Hupstoot vir Huishoudelike Lasbestuursprojek in Overstrand
Bykomende installeringspanne gaan oor die volgende twee weke in Overstrand ontplooi word in ‘n poging om die gesamentlike Huishoudelike Lasbestuursprojek van Eskom en die Munisipaliteit Overstrand ‘n stewige hupstoot te gee.
Dié projek vorm deel van Eskom se oorhoofse strategie om die vraag na elektrisiteit beter te bestuur en behels dat in bepaalde huise ‘n toestel geinstalleer word wat met seine geaktiveer kan word om warmwatersilinder gedurende spitstye af en aan te skakel.
Op ‘n perskonferensie verlede Dinsdag in Hermanus het verteenwoordigers van die munisipaliteit en die oorhoofse kontrakteur Powertech IST verslag gedoen oor die vordering met die projek, wat reeds in Maart vanjaar afgeskop het,
Volgens mnr Deon Louw, adjunk-direkteur van elektrotegniese dienste van die munisipaliteit, is sowat die helfte van die 6400 eenhede wat vir die eerste fase van die projek toegeken is, al geïnstalleer.
Daar is egter twee struikelblokke wat die doeltreffendheid kan benadeel: ‘n toenemende aantal mense weier dat die toestel geïnstalleer word en dan is daar talle vakansiehuise waartoe die installeerders nie kan toegang kry nie. Dit laat groot gapings in die kommunikasienetwerk oftewel die “wolk” soos dit in algemene omgangstaal bekend staan en die seine kan nie behoorlik versprei en gemoniteer word nie.
Die rede vir weierings is dat mense besorg is dat dit hul eie besparingspogings in die wiele sal ry en ook omdat sommige mense besorg is oor gesondheidsgevare wat met uitstralings verband hou. Louw sê die inwoners se eie aan en afskakelmeganismes kan saam met die toestel gebruik word, terwyl die uitstraling wat ter sprake is, tien keer minder is as dié van ‘n selfoon.
Daar is twee opsies vir die munisipaliteit om dié probleme te oorbrug: hy kan hom of op artikel 59(2) van sy Verordening op Elektrisiteitsvoorsiening beroep, wat ‘n boete van R1000 of tronkstraf of albei kan oplê vir oortredings van die verordening of sy tarief vir aanvraagbestuur van R57.00 (insluitende BTW) per maand hef op mense wat weier dat die eenheid geïnstalleer word.
Daar is op die tweede opsie besluit en briewe sal nog vandeesmaand aan die betrokke persone gestuur word. Indien ‘n eienaar besluit om die installering van die eenheid toe te laat, sal die tarief gekanselleer word.
Louw het daarop gewys dat die stelsel al by twee geleenthede gebruik is toe daar noodsituasies met die voorsiening van krag ontstaan het. In albei gevalle kon Overstrand sy bydrae lewer selfs al is die projek nog nie voltooi nie en kon ‘n kragonderbreking verhinder word. Geen klagtes oor koue water is ondervind nie.
Mnr Gerard van der Merwe van Powertech IST het gesê installeerders sal van soortgelyke projekte op Stellenbosch en Drakenstein na Overstrand gebring word om in die vakansietyd soveel as moontlik van die geïdentifiseerde huiseienaars te bereik. Installasies sal tot 20 Desember gedoen word en weer op 7 Januarie hervat word. Die projek behoort teen einde Mei aanstaande jaar afgehandel te wees.
Bron: Overstrand Munisipaliteit