Hotel spog met nuwe spyskaart
Dit is nie aldag wanneer ‘n tophotel na sy veganiste kyk nie.
Die Marine-hotel in Hermanus vier World Vegan-maand in November met splinternuwe geregte spesiaal vir veganiste. Die sjef, Rudi Blaauw, het self die spyskaart saamgestel.
As deel van die Liz McGrath Collection, is die Marine-hotel een van Suid-Afrika se mees skouspelagtige hotelle met die mooiste see-uitsig.
1 November word wêreldwyd erken as Wêreldveganiste dag om die stigting van die Vegan-vereniging in 1944 te vier. Aan die begin was dit ‘n vreemde woord, maar vandag, 70 jaar later, het sjefs van oor die wêreld heen kreatiewe spyskaarte, spesiaal vir veganiste, ontwerp. Die gesondheidsvoordele van veganiste het ook daartoe gelei dat al hoe meer restaurante geregte vir veganiste het.
Volgens Rudi fokus hy op die gehalte van die bestanddele wat hy gebruik om sy geregte so kreatief as moontlik te maak. Rudi was voorheen die sjef by die bekende Indochine-restaurant in die Kaapse Wynlande en was ook die uitvoerende sjef by Ellerman House in Kaapstad.
Oor die nuwe spyskaart spesiaal vir veganiste is Rudi baie opgewonde. “Daar is byvoorbeeld ‘n blomkoolbiefstuk met gekruide swart lensies en keker-ertjies of ‘n baba-beetslaai met appel, okkerneute, vinkel ens. As hoofgereg kan gaste kies tussen graanrisotto, artishokgratin, spanasie, patat ens. Daar is genoeg om van te kies en te keur,” vertel Rudie trots.
Die hotel nooi al die smulpape uit om die geregte te kom uitprobeer.