Die jeug is ons land se toekoms en wanneer hulle eendag as p
Die jeug is ons land se toekoms en wanneer hulle eendag as politieke leiers oorneem, moet hulle die mees basiese voorwaarde vir vrede in ons land nastreef en koester, naamlik eenheid in ons diversiteit en volhoubare wyses om dit te bereik.
Hierdie gedagte wat gegrond is op ‘n uitlating van die voormalige president, mnr Nelson Mandela, is deur Burgemeester Nicolette Botha-Guthrie gebruik in haar boodskap by die inhuldiging van die negende Junior Raad op Maandag, 29 Oktober, in die Overstrand-burgersentrum op Hermanus.
Sy het voorts gesê sy ervaar ‘n gevoel van verkwikking en entoesiasme wanneer sy die geesdrif en lewenslus van die lede van Overstrand se Junior Raad aanskou. Tydens die inhuldiging van die negende junior raad het verskeie van die uitgaande en inkomende lede op eie versoek musiekitems gelewer en kort toesprake gelewer.
Volgens me Guthrie-Botha is die beste manier om ons jeug vir die toekoms te bou, om leierskapontwikkeling te bevorder. Die ouer geslag is nie in staat om alles vooruit te sien en planne te maak nie. In tye van krisis en van verandering moet die leiers van die oomblik vorentoe tree, die rigting bepaal, die samewerking van ander verkry en hulle motiveer en aanspoor om die nodige aanpassings te doen en oplossings te vind.
Die diversiteit van ons gemeenskap vorm deel van die Overstrand se strategie om die jeug vir toekomstige leiersrolle op te lei, het die Burgemeester gesê en hulle aangemoedig om oor die grense van kultuur, taal en ras uit te reik.
Daar moet daarna gestreef word om ‘n sterk nuwe nasie te vestig op ‘n stewige fondasie van goeie morele waardes, soos respek, betroubaarheid, verantwoordelikheid, regverdigheid, omgee en goeie burgerskap.
Dit gaan nie ‘n maklike pad wees om te volg nie, maar dit is die regte een om die nodige vrede en samewerking te skep om vir ons land met sy ryk diversiteit ‘n mooi en voorspoedige toekoms te gee.
Sy het haar dank teenoor die Enlighten Education Trust betuig vir ‘n puik vennootskap met die uitvoering van hierdie taak.
Mev Botha-Guthrie het die uittredende bestuurder van die Junior Raad, mnr Theo de Wet gehuldig vir sy harde werk die afgelope nege jaar om die liggaam tot een van die bestes in die Wes-Kaap uit te bou.
Sy het teenoor die lede van die Junior Raad onderneem om vir hulle die steun te gee wat hulle nodig het om van die geleentheid ‘n sukses te maak. Daar moet egter onthou word dat die voordeel wat hulle daaruit kan put, gaan afhang van hul bereidwilligheid om ten volle die geleentheid te benut. “Ek is oortuig daarvan dat julle jul beste gaan lewer,” het die Burgemeester gesê.
Die Junior Raad bestaan vanjaar uit 35 lede, wat uit ses skole kom en so ver as moontlik verteenwoordigend van Overstrand se geografiese gebied en gemeenskappe is.
Bron: Whale Coast Media