Kuns en Kultuur Gevier: Hermanus-Kalfiefees 2024
Hierdie geliefde fees het sy oorsprong in 2001 in Onrus, toe ‘n groep taal- en kunsliefhebbers besef het dat die Walvisfees meestal op Engelssprekendes gemik was. Anna Spaarwater, wat vir 18 jaar op die komitee gedien het, verduidelik dat die Kalfiefees die geesteskind van Niel le Roux en Cas van Rensburg is. “Die Kalfiefees speel ’n belangrike rol aan hierdie kant van die berg. Ons is ’n kunstefees met professionele opvoerings. Bekende akteurs soos Sandra Prinsloo, Frank Opperman, Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Laurika Rauch, Theuns Jordaan en vele meer het al hier opgetree,” het Spaarwater gesê.
Die fees het verlede jaar ‘n nuwe logo gekry, ontwerp deur die Oekraïense kunstenaar Kseniia Nel. Hierdie logo, met ‘n pragtige walvis en kalf, simboliseer die fees se noue verbintenis met die gemeenskap. Hester Finberg, die feesdirekteur, verduidelik dat die Kalfiefees ’n geregistreerde organisasie sonder winsbejag is wat gereeld teruggee aan die Hermanus-gemeenskap. “Ons missie is om Suid-Afrikaanse kunstalent te vier deur uiteenlopende produksies na die fees te bring en om kreatiwiteit in die gemeenskap te bevorder. Ons streef daarna om ’n unieke kulturele ervaring vir feesgangers te bied,” sê Finberg.
Agter elke suksesvolle man is daar gewoonlik ’n ystervrou wat die wiele aan die rol hou, en die Hermanus-Kalfiefees is geen uitsondering nie
Sy voeg by dat die fees nie net tot die dorp se ekonomiese groei bydra nie, maar ook betrokke is by liefdadigheidsprojekte. “Mense van regoor die land besoek die Kalfiefees, bly in gastehuise en eet by die talle restaurante in en om Hermanus. Dit is beslis ‘n finansiële inspuiting vir die dorp. Verder deel ons rugsakke en skryfbehoeftes uit aan minderbevoorregte kinders en bevorder ons kuns en kultuur in skole. Die Cave Theatre by die Ou Hawe-museum is ’n plek waar jong akteurs hul talent kan ontwikkel, en ons ondersteun hierdie inisiatief sedert 2023. Vanjaar gaan ‘n deel van die kaartjieverkope gebruik word om jong talent in ons dorp te ontwikkel. Ons neem ook produksies na Hawston en die Waldorf-skool sodat almal toegang tot die fees kan hê,” het Finberg gesê.
“Een van die hoogtepunte van ons gemeenskapsprojekte is dat ons dit vir plaaslike studente moontlik gemaak het om in professionele vertonings op te tree. Leerders van die Hoërskool Hermanus het aan die skool se eie produksie, Skroot, deelgeneem, en die Let us tell you . . .-produksie het plaaslike kinders ingesluit.”
Sy nooi almal uit om die Kalfiefees se Facebook-blad te besoek vir die feesprogram en nuus. Kaartjies is beskikbaar by Tixsa, die Kalfiefees-kantoor in die De Wet-saal en die munisipale biblioteek.
Event Details: KalfieFees Hermanus