Aba “Groen” Elektrisiteit
Op 25 Januarie, tydens ‘n openbare vergadering in die munisipale ouditorium, het Abagold sy Wave Energy Project (Golfenergieprojek), bekend gestel.
Hierdie projek, waarvan die omgewingsimpak tans beraam word, beloof om ‘n bron van goedkoop energie te wees. Weens die energiekrisis wat Suid-Afrka tans beleef, is Eskom besig om die prys van energie nou en vir die toekoms dramaties te verhoog ten einde die bou van nuwe kragstasies landswyd te befonds. Volgens Eskom sal die prys van krag vir 2012/2013 gemiddeld met 25.9% styg. Die prys van krag het tydens die vorige 2 jare met 24.8% en 25.8% respektiewelik gestyg. HIerdie prysstygings maak dit vir maatskappye soos Abagold moeilik om in die wêreldmarkte mee te ding. Abagold het tans sowat 330 werknemers, hoofsaaklik afkomstig uit Zwelihle en Mount Pleasant.
Hierdie werksgeleenthede is van kritiese belang vir die plaaslike ekonomie en enige bedreiging vir die maatskappy bedreig die bestaan van talle in ons gemeenskap. Abagold is ten volle bewus van hierdie bedreiging en is besig met die beplanning en ontwikkeling van ‘n golfenergieprojek wat gebruik sal maak van die gratis energie wat seegolwe voorsien en dit omsit in elektrisiteit. Volgens dr. Pierre Hugo, direkteur van Abagold en projekbestuurder, kan die Golfenergieprojek elektrisiteit teen sowat 90c/Kwh voorsien vir die volgende 20 jaar. Die prys van Eskom-krag sal hierdie jaar toeneem tot gemiddeld 65c/Kwh en waarskynlik verdubbel binne die volgende 3 jaar.
Die Golfenergieprojek is uniek in Suid-Afrika.
“Ons ontwikkel hierdie projek nie net vir onsself nie, maar sal die tegnologie aan ander beskikbaar stel,” sê Hugo.
Die idee is dat hierdie fasiliteit ‘n model vir ander sal word. Die projek sal ook baie besoekers na die streek lok as deel van die Overstrand se eko-toerisme sektor. Die beginsel waarop die projek berus is baie eenvoudig. Seegolwe spoel oor ‘n muur en vul ‘n bufferdam met water. Die hoogte van die water in die dam is dus hoër as die hoogte van die see. Aan die onderkant van die dam is daar ‘n uitlaatbuis waardeur die water binne die hoëdruk-bufferdam terugvloei in die see in. Soos wat die water terugvloei in die see in, dryf dit ‘n groot-deursnit turbine aan, wat op sy beurt ‘n kragopwekker aandryf.
Die projek sal in twee fases ontwikkel word. Aanvanklik sal ‘n Demonstrasie Golfenergie-omsetter van 6110 m2 met ‘n uitset van 750 kW gebou word. Daarna sal ‘n groter omsetter van 6460 m2 met ‘n uitset van 3000 kW gebou word wat ‘n gesamentlike uitset van 3.75 mW sal verskaf. Selfs die groot “Very Low Head” turbines sal in die Overstrand gebou word. Hierdie turbines is van die “flow of the river” – tipe met ‘n lae rotasiespoed om die impak op die omgewing tot ‘n minimum te beperk. “Ons is verbind tot die Overstrand en sal seker maak dat hierdie projek in die Overstrand ontwerp, beplan en gebou word,” sê Hugo.
Die omgewingsimpakstudie is reeds geïnisieer en daar word voorsien dat hierdie proses aansienlike openbare deelname sal verg.
Aspekte wat reeds ondersoek is, sluit in:
- Visuele en klankimpak
- Ekologiese kwessies en belangrike
- Mariene ekosisteme
- Mariene soogdiere en ander spesies, insluitende voëls en die Southern Right walvis
- Die gevaar dat visse verstrik raak: visvriendelike turbines
- Voordelige gebruike en botsende belange
- Ontspanning, insluitend toerisme
- Gesondheids – en veiligheidsvoorsorgmaatreëls
- Mariene waterkultuur en belangrike visserye
- Stormskade
- Moontlike golfweerkatsingseffekte
Bron: Whale Coast FM