, het die meeste inwoners geen ander heenkome nie. Behuising is ’n groot probleem in die Overstrand-munisipale gebied, en die ongeveer 300 inwoners van Paradisepark is behoorlik platgeslaan.
“Ons het ná die vorige raadsvergadering, waar die burgemeester belowe het dat hulle sal onderhandel om die grond te koop, gehoop hierdie nagmerrie sal verby wees, maar nou lyk dit my ons is in die middel daarvan,” het ’n inwoner vertel.
Nog ’n inwoner sê sy woon al 40 jaar in Paradisepark en noem dit haar eie. “Ek het die huis wettig gebou met bouplanne wat deur die destydse munisipaliteit goedgekeur is. Waarheen dan nou?”
Henn sê die meeste inwoners van Paradisepark is ouer as 65 en afhanklik van Sassa-toelae. Volgens haar is die teenwoordigheid van die Rooimiere ook ’n probleem en voel die inwoners geïntimideer. Een van die inwoners vertel van ’n kind wat by haar onderwyseres moes gaan bly aangesien sy nagmerries kry oor die manne met wapens wat hul eens rustige buurt nou steur.
“Ek het vanoggend (14 Junie) baie vroeg drie skote gehoor,” het nog ’n inwoner vertel.
Maandag 10 Junie het die inwoners van Paradisepark tesame met die president van die ACC, Masizole Mnqasela, ’n vreedsame optog na die Overstrand-munisipaliteit gehou om ’n memorandum oor die toekoms van Paradisepark en dienslewering aan die burgemeester, dr. Annelie Rabie, te oorhandig.
Volgens Mnqasela was dit vir hom skokkend om te sien dat Rabie letterlik haar rug op die Paradisepark-inwoners gedraai en nie die memorandum aanvaar het nie aangesien dit van ’n politieke party is en nie van die inwoners nie.
Nie politiek nie
“Vir ons gaan dit nie oor politiek nie. Ek het my al destyds, toe ek nog ’n DA-lid was, beywer om ’n toekoms vir die Paradisepark-inwoners daar te stel. Tertuis Simmers en ’n voormalige premier van die Wes-Kaap, Helen Zille, het ook die inwoners van Paradisepark gerusgestel,” het Mnqasela gesê.
Volgens hom was hulle baie positief oor die hele proses aangesien Rabie haar tydens ’n raadsvergadering op 27 Maart verbind het om aandag te skenk aan die koop van Paradisepark vir die inwoners.
Hermanus Times het ’n afskrif van ’n brief wat Rabie op 31 Januarie aan die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning, Anton Bredell, gerig het. In die brief stel sy dit duidelik dat sy nie by die destydse onderhandelinge tussen Zille, Simmers, Mnqasela en die inwoners van Paradisepark betrokke was nie. “As skrywer was ek nie betrokke by die beweerde beloftes van onteiening met redelike vergoeding nie en daarom rig ek formeel die versoek aan u,” lui die brief.
Tydens Vrydag (14 Junie) se vreedsame optog het die organiseerders daarop aangedring om ’n memorandum aan die burgemeester te oorhandig. Rabie het by monde van munisipale wetstoepassers laat weet die verteenwoordiger van Paradisepark kan haar kom sien en die memorandum aan haar oorhandig. Die pers is nie by die oorhandiging toegelaat nie aangesien dit glo ’n “geslote vergadering” was.
“Ons gaan nie ophou veg vir dit wat reg is nie. Dis ons reg om hier te bly – dít wat sy vir Schulphoek se inwoners gedoen het, kan sy vir ons ook doen,” het ’n inwoner gesê.
Mnqasela het ook bevestig die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die Menseregtekommissie is bewus van die aangeleentheid en het belowe dat hulle aandag daaraan sal gee.
Rabie het wel erken sy het die memorandum ontvang: “Daar word kennis geneem van die inhoud van die memorandum en ek ontken dit ten sterkste. Ek sal ’n afskrif ontvang, maar sal nie daarop reageer nie.”